‘n Melktertavontuur in Pretoria

Op Nasionale Melktertdag klim ons in ons karre gerreed om die lekkerste melktert in Pretoria te gaan proe. Ons het vooraf al wat ‘n koffiewinkel of restaurant in Pretoria is gebel om te hoor wie melktert op Melktertdag gaan hê – verbasend min koffiewinkels ingeval jy gewonder het. Ons kry toe uiteindelik ‘n paar en werk die maklikste en vinnigste roete uit om by elkeen ‘n draai te maak.

Ons melktertkommitee bestaan uit vyf van ons, ons almal het verskillende smaakvoorkeure maar ons almal hou van melktert en dit is al wat nodig is. Ons is amateur foodies, Carien is die enigste een wat ‘n agtergrond het in lekker kos maak, Nicolene ken van restaurantwese, Sanderien is ‘n meester met blomme en dekor en ek en Leandie hou maar net van lekker kos, goeie diens en mooi plekke.

Daar is punte gegee vir smaak, tekstuur, voorkoms en vir die plek self – hier het ons gekyk na die atmosfeer en ook die diens. Die gemiddeld vir elkeen word uitgewerk en ‘n punt uit vyf word dan gegee.

Ons eerste stop is in Brooklyn by Jam & Daisies. Die oulikste, pienkste teetuin ooit, alles is mooi en die koeke in die vertoonkas voel asof hulle jou naam roep, maar ons het gekom vir melktert en melktert sal ons kry. Ons begin die oggend met ‘n cappuccino en verslind dadelik die twee blokkies melkterte wat in die mooiste bordjies a la Engelse teetuin  voor ons neergesit word. Die melktert is heerlik! Dit was goed gestol, die kors was sag maar nie pap nie en daar was nie één klontjie sigbaar nie. Ongelukkig was die diens bietjie stadig en moes ons op tye twee of drie keer vra vir iets voordat dit opgedaag het en eers nadat die rekening betaal is, is daar ‘n fout op die rekening opgetel en moes aanpassings gemaak word wat nog langer geneem het. Die hoof kelnerin was egter baie behulpsaam en vriendelik.

Jam & Daisies se punte:

3 uit 5 sterre

Die volgende twee plekke is naby aan mekaar en on skies koers Menlopark toe om Griekse melktert en tradsionele Suid-Afrikaanse melktert te gaan proe. Hier sal ons die punte apart gee vir die Griekse melktert en tradisionele melktert. Café 41 in Menlopark is perfek vir liefhebbers van koffie, tee en koek, hulle het ook heerlike kos. Teen die mure is kuns van The Gallery wat te koop is maar ook bydra tot die atmosfeer van hierdie koffiewinkel. Met die intrapslag word ons vriendelik gegroet en van daar het ons net nog vriendelikheid en goeie diens ervaar. Café 41 was ‘n absolute fees! Die Griekse melktert was ‘n aangename verrassing, hoe meer jy eet, hoe lekkerder word dit. Die eerste hap is vreemd, dit is nie sleg nie maar jy kan nie die smake plaas nie, dit proe bekend maar op ‘n vreemde manier. Eers na die tweede en derde happe kan jy die volle lekkerte van hiérdie Griekse bederf geniet. Die tradisionele melktert kom in die vorm van ‘n mini melktert en dan begin jou mond sommer klaar water! Daar is selfs ‘n foto’tjie van ons geneem om op hulle sosiale media te sit! Hier sal ‘n mens sommer heeldag kan sit en kuier of werk – as jy hou van in koffiewinkels sit en werk.

Café 41 se punte:

4 uit 5 sterre

Oorkant Café 41 is Greenlyn sentrum, dit is ons volgende stop want die gewilde Buffelsfontein Beesboerdery is daar en ons het gehoor dat hulle melktertroomys heerlik is. Ons word weereens vriendelik ontvang en omdat dit nog vroeg in die dag was kon ons enige plek gaan sit het. Buffelsfontein Beesboerdery het ‘n moderne bosveld-sjiek gevoel en hoewel mens Buffelsfontein tipies met baarde en baardolie assosieer was ons aangenaam verras met die sagte hand waarmee die melktertroomys voorgesit is. Delikate blommetjies is op die melktert gesit vir versiering en kaneel fyntjies om die melktertroomys gesprinkel. Hierdie melktertroomys is die mooiste wat voorkoms aanbetref en almal is dit eens dat dit beslis ‘n vyf uit vyf verdien. Die roomys het presies soos melktert geproe hoewel die tekstuur bietjie ysserig was. Die diens was uitmuntend en ons het selfs die kelnerin gevra om vir ons ‘n foto vir ons sosiale media te neem.

Buffelsfontein se punte:

4 uit 5 sterre

Ons laaste stop is die prentjiemooi AfroBoer, dié restaurant met sy idilliese tuine en eklektiese dekor lyk soos iets so reg uit ‘n sprokiesverhaal en laat my altyd dink aan Burnett se The Secret Garden – dié gebou is net aansienlik vroliker as die Misselthwaite Manor en as jy eers instap dan gaan jy nie vinnig wil huis toe gaan nie. Die spyskaart het interessante kombinasies en geure wat jy nooit sou dink om bymekaar te sit nie, maar dit lyk heerlik. Die melktertjies kom in kolwyntjie papiertjies en ‘n M is met kaneel op die bo-kant gevorm. Die melktertvulsel was heerlik, die tekstuur was goed en dit het  pragtig gelyk. Ons het wel almal saam gestem dat R20 per melktertjie bietjie duur is teen dit wat ons vir ’n groot sny betaal het by Café 41. AfroBoer was uit die vier plekke beslis ons almal se gunsteling oor die atmosfeer wat daar heers, die uitstekende en vinnige diens en die goeie kwaliteit kos wat jy daar kan geniet.

AfroBoer se punte:

4.5 uit 5 sterre

Tussen Café 41 en Jam & Daisies het ons verseker die lekkerste melkterte geëet maar ons het ons tydjie by AfroBoer die meeste geniet. Café 41 is perfek vir ‘n vinnige koffie saam met ‘n vriend of vriendin of om die oggend as jou kantoor te gebruik. AfroBoer is ‘n heel ander ervaring! AfroBoer is ‘n saamkomplek vir mense wat hou van die mooier, fyner dinge in die lewe, heerlike kos met interessante kombinasies en vriendelike diens.