Maniere om jou werknemers se produktiwiteit te verhoog

Enige besigheidseienaar weet dit is belangrik dat jou onderneming optimaal funksioneer om die hoogste moontlike winste te verseker. Deur te verseker dat jou onderneming sy optimale produktiwiteit bereik, verseker jy ook die beste moontlike kans vir oorlewing – veral wanneer dit moeilik gaan. Die produktiwiteit van jou werknemers is belangrik vir jou onderneming se uitset. Hier is ’n paar maniere hoe jy kan verseker dat jou werknemers optimaal werk.

1) Verbeter die welstand van werknemers

Wanneer jy die woord “produktief” hoor, is die eerste aanname dat dit oor sisteme en organisasie gaan. Dit is deels waar maar andersins is dit ook nodig om seker te maak dat jou werknemers tot die beste van hul vermoë presteer, en dit kan jy doen deur na hulle welstand om te sien. Gelukkige werknemers is altyd meer produktief. Wanneer jou werknemers ongelukkig is of voel dat hulle nie in ag geneem word nie sal hul minder effektief wees. Hulle gaan net doen wat van hulle verwag word, en nie gemaklik voel om self inisiatief te neem nie.

2) Verminder vergaderings

Kenners reken dat sowat twee derdes van vergaderings onnodig is en dus werknemers se tyd mors. Maatskappye soos Asana het byvoorbeeld ’n beleid dat hulle glad nie vergaderings op Woensdae hou nie. Dit gee werknemers die geleentheid om ’n hele dag aan die take te kan werk wat hulle moet afhandel. Vergaderings wat ’n doel dien, is natuurlik belangrik maar dit kan ook maklik ontaard in ’n informele kuiersessie. Maak dus seker dat jou vergaderings werklik nodig en doelgerig is.

3) Laat buigbare skedules toe

Verskillende mense is op verskillende tye produktief en tradisionele werksure neem dit nie noodwendig in ag nie. Jy kan jou uitset verhoog deur jou werknemers toe te laat om nie noodwendig agt aaneenlopende ure per dag te werk nie. Jy kan dalk toelaat dat werknemers eerder vir twee blokke van vier ure werk en dan kan hul tussendeur na die gimnasium gaan of hulle kinders gaan oplaai. Deur die dag in twee te deel, gaan jou werknemers vars wees vir die tweede sessie van hulle werkdag. Jy kan ook oorweeg – indien die aard van jou besigheid dit toelaat – dat jou werknemers van die huis af werk. Sowat 65% van werknemers glo hulle is meer produktief in ’n nie-tradisionele werkopset.

4) Verbeter werkomstandighede

Die fisiese omstandighede van jou werkomgewing het ook ’n groot effek op die produktiwiteit van jou werknemers. Hier is ’n paar idees hoe jy dit kan verbeter:

  • Maak seker daar is genoeg natuurlike lig. Studies het bevind dat werknemers wat in ’n kantoor werk wat genoeg natuurlike lig het sowat 46 minute meer per nag slaap en dat dit ’n direkte effek op hulle effektiwiteit het.
  • Maak seker jy het plantlewe in die kantoor.
  • Verf jou mure in ’n ander kleur as wit. Kleur het ’n effek op mense se gemoed. Rooi help met detailgeoriënteerde take, groen vir motivering en blou verhoog kreatiwiteit.

5) Verbeter e-poskommunikasie

Studies het bevind dat ons sowat 13 ure per week aan e-posse spandeer. As elk van jou werknemers soveel tyd aan kommunikasie spandeer, is dit duidelik ’n belangrike faset van jou besigheid. Kommunikasie moet dus verbeter en versnel word. Hier is ’n paar idees hoe jy jou besigheid se e-poskommunikasie kan verbeter:

  • Ken tyd toe vir e-posse: Laat werknemers net op ’n spesifieke tyd deur die dag e-posse stuur en beantwoord (byvoorbeeld die uur na middagete of die uur voor hulle huis toe gaan).
  • Hou e-posse kort en kragtig.