Kriptogeld: Hoe beïnvloed dit jou besigheid?  

Dit is moeilik om kripto-geldeenhede soos Bitcoin te ignoreer, maar hoe word dit in Suid-Afrika gereguleer, moet jy betalings in Bitcoin of ander geldeenhede aanvaar en wat is die voordele?

PayFast, ’n Suid-Afrikaanse aanlyn betaalverskaffer, help al ’n geruime tyd aanlynwinkels om nie net debiet en kredietkaart betalings te aanvaar nie, maar ook Bitcoin. PayFast het vroeër vanjaar aangedui dat alhoewel meeste aanlynwinkels wat Bitcoin aanvaar, dit deur hulle platform doen, dit nie sonder probleme is nie. Kostes vir Bitcoin transaksies is aan die toeneem and bevestiging vir die finalisering van betalings vat deesdae langer. Dit kan soms ure vat wat daartoe lei dat die betaling kan verval. Geldeenhede soos Ethereum het al verbeterings aan hulle netwerk gebring om onmiddellike bevestiging van transaksies te gee en kostes laag te hou. Indien Bitcoin nie ooreenkomste kan bereik om sy netwerk kapasiteit te verbeter nie, sal hy sy mededingendheid teenoor ander geldeenhede verloor as ’n betaalmetode. Talle kenners reken dat weens Bitcoin se wisselvalligheid, dit ’n geldeenheid word wat eerder versamel word as spandeer word. Kenners reken Bitcoin Cash gaan Bitcoin versteek in polulariteit, juis omdat dit meer gefokus is om ’n betaalmedium te wees met vinniger transaksies en laer koste.

As jy ’n aanlynwinkel het moet jy elke stap neem wat jy kan om meer betalingsopsies te gee. Die voordeel van kripto-geldeenhede is dat jy natuurlik maklik internasionale betalings kan aanvaar. Kripto-geldeenhede beïnvloed nie net jou besigheid in terme van hoe jy betalings aanvaar nie, maar ook as jy self aankope wil maak of beleggings wil doen in kripto-geldeenhede.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het normale inkomstebelastingreëls op kripto-geldeenhede van toepassing gemaak. Die SAID verwag dat belastingbetalers hulle winste en verliese met kriptogeld as deel van hulle belasbare inkomste verklaar.

Dit is wys om enige beleggings wat jy in kriptogeld het met jou rekenmeester bespreek. Wanneer jy ’n wins maak op kriptogeld wat jy vir beleggingdoeleindes verkoop het, sal kapitaalwinsbelasting daarop van toepassing wees.  Indien dit deel is van die daaglikse aktiwiteite van jou besigheid sal net gewone inkomstebelasting geld. Die SAID sal verskeie faktore in ag neem, byvoorbeeld wat die doel was van die transaksie, die tydperk wat die belegging in kriptogeld was en hoe die belegging gefinansier is. Die gevaar ontstaan dat indien jy vir enige  rede geld met Bitcoin verloor weens onregmatigheid, gaan die Reserwebank nie noodwendig intree nie. Dit word op dieselde manier hanteer as geskenkbewysse of koeponstelsels, as die sisteem of netwerk veroorsaak dat jy jou geld verloor is daar min remedies tot jou beskikking. Dit beteken darem nie dat indien iemand doelbewus jou Bitcoin op ’n virtuele manier sou steel, dat jy geen opsies het nie. Dit sal steeds moontlik wees om ’n regsproses te volg soos wat jy sou doen as iemand jou geskenkbewys steel. ’n Ander voordeel is dat daar op die oomblik geen verpligting op ’n individu is om buitelandse betalings, wat in kriptogeld gemaak word, te rapporteer soos wat andersins nodig is nie. ’n Belegger kan in ’n kalenderjaar buitelandse betalings of beleggings maak van tot R4 miljoen sonder om die Reserwebank in kennis te stel.

Kriptogeld in Suid-Afrika gaan binnekort meer gereguleer word en die Reserwebank is reeds besig met toetslopies vir nuwe regulasies. Vir aanlynwinkels maak dit sin om kriptogeld te aanvaar, maar dis ook tyd om weier te kyk as net Bitcoin. Hou jou vinger op die pols en as jy jou besigheid spaargeld in kriptogeld belê, maak seker jou beleggingsportfolio is steeds divers genoeg.