Outomatiese onbillike ontslag weens ouderdom

Deur Inge Labuschagne

Volgens Artikel 187(1)(f) van die Wet op Arbeidsverhoudinge (Wet 66 van 1995, hierna “die Wet” genoem) is ontslag outomaties onbillik indien die werkgewer se rede vir ontslag direk of indirek onbillik teen ʼn werknemer diskrimineer op grond van een van die gelyste gronde, onder meer ouderdom.

In die saak van Cosme v Polisak (Pty) Ltd het die Arbeidshof bevind dat die ontslag van die applikant outomaties onbillik is weens die feit dat die applikant op grond van ouderdom ontslaan is. Die werkgewer het geen beleid in plek gehad wat die aftreeouderdom van werknemers reguleer nie en het in hierdie geval net die ouderdom van die applikant gebruik as ’n poging om die diensbeëindiging te regverdig.

In die verdere saak van Evans v Japanese School of Johannesburg [2006] 12 BLLR 1146 (LC) het die werkgewer die applikant se diens op 63-jarige ouderdom beëindig op grond van hul bewering dat sy die normale aftreeouderdom van 60 bereik het. Die hof het kennis geneem van die feit dat daar niks in die applikant se dienskontrak ooreengekom is oor aftreeouderdom nie. Daar was dus geen aftreebeleid nie en ander werknemers wat ook ouer as 60 was, was toegelaat om aan te hou werk. Daar was absoluut niks fout met die betrokke werknemer se prestasie by die werk nie en het die werkgewer ouderdom gebruik om afdanking te regverdig. Die werkgewer was gelas om 24 maande se kompensasie aan die applikant te betaal weens die outomatiese onbillike ontslag.

Die werknemer kan ʼn eis van outomatiese onbillike ontslag ingevolge die Wet (soos hierbo genoem) teen die werkgewer indien, asook ʼn eis ingevolge die Wet op Gelyke Indiensneming (Wet 55 van 1998, hierna die EEA genoem) op grond van direkte onbillike diskriminasie weens ouderdom. Die Wet maak in Artikel 187 voorsiening vir ’n limiet van 24 maande se kompensasie weens outomatiese onbillike ontslag. Artikel 6 van die EEA bevat egter geen limiet op die kompensasie wat toegestaan mag word nie.

Werkgewers moet dus twee keer dink voordat hul aftreeouderdom ná die tyd eensydig wil vasstel en werknemers verskillend hanteer wat aftreeouderdom betref, aangesien die howe regtens meer as bereid is om werknemers wat op dié manier outomaties onbillik ontslaan word, tegemoet te kom en om beskerming aan hul te bied ingevolge albei wette.

Kontak ons gerus indien jy onseker is of jy wel ’n aftreeouderdomklousule in jou dienskontrak of werksplekbeleid het en indien nie, wat jou te doen staan.