Kompetisie-idees om jou onderneming te bemark

Instagram-bemarking is ’n kragtige hulpmiddel wanneer dit korrek ingespan word. Een van die beste maniere om ’n groter reikwydte te verseker en jou produk of diens wyer te bemark, is om Instagram-kompetisies te loods. Dié sewe doeltreffende kompetisies sal verseker dat jou onderneming die grootste hoeveelheid potensiële kliënte lok.

1.  “Hou van”- en “lewer kommentaar”-kompetisies

Dit is een van die algemeenste soort kompetisies wat op Instagram geloods word – en ook een van die maklikste om aan deel te neem. Dit is ook maklik om te moniteer en seker te maak dat die wenner inderdaad deelgeneem het. Loods jou kompetisie deur ’n foto van ’n produk of jou onderneming te plaas en te vra dat mense daarvan hou (“like”). Só word hulle dan outomaties vir die kompetisie ingeskryf. Indien jy wil, kan jy ook vra dat deelnemers op dié foto kommentaar lewer om interaksie te verhoog.

2.   Foto-onderskrifkompetisie

Met dié soort kompetisie vra jy jou volgelinge om met ’n onderskrif vir ’n foto vorendag te kom. Die beste onderskrif wen. Om die kompetisie te loods, moet jy ’n oulike of interessante foto op jou Instagram-blad plaas en volgelinge uitnooi om hul voorstel vir ’n onderskrif in hul kommentaar te los. Kies dan die oulikste byskrif.

3.   Merk-’n-vriend-kompetisie

Vra jou volgelinge om een van hul vriende te merk (“tag”) en verseker só dat jou produk of diens deur meer oë gesien word – veral van mense wat nog nooit van jou gehoor het nie. Elke persoon wat gemerk is, ontvang ’n kennisgewing en sien moontlik ook jou plasing. Indien hulle in jou diens of produk belangstel, kan jy moontlik nog ’n volgeling bykry. Dit kan vrugte oor die lang termyn afwerp.

4.   Vasvrakompetisie

’n Kennis- of vasvrakompetisie is ook doeltreffend om meer interaksies op jou plasings te bewerkstellig. Vra vrae oor enigiets wat met jou onderneming, dienste, produkte of handelsmerk te make het. ’n Reisagentskap kan byvoorbeeld vrae oor een van die bestemmings of reispakkette vra. ’n Voordeel van dié soort kompetisie is dat mense wat vooraf nie veel van jou onderneming weet nie moontlik deur jou sosialemediaprofiele en webtuiste sal soek vir die antwoord op jou vraag.

5.   Inhoudkompetisie

’n Goeie manier om interaksie met jou volgelinge te verseker en terselfdertyd inhoud te genereer, is om jou volgelinge te vra om foto’s of kort video’s te plaas. Dit help jou ook om inhoud te kry wat jy later weer self op jou Instagram-profiel kan plaas – maak net seker jy dui duidelik aan dat die inhoud wat deur dié kompetisie gegenereer word ook vir jou eie gebruik is. ’n Goeie voorbeeld is om jou volgelinge te vra om foto’s te plaas van hoe hulle jou produk gebruik. Dit laat ook ander potensiële kliënte sien dat jou produk deur ander betroubare bronne ondersteun word en nie net ‘n bemarkingsfoefie is nie.

6.   Instagram Stories-kompetisie

Jy kan ook gebruik maak van Instagram Stories om ’n kompetisie te loods wat vir 24 uur duur. Indien jy in ’n advertensie belangstel, kan jy ook gebruik maak van Instagram Stories se advertensies, wat vir langer as 24 uur duur.

7.   Skattejag

’n Skattejag kan ’n opwindende wyse wees om interaksie met volgelinge te verseker. Plaas leidrade op jou Instagram-profiel wat mense moet volg om die prys te vind – in die werklikheid of op jou aanlyn-blaaie. Dit is ’n unieke wyse waarop jy jou volgelinge kan betrek en meer besoeke aan jou aanlyn blaaie kan verseker.