’n Mobiel-vriendelike webtuiste is belangrik vir jou onderneming

Indien jou aanlyn onderneming nie mobiel-vriendelik is nie, kan jou verkope daaronder lei. Slimfone het die nommer een manier geword waarop die meerderheid potensiële kopers soektogte doen op die internet. Navorsing toon dat sowat 51.89% van globale websoektogte op slimfone gedoen word. Indien jou webtuiste nie mobiel-vriendelik is nie demotiveer dit jou kopersmark om jou webtuiste te gebruik. In die moeilike ekonomiese klimaat kan geen onderneming “nee” sê vir enige verandering wat moontlik hul verkope ’n hupstoot kan gee nie. Hier is ’n paar redes waarom jy vandag nog moet seker maak dat jou webtuiste mobiel-vriendelik is:

1) Millenniërs is mobiel

Millenniërs is die grootste demografiese groep in die geskiedenis en word van kleins af reeds aan digitale media blootgestel. Omdat die groep so ’n groot kopersmark verteenwoordig, is dit belangrik om seker te maak dat jy hul aandag trek. Nog ’n kernkenmerk van Millenniërs is dat hul onmiddellik hul behoeftes wil bevredig. Indien hul dus nie sou regkom om met hul slimfone op jou aanlyn winkel te koop nie, kan jy heelwat potensiële transaksies verloor.

2) Optimalisering van Google

Google se soek-algoritmes is so opgestel dat dit voorkeur gee aan webtuistes wat ook mobiel-vriendelik is wanneer jy op jou slimfoon ’n soektog doen. Die algoritme is opgestel dat dit jou posisie op ’n soektog beïnvloed as jou webtuiste nie ook mobiel-vriendelik is nie. ’n Laer indeksering op Google se resultate kan beteken dat jy potensiële kliënte verloor wat ’n vinnige soektog op hul slimfone doen.

3) Mobiel-vriendelik verhoog grootmaatverkope

Selfs al verkoop jou onderneming nie aan die eindverbruiker nie is dit steeds baie belangrik dat jou webtuiste mobiel-vriendelik is. Baie ondernemingeienaars sal eers ’n vinnige soektog op hul slimfone doen voordat hul indringende navorsing op hul rekenaars doen. Indien jou webtuiste mobiel-vriendelik is, is dit soveel makliker om jou onderneming te vind. In die moderne wêreld waar mense ook mobiel werk, is dit noodsaaklik dat jou webtuiste goed op ’n slimfoon of tablet vertoon.

Onseker of jou webtuiste mobiel-vriendelik is?

As jou webtuiste in die laaste paar jaar gebou of bygewerk is, is die kans goed dat jou webtuiste mobiel-vriendelik sal wees. Voor jy kapitaal spandeer om jou webtuiste meer mobiel-vriendelik te maak, kan jy egter toets hoe jou webtuiste vaar. Google het ’n gratis hulpmiddel om dit te toets. Besoek bloot https://search.google.com/test/mobile-friendly en tik jou webadres in die soekboksie. Die resultate wys of jou webtuiste mobiel-vriendelik is of nie en gee vir jou voorbeelde van hoe jou webtuiste op ’n slimfoon sal verskyn asook voorstelle oor hoe om die mobiele ervaring beter te maak vir jou webgebruikers.