Moet jy ’n lening aangaan vir jou onderneming?

Op een of ander stadium in ’n onderneming se leeftyd gaan die behoefte ontstaan om ’n besigheidslening aan te gaan. Of dit is om ’n globale pandemie te oorleef, groei te befonds of om ’n teenstander uit te koop, kan ’n besigheidslening op die regte tydstip ’n goeie ding vir jou onderneming wees. Aan die ander kant kan dit ook ’n negatiewe effek op jou langtermyndoelwitte hê. Indien jy ’n te groot lening aangaan, die term van jou lening onvoordelig is of jy selfs net te vinnig in jou onderneming se lewensiklus ’n lening aangaan, kan dit die einde van jou onderneming beteken. Dit is dus ’n ernstige besluit om aansoek te doen vir ’n lening.

Redes om ’n lening aan te gaan

1)  Jou onderneming gaan fisies uitbrei

In dié scenario is jy besig om uit jou nate te bars. Jou kantore is oorvol, of jou fisiese winkel of restaurant se vloeroppervlakte kan nie aan jou kliënte se behoeftes voldoen nie. Indien jy jouself in so situasie bevind, is dit ’n goeie aanduiding dat jou onderneming goed vaar en die geleentheid daar is vir uitbreiding. Ten spyte hiervan het jou onderneming nie noodwendig die kapitaal wat nodig is om jou volgende skuif te finansier nie. Voordat jy ’n lening aangaan is dit egter nodig om te bepaal of dié uitbreiding werklik ’n verskil aan jou inkomste gaan maak? Gaan jou besteding meer omset beteken wat hoër wins tot gevolg gaan hê? Indien wel, gaan dit jou maandelikse terugbetaling regverdig? In so geval kan dit ’n goeie idee wees om jou fisiese uitbreiding deur middel van ’n lening te befonds.

2) Jou onderneming benodig nuwe toerusting

Indien jou onderneming sekere toerusting nodig het om ’n beter diens te lewer of vinniger take af te handel, kan ’n lening ’n goeie opsie wees. Wanneer jy toerusting aankoop, kan die toerusting ook gewoonlik as waarborg dien vir die lening. Jy moet egter seker wees dat jy werklik jou onderneming gaan groei indien jy die nuwe toerusting aanskaf. Jou werknemers gaan waarskynlik ’n nuwe koffiemasjien geniet, maar gaan dit werklik die uitgawe regverdig?

3) Jou onderneming benodig meer voorraad

Voorraad is een van die grootste uitgawes wat ondernemings kan aangaan, en soms lê daardie voorraad vir maande of selfs jare in ’n stoor as dooie kapitaal. Dit is veral ’n probleem as jou onderneming seisoenaal is maar steeds kapitaal moet uitgee om voor te berei vir die komende seisoen. Om seker te maak dat dit die moeite werd is om ’n lening aan te gaan vir die aankoop van voorraad, is dit nodig om ’n projeksie te doen van die voorspelde verkope in die komende jaar gebaseer op die vorige jaar se verkope. Werk konserwatief met jou projeksies aangesien verskeie onvoorsiene faktore jou verkope in ’n bepaalde jaar kan beïnvloed. Bepaal ook die koste van ’n lening en of dit jou werklik gaan baat om voorraad vooruit te kan koop.

Dit is gewoonlik altyd ’n veiliger en beter idee om self jou onderneming se uitbreiding te befonds indien dit moontlik is. As jou somme egter aandui dat jy nie ’n geleentheid om te groei van die hand kan wys nie en dat ’n lening jou enigste opsie is, neem die volgende in ag.

Vrae om jouself af te vra voor jy ’n lening aangaan:

  1. Is ’n lening die beste opsie?

Lenings is nie die enigste finansieringsopsie vir ondernemings nie. Bepaal eers of jy nie dalk ’n belegger kan kry nie of self die nodige kapitaal kan voorskiet nie.

2. Watter tipes lenings is beskikbaar?

Lenings val breedweg in twee kategorieë, naamlik persoonlike en besigheidslenings. Persoonlike lenings is gewoonlik ’n hoër risiko as besigheidslenings omdat jy as individu aanspreeklik gehou kan word vir wanbetaling. Daar is ook verskeie tipes besigheidslenings beskikbaar.

3. Hoeveel kan ek bekostig om per maand terug te betaal?

Hoe groter die lening en hoe korter die tydlyn, hoe hoër gaan jou maandelikse terugbetaling wees. Kan jou onderneming die maandelikse koste betaal? Hoe gaan die terugbetaling jou maandelikse winsgewendheid beïnvloed?

4. Is daar fynskrif?

Banke of ander instansies wat lenings aan ondernemings verskaf doen dit ook met die doel om geld te maak en nie net ter wille daarvan om jou onderneming te help nie. Somtyds kom besigheidslenings met komplekse terme en voorwaardes waarvan jy bewus moet wees. Voorbeelde is:

  • Boetes vir vroeë terugbetaling
  • Grasietydperk, betalingskedules en laatbetalingsfooie.
  • Rentekoersveranderings
  • Wat gebeur indien jy nie die lening terug kan betaal nie.

Alhoewel lenings ’n voordelige meganisme kan wees, moet jy ingedagte hou dat dit steeds ’n las is. As jy wil uitbrei of ’n nuwe idee toets, probeer dit eers self befonds, selfs al neem dit langer. Weeg jou risiko’s op en gesels met ander entrepreneurs voor jy in die diep kant inspring!