Moeg vir jou onderneming? Só kan jy weer opgewonde raak daaroor!

Om ’n onderneming te begin is amper soos om vir die eerste keer verlief te raak. Dit is opwindend, dit is nuut en jy wil al jou tyd daaraan spandeer. Maar na die aanvanklike opwinding wanneer die eerste uitdagings jou tref, kan die realiteit van ’n onderneming dalk oorweldigend wees of jy kan bloot voel dat dit nie die moeite werd is nie. Of dalk is daar sekere aspekte van die onderneming waaraan jy meer tyd moet spandeer as wat jy eintlik wil en dit put jou uit. Dit is egter moontlik om terug te gaan na die ‘wittebroodfase’ van jou onderneming en weer jou passie terug te vind.

Hier is ’n paar strategieë wat jy kan volg:

1) Delegeer take wat jy nie geniet nie

Indien daar take is wat nie werklik jou kennis of tyd vereis nie is dit ’n goeie idee om dit eerder te delegeer aan ’n werknemer. Sake-eienaars is geneig om soveel as moontlik self te probeer doen – soms omdat hul nie werklik hul werknemers met sekere take vertrou nie. Dit oorlaai jou as eienaar net met werk en maak jou in werklikheid minder effektief. Vertrou jou werknemers om sekere take oor te neem – jy gaan waarskynlik verras wees oor hoe goed jou werknemers vaar en hoeveel tyd jy tot jou beskikking het om aan ander fasette van jou onderneming te werk.

2) Stel prosesse in plek

Hoe meer effektief tyd in jou onderneming bestee word, hoe meer gaan jou werknemers gedoen kry. Bestee tyd daaraan om werklik ondersoek te doen oor hoe dinge tans gedoen word en kyk hoe jy dit kan verbeter. Waar mors jul tyd? Wat maak jul oneffektief? Maak werk daarvan om nuwe sisteme en prosesse in plek te stel – op kort termyn mag dit moeite verg maar op lang termyn sal dit verseker dividende betaal.

3) Neem tyd om aan jou onderneming te werk

Baie sake-eienaars werk in hul onderneming en nie aan hul onderneming nie. Dit is belangrik vir jou as sake-eienaar om vir die toekoms te beplan. Waarheen wil jy die onderneming groei? Wat is die uitkomste wat jy wil bereik? Teen wanneer? Stel ’n plan op vir die toekoms van jou onderneming en ’n kalender van wanneer jy sekere uitkomste wil bereik. Deur jou planne neer te pen, gaan jy dit waarskynlik makliker bereik.

4) Word deel van ’n netwerk

Entrepreneurs voel gereeld geïsoleer in hul werk. Die druk van hul verantwoordelikheid is uniek en word nie altyd deur hul vriende en familie gedeel nie. Juis daarom is dit nodig vir entrepreneurs om tyd saam met ander sake-eienaars te bestee. Word deel van ’n netwerk waar jul mekaar kan motiveer en kennis kan uitruil.

5) Soek nuwe geleenthede

Net omdat jou onderneming nie nuut is nie beteken nie alles hoef dieselfde te bly nie. Bestee tyd daaraan om nuwe geleenthede, markte of produkte te soek. Verandering in jou onderneming sal altyd nuwe opwinding bring.

6) Maak ’n lys

Wanneer jy motivering nodig het, probeer onthou hoekom jy jou eie onderneming het. Maak ’n lysie van die goed waarvoor jy dankbaar is. Kan jy meer tyd saam met jou gesin bestee in die middae? Het jy meer werksbevrediging? Minder kantoorpolitiek? Lig uit waarvoor jy dankbaar is.

Om ’n sake-eienaar te wees kan soms uitdagend en eensaam voel, maar daar gaan ook groot opwinding en persoonlike groei daarmee gepaard. Onthou waarom jy in die eerste plek jou eie onderneming begin het en raak weer verlief op jou onderneming.