Prosedure as ’n werknemer dros

deur Inge Labuschagne

Volgens die HAT beteken die woord dros om sonder verlof weg te loop of te deserteer. Dit kan dus aanvaar word dat wanneer ’n werknemer dros, hy/sy geen voorneme het om terug te keer werk toe nie. In omstandighede waar die werkgewer vermoed dat ’n werknemer homself/haarself skuldig maak aan dros, is daar spesifieke stappe wat ’n werkgewer moet volg alvorens dissiplinêre stappe ingestel mag word teen die betrokke werknemer. Die bewyslas rus op die werkgewer om te bewys dat die werknemer geen voorneme het om terug te keer werk toe nie.

Die meeste dissiplinêre kodes maak voorsiening daarvoor dat indien ’n werknemer vir drie (3) dae of langer wegbly van die werksplek, sonder toestemming of enige kommunikasie, daar aanvaar kan word dat die betrokke werknemer dros. Die werkgewer moet die volgende stappe volg, indien daar vermoed word dat ’n werknemer geen voorneme het om terug te keer werk toe nie:

  1. Kontak die betrokke werknemer en probeer vasstel waar hy/sy is en gee vir hom/haar ’n direkte instruksie om terug te keer werk toe. Indien die werknemer geen toestemming het om weg te bly van die werksplek nie, kan die werkgewer ophou om die werknemer te betaal. Werknemers is gewoonlik geneig om vinnig kontak te maak indien hulle nie meer geld ontvang nie. Behoorlike rekord moet gehou word van wanneer die werknemer gebel is, wie gebel het, wat gesê is, en so meer.
  2. Indien die werknemer nie in die hande gekry word nie, moet die werkgewer enige naasbestaandes en/of vriende kontak om vas te stel waar die betrokke werknemer is. Behoorlike rekord moet gehou word van wanneer hulle gebel is, wie gebel het, wat gesê is, en so meer.
  3. Indien die werknemer nie terugkeer werk toe soos telefonies versoek nie, moet die werkgewer ’n skrywe met geregistreerde pos na die werknemer se adres stuur waarin die werknemer in kennis gestel word van die werkgewer se voorneme om ’n dissiplinêre verhoor te hou – wat tot sy/haar afdanking kan lei – indien hy/sy nie teen ’n spesifieke datum terug is op kantoor nie. Bewyse dat die brief by die werknemer afgelewer is moet gehou word.
  4. Indien die werknemer nie terugkeer soos in die skrywe versoek nie, moet die werkgewer ’n verhoor skeduleer en weer per geregistreerde pos die werknemer in kennis stel van die verhoordatum, tyd en klagte(s) teen die werknemer. Indien die werknemer nie opdaag vir die verhoor nie, sal die verhoor voortgaan in sy/haar afwesigheid. Indien die werknemer wel opdaag, moet die werknemer geldige gronde verskaf hoekom hy/sy nie by die werk was nie.
  5. As die verhoor in die werknemer se afwesigheid gehou word, moet ’n derde skrywe per geregistreerde pos na die werknemer gestuur word, wat bevestig dat die werknemer se dienste beëindig is.

In omstandighede waar die werknemer wel die werkgewer in kennis stel dat hy/sy nie by die werk gaan wees nie, kan dit nie as ’n drosaangeleentheid hanteer word nie.

Werkgewers moet dus nie in drosaangeleenthede haastig wees om die saak afgehandel te kry nie. Daar is ’n deeglike proses wat gevolg moet word en die werkgewer moet ten alle tye redelik en billik teenoor die betrokke werknemer optree. Die werkgewer kan slegs die betrokke werknemer se dienste beëindig weens die feit dat die werknemer geen intensie het om terug te keer nie, wanneer die werkgewer kan bewys dat hulle alles in hulle mag probeer het om die werknemer te kry om terug te keer werk toe en die werknemer ná al die pogings steeds nie terugkeer nie.

Kontak ons gerus indien u enige bystand nodig het met hierdie prosesse.