Produkontwikkeling: Werk slimmer, nie harder nie

As klein besigheidseienaar dink jy dalk nie altyd aan watter strategie jy volg om ’n nuwe produk te ontwikkel, of wat jou metodologie is, hoe jy markbevestiging gaan kry en hoe jy mense daarmee gaan bereik nie. ’n Goeie strategie bestaan uit twee aspekte, ’n proses wat jy kan volg en ’n rede oor waarom jy die proses volg.

Redes waarom jy in ’n proses van produkontwikkeling sal gaan:

  1. Jy wil jou produklyn horisontaal uitbrei, jy het bestaande produkte of dienste wat reeds suksesvol is en jy wil jou kliënte toelaat om bykomende produkte ook by jou te koop.
  2. Jy wil jou produklyn vertikaal uitbrei, nie om bestaande produkte te komplimenteer nie maar om ’n ander mark te teiken.
  3. Jy wil bestaande produkte vervang en innoveer om opnuut weer jou kliënte se behoeftes te bevredig.

Werk slimmer, nie harder nie

Eric Ries, skrywer van Lean Startup, se metodologie is gebou op die veronderstelling dat elke klein besigheid ’n experiment is wat poog om een vraag te beantwoord. Die vraag is nie “Kan ons hierdie produk bou” nie. Die vraag is eerder “Moet ons hierdie produk nou?”. Kan jy ’n langtermyn volhoubare besigheid rondom hierdie stel produkte bou? Om slimmer te werk eerder as harder, beteken om meer vrae te vra voordat jy ander mense ook betrek om aan die produk te werk, mense te probeer kry om die produk te gebruik, ’n bemarkingsplan aanmekaar te slaan en die produk begin vervaardig. In die proses wat jy jou produk ontwikkel moet jy soveel kliënte oorgewen het dat dit nie eers nodig is om kliënte te gaan soek nie.

Ontwikkel ’n MLP

In die Lean Startup metodologie is die eerste stap om te begin by ’n probleem wat opgelos moet word en dan ’n minimum-lewensvatbare-produk (MLP) te skep. Die doel van ’n MLP is om so gou moontlik terugvoer te ontvang. Dit beteken dat indien jy ’n perfekte produk uitbring, jy te lank gevat het. ’n Nuwe produk moet soos ’n enjin wat gekalibreer word, hanteer word. Skep ’n produk wat die probleem oplos, selfs al lyk dit skeef en onafgerond, en kry dit voor voornemende kliënte. Jy gaan veel meer akkurate aanpassings kan maak op só manier as wat jy heeltyd self moet raai wat mense nodig het. Sodra jy ’n MLP het moet jy duidelike maatstawwe uiteensit oor wat die produk moet bereik of regkry voordat jy daarmee sal voortgaan en nog meer energie daaraan spandeer.

Split-toetsing

’n Slim manier om jou MLP verder deur die toets te sit is om ’n split-toets of A/B toets te doen waar jy met verskillende weergawes eksperimenteer. ’n Voorbeeld hiervan sou wees as jy ’n nuwe velroom ontwikkel, twee aparte reuke sou toets op twee teikenmarkte wat identies is. Of jy jou handelsmerk, kleure, geure, prys, verpakking, bewoording of styl wil toets, maak seker dat alle ander faktore dieselfde bly sodat daar net een verskil is tussen die twee toetse. Jy kan dan aanpassings maak op grond van werklike terugvoer in plaas van jou buurman of familie se opinies.

Bou, meet, leer

Die slotsom van die Lean Startup metodologie is om ’n terugvoer-loep te skep. Bou die minimum produk wat nodig is, meet wat werk met toetsing en leer uit die terugvoer uit deur praktiese veranderinge te maak. Dit is nie ’n eenmalige proses nie, maar ’n deurlopende een. As jy een verandering aanbring, moet jy dalk weer begin bou, weer meet of dit die gewenste uitkoms bereik en weer kyk waar jy kan leer. Dit is ’n vinnige proses van idees in produkte verander, kliënte se reaksies meet en praktiese aanpassings maak na die eksperiment. Na jy deur ’n paar rondtes is kan jy besluit of jy ’n 180 grade ommedraai moet maak en of jy met die produk wil voortgaan.

Of jy ’n produk ontwikkel om ’n tendens se golf te ry of iets wil skep wat ’n voertuig vir jou besigheid moet wees – volg ’n proses.