Leef jou passie, verander jou gewoontes

Mense voel passievol oor verskeie dinge, of dit jou troeteldier, ’n stokperdjie of ’n lewenslange droom om jou eie onderneming te besit, is. Dit maak nie saak waaroor jy passievol is nie, dit is moontlik om jou drome in realiteit te verander en jou passie deel van jou daaglikse lewe te maak. As jy werklik jou drome wil volg, moet jy ’n doelbewuste besluit neem om nuwe gewoontes te vestig wat meer in lyn is met jou drome.

Begin klein

Om jou passie in jou daaglikse lewe te inkorporeer, beteken nie noodwendig om drastiese veranderinge te maak nie. Indien jy werklik jou passie wil volg, kan jy klein begin maar jy moet doelbewus besluit om dit in jou daaglikse skedule in te pas. Begin met een ding waaroor jy passievol is. Gestel dit is om te oefen maar jy is al die afgelope vyf jaar onaktief, begin dan deur daagliks ’n ent te gaan stap of eerder die trappe te klim as om die hysbak te gebruik. As naaldwerk jou passie is, kyk ’n YouTube-demonstrasie of soek ’n oulike patroon op Pinterest wat jy kan maak. As jy meer wil lees, maak tyd in jou skedule en lees tien bladsye ’n dag sodat jy by jou doelwit om een boek ’n maand te lees, kan uitkom. Dit hoef nie te beteken dat jy jou halsoorkop in iets moet begewe waarvan jy nie hou nie, maak dit eerder stelselmatig deel van jou daaglikse roetine. Só ’n verandering aan jou daaglikse roetine mag dalk nie aardskuddend wees nie, maar dit maak jou gereed om groter veranderinge te maak indien jy wil. Sodra jy eers een stap op die reis bemeester het, gaan jy gemotiveerd wees om groter uitdagings aan te pak.

Belyn jou passie met jou waardes

Die volgende stap is om seker te maak dat die passie wat jy nastreef met jou waardes en doelwitte ooreenstem. Indien dit nie ooreenstem nie gaan dit baie moeilik wees om jou passie uit te leef. As jou een passie byvoorbeeld oefening is maar jy wil ook graag tyd saam met jou familie deurbring, moet jy kyk of jy nie die twee bymekaar kan bring nie. Jy en jou familie kan dalk weekliks saam vyf kilometer hardloop. Indien jou passie nie met jou waardes en doelwitte ooreenkom nie sal hulle teen mekaar werk. Iewers gaan jy dan jou passie afskeep of minder gemotiveerd voel omdat jy nie jou doelwitte behaal nie. Doen moeite om te bepaal hoe jy hulle met mekaar kan belyn om seker te maak jy vervul beide behoeftes.

Maak ’n groter plan

Sodra jou waardes en jou passie belyn is, kan jy beplan hoe om dit verder te neem. Jou naaldwerkstokperdjie ontwikkel dalk so goed dat jy dit op ’n veel groter skaal kan doen. Jy kan moontlik selfs ’n besigheid begin. Beplan hoe jy dit kan doen, stel doelwitte en uitkomste met spesifieke sperdatums en hou daarby. Gestel jy wil genoeg voorraad maak om by ’n mark te verkoop, besluit op ’n datum wanneer dit voltooi moet wees, bespreek solank jou stalletjie by die mark vooruit en werk daagliks daaraan om dit te bereik. Deur op só wyse op jou passie te fokus, kan jy verseker dat jou passie ’n daadwerklike moontlikheid kan word en moontlik nog ’n bron van inkomste of selfs ’n volwaardige onderneming kan word.