Mag werknemers uit vrees vir Covid-19 van die werksplek wegbly?

Deur Inge Labuschagne

Ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid is ‘n werkgewer verplig om ‘n gesonde en veilige werksplek te verseker. Hierdie wet maak egter nie voorsiening daarvoor dat werknemers sonder toestemming van die werksplek kan wegbly indien daar redelike gronde is om te glo dat dit onveilig is nie.

Die wet bepaal wel dat die betrokke werknemers die onveilige of ongesonde omstandighede aan die werkgewer of die gesondheids- en veiligheidsverteenwoordiger in die werksplek moet rapporteer. Indien die onveilige omstandighede nie binne ‘n redelike tyd verwyder of verbeter word nie, mag werknemers van die werkplek wegbly. In so ‘n geval sal die werkgewer steeds verplig wees om salarisse te betaal aan werknemers wat nie meer in die werksplek is nie.

Wat gebeur indien ‘n werkgewer aan al die gesondheids- en veiligheidsregulasies voldoen en al die nodige beskermende toerusting aan werknemers voorsien om hulle in die werksplek teen Covid-19 te beskerm? Sal dit dan redelik of rasioneel van werknemers wees om van die werkplek weg te bly? Is hierdie situasie oop vir uitbuiting deur vakbonde en werknemers?

Werknemers mag slegs van die werksplek wegbly indien daar geldige gronde bestaan om so ‘n stap te regverdig. Een so ‘n rede is dat ‘n kollega positief getoets is vir Covid-19. Dit is egter ons mening dat werknemers nie geldige gronde het om van die werksplek weg te bly nie mits die werkgewer aan al die veiligheidsvereistes voldoen, die werksplek ontsmet, volhou met die neem van temperatuur en daagliks risiko-analises doen.

Ons beveel die volgende aan om seker te maak dat werknemers nie hierdie reël van ‘n gesonde en veilige werksplek misbruik nie:

  1. Sorg dat daar ‘n gesondheids- en veiligheidsbeleid in plek is.
  2. Maak ‘n betroubare personeellid verantwoordelik om te sorg dat daar aan die beleid voldoen word.
  3. Neem elke dag elke personeellid se temperatuur wanneer hy/sy by die werksplek aankom en dit verlaat, en teken dit aan.
  4. Laat werknemers weekliks vraelyste invul om vas te stel of enige van hulle in kontak was met Covid-19.
  5. Laat werknemers gereeld hande was.
  6. Voorsien werknemers van beskermende toerusting soos maskers en handontsmettingsmiddels.
  7. Laat werknemers hulle tafels gereeld ontsmet.
  8. Laat alle besoekers ‘n register en vraelys invul wanneer hulle die werksplek besoek, neem hulle temperatuur en skryf dit in die register neer.
  9. Doen weeklikse risiko-analises om seker te maak die werksplek is veilig.

Indien u nie so ‘n beleid in plek het nie, kontak ons gerus sodat ons die nodige dokumentasie aan u kan voorsien.