Likwidasie van maatskappye

Deur Danielle van Heerden

Gedurende die COVID-19-pandemie en staat van inperking vra al hoe meer besigheidseienaars hulle af of dit nie in die huidige ekonomiese klimaat beter sal wees om hul besighede vrywillig te likwideer nie. Voordat jy hierdie opsie oorweeg, is dit belangrik om te weet wat die likwidasieproses behels sodat jy ‘n ingeligte besluit kan neem.

Likwidasie is ‘n prosedure waardeur ‘n maatskappy se bates verkoop word ten einde sy skuld te betaal. Al die geld wat oorbly, word ingevolge hul regte onder die maatskappy se lede (aandeelhouers) verdeel. Sowel insolvente as solvente maatskappye kan onder sekere omstandighede gelikwideer word. Nadat die likwidasieproses afgehandel is, teken die Registrateur van Maatskappye aan dat die maatskappy ontbind het en word ‘n kennisgewing te dien effekte gepubliseer. Dan hou die maatskappy op om te bestaan.

Metodes van likwidasie

‘n Maatskappy kan op twee maniere gelikwideer word: deur die hof of vrywillig.

Likwidasie deur die hof (soms “verpligte likwidasie” genoem) word deur ‘n aansoek by die hof geïnisieer. So ‘n aansoek word gewoonlik deur ‘n skuldeiser gebring en begin op die tydstip van die voorlegging van die aansoek aan die hof.

‘n Vrywillige likwidasie kan óf deur skuldeisers óf vrywillig deur lede geïnisieer word. In beide gevalle neem die proses ‘n aanvang nadat die lede van die maatskappy ‘n spesiale besluit geneem het om te likwideer en dit by die Registrateur van Maatskappye geregistreer het.

Vrywillige likwidasie

Slegs ‘n Suid-Afrikaanse maatskappy (nie buitelandse maatskappye nie) kan vrywillig gelikwideer word as die lede van daardie maatskappy ‘n spesiale besluit te dien effekte neem. Vrywillige likwidasie kan slegs deur lede geïnisieer word as die maatskappy sy skulde ten volle kan betaal. Lede kan om verskeie redes besluit om ‘n maatskappy vrywillig te likwideer, byvoorbeeld as die doel waarvoor die maatskappy opgerig is, bereik is, of as die lede wat die maatskappy bestuur nie meer op vriendskaplike voet verkeer nie.

Vrywillige likwidasie deur skuldeisers vind plaas indien die maatskappy nie sy skulde kan betaal nie. Dié prosedure kom ooreen met ‘n likwidasie deur die hof.

Gevolge van likwidasie

Likwidasie bring ‘n concursus creditorum (samekoms van krediteure) tot stand wat daarop gemik is om te verseker dat die maatskappy se goed ingesamel en volgens die voorgeskrewe rangorde verdeel word. Die direkteure se bevoegdhede kom tot ‘n einde en die Meester neem beheer van die maatskappy se bates oor totdat ‘n voorlopige likwidateur aangestel word. Die maatskappy mag nie sy besigheid voortsit nie, behalwe in soverre dit vir die voordelige likwidasie daarvan nodig is. Sodra ‘n likwidasiebevel gegee is of ‘n spesiale besluit om vrywillig te likwideer geregistreer is, word alle siviele regstappe deur of teen die maatskappy opgeskort totdat ‘n likwidateur aangestel is.

Kontak gerus ons span deskundiges vir enige navrae of ‘n konsultasie.