Moenie jou werknemers motiveer nie!

Moenie jou werknemers probeer motiveer nie; hulle moet hulself kan motiveer. Jim Collins het 1 435 maatskappye oor ’n periode van 40 jaar ontleed. Uit die studie het hy 11 maatskappye geïdentifiseer wat ’n kop bo die res uitstaan. Raai hoe motiveer dié maatskappye hulle werknemers? Collins het bevind dat dit nie nodig is nie, want die maatskappye het werknemers aangestel wat hulself motiveer. Boonop herbevestig die maatskappye ook nog hul kernwaardes so gereeld dat selfmotivering outomaties plaasvind. Indien jou onderneming so gelukkig is om wel werknemers te hê wat selfgemotiveerd is, hoe hou jy hulle betrokke in ’n tyd waar meeste mense van die huis af werk?

Volgens die toepassing Slacker wil 85% van werknemers wat van die huis af werk meer betrokke en nader aan hulle kollegas voel. In hierdie artikel gaan ons kyk hoe jy jou werknemers nader aan mekaar en aan die kernwaardes van die onderneming kan laat voel, veral in ’n tyd waar hulle geïsoleerd is.

Die navorsing-en-konsultasiemaatskappy Gartner het ’n studie gedoen wat aandui dat 88% van organisasies in die laaste paar maande hulle werknemers aangemoedig het om van die huis af te werk. Dit gaan in die toekoms ook ’n groter tendens wees aangesien 99% van mense verkies om van die huis af te werk, of minstens net gedeeltelik kantoorgebonde te wees.

Hou jou werknemers betrokke

  1. Informele gesprekke

Harvard Business Review meen die beste stap wat ’n bestuurder kan neem is om ’n struktuur daar te stel wat sy werknemers toelaat om sosiale gesprekke te hê oor onderwerpe wat niks met werk te doen het nie. Dit is veral belangrik vir werknemers wat skielik van hulle huise af moes begin werk.

  1. Stel duidelike uitkomste

Moenie jou werknemers gestrand laat voel sonder enige gereedskap nie. Skeduleer hulle werksure, stel saam met hulle weeklikse doelwitte op en spel hulle verantwoordelikhede uit. As julle dit in ’n gesprek doen, stuur na afloop van die gesprek ’n e-pos met inligting wat bespreek is. As jy wonder of jy genoeg kommunikeer, dan kommunikeer jy te min.

  1. Maak samewerking gerieflik

Meeste spanne gebruik sekerlik WhatsApp vir vinnige kommunikasie, e-pos vir meer bondige gesprekke en Zoom vir video-oproepe, maar watter platforms kan jy nog oorweeg om kommunikasie meer effektief te maak?

  • Slack: Dit is ’n vinniger en meer egalige manier vir spanne om saam te werk as per e-pos. Jy kan dokumente stuur, projekspanne skep en dit ook integreer met ander programme soos Trello.
  • Flowdock: Flowdock is sowel ’n groep- as privaat geselsplatform.
  • GoToMeeting: ’n Handige video-oproep-alternatief vir spanne wat jou toelaat om jou skerm te deel.
  • Asana: Skep sperdatums en allokeer take aan ander spanlede.
  • Monday: Stel doelwitte op en wys take toe aan spanlede; ’n baie visuele uitbeelding wat dit maklik maak.
  • Igloo: Ideaal om ’n span saam te laat werk; dit is soos ’n intranet en ideaal om idees uit te ruil.
  • Google Docs: Ideaal om dokumente onder spanlede te deel. Dokumente word outomaties opgedateer en gestoor sodat almal in werklike tyd veranderinge en kommentare kan sien.
  • Quip: Beskikbaar op jou selfoon en jou rekenaar. Op Quip kan jou span op dokumente werk, saam gesels en taaklyste skep wat jy kan afmerk soos dit voltooi word.

Kies ’n platform wat vir jou maklik is om te verstaan en waarop jou werknemers aktief gaan wees. Indien jy agterkom dat WhatsApp of e-pos steeds beter werk, bly by wat jou span sal verkies.

Herbevestig jou kernwaardes

Kernwaardes is die twee tot drie eienskappe van jou onderneming wat ononderhandelbaar is. Dit is praktiese en goed gedefinieerde waardes wat jy en jou werknemers maklik vir iemand anders kan verduidelik. Dit moet so kern tot jou onderneming wees dat jy bereid is om mense af te dank as hulle nie die waardes uitdra nie. Dit is karaktereienskappe wat reeds in jou onderneming bestaan, nie iets wat jy nastreef nie. Wanneer jy oor doelwitte, die toekoms van die maatskappy of prestasie in die werkplek gesels, moet dit altyd aan jou kernwaardes gekoppel wees.

Tuiswerk is ’n lakmoestoets vir motivering; jy gaan vinnig agterkom watter werknemers werklik selfgemotiveerd is om waarde tot die maatskappy te voeg. Sodra jy die regte span het, is jou werk net om hulle betrokke te hou.