Sakeverligting vir besighede in die tyd van COVID-19

Die wêreldwye verspreiding van die COVID-19 Coronavirus en die dramatiese stappe wat regerings moes neem om sterftes te probeer beperk, het verreikende gevolge op meeste industrieë en gevolglik word talle besighede ernstig geaffekteer. Meeste van hierdie besighede het, alreeds as gevolg van swak ekonomiese toestande, nie reserwes om hulle deur hierdie periode te dra nie en daarom is finansiële ondersteuning, wat gepaard gaan met ernstige kostebesparingsmaatreëls dringend nodig. Indien besigheidseienaars nie hierdie periode kan deursien nie, gaan talle besighede hulle deure moet toe maak.

Sedert die aankondiging van die staat van inperking, het verskeie instansies hulp aangekondig. Hieronder uiteengesit is verskeie aspekte wat besigheidseienaars kan oorweeg:

Finansiële instellings

Verskeie banke het ondersteuning aangekondig. Dit kan wees deur betalingsvakansies of deur addisionele befondsing vanuit huidige fasiliteite. Elke bank hanteer dit anders en daarom moet besighede dringend met hulle finansiële instellings in verbinding tree as hulle dit nog nie gedoen het nie, sodat reëlings getref kan word op huidige verpligtinge. Normaalweg waar ‘n besigheid reeds fasiliteite met sy finansiële instelling het, kan dit addisionele fondse vinniger beskikbaar maak. Wees gereed om die mees onlangse finansiële resultate asook kontantvloei projeksies beskikbaar te hê.

Suid-Afrikaanse Inkomste Diens (SAID)

Werknemersbelasting verpligting

Vir besighede wie se belastingsake in orde is by die SAID en wat ‘n omset van minder as R50 miljoen het, kan 20% van die maandelikse LBS verpligting in die periode van 01 April 2020 tot 31 Julie 2020 uitgestel word. Dien dus die EMP201 opgawe in soos normaalweg met die volle bedrag, maar betaal net 80% daarvan oor aan die SAID. Die uitgestelde gedeelte moet vanaf die 1 Augustus 2020 periode (met ‘n betaaldatum van 7 September 2020), in ses maandelikse paaiemente aan SARS oorbetaal word.

Voorlopige belastingbetalers

Vir besighede wie se belastingsake in orde is by die SAID en wat ‘n omset van minder as R50 miljoen het, kan die eerste voorlopige belasting wat binne die periode 1 April 2020 tot 30 September 2020 val, gebasseer word op net 15% van die geskatte belasbare inkomste. Tweede voorlopige belasting betalings wat binne die periode 1 April 2020 tot 31 Maart 2021 val, kan gebaseer word op net 65% van die geskatte belasbare inkomste. Voorlopige belastingbetalers met uitgestelde betalings moet dit ten volle terugbetaal hê op die derde voorlopige belastingbetalingsdatum (ses maande na jaareinde).

Personeel Belastings Aansporing (ETI)

Besighede kan gedurende 1 April 2020 tot 31 Julie 2020 die volgende addisionele ETI bedrae eis:

  • ‘n Verhoging van die maksimum bedrag vanaf R1,000 tot R1,500 vir kwalifiserende werknemers in die 1ste kwalifiserende 12 maande periode.
  • ‘n Verhoging van die maksimum bedrag vanaf R500 tot R1,000 vir kwalifiserende werknemers in die 2de kwalifiserende 12 maande periode.
  • ‘n Toegewing van R500 per werknemer vir werknemers tussen die ouderdomme van:
    1. 18 tot 29 jarige ouderdom wat nie meer kwalifiseer nie omdat daar reeds in die verlede ETI vir 24 maande geëis was.
    2. 30 tot 65 jarige ouderdom wat as gevolg van hulle ouderdom nie kwalifiseer vir ETI nie.
  • ‘n Versnelling van die ETI betalings van die ses maandelikse periode na maandelikse betalings.

Meer inligting is beskikbaar by die volgende skakel:

http://www.treasury.gov.za/comm_media/press/2020/20200329%20Explanatory%20Notes%20on%20COVID%2019%20Tax%20measures%20-%2029%20March%202020.pdf

Skuldverligtingsfondse

Departement vir Kleinsake Ontwikkeling

Kleinsake ondernemings kan aansoek doen vir skuld verligting by die regeringsfonds soos aangekondig deur President Ramaphosa.

Registreer by die volgende skakel: www.smmesa.gov.za

Meer inligting rondom kriteria is beskikbaar by

https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_documents/SMME%20Debt%20Relief%20Scheme.pdf

Rupertfonds

Kleinsake ondernemings en Eenmansake kan aansoek doen vir tot 60 maande lenings by die Rupert familie fonds. Die eerste 12 maande van die lenings sal rentevry wees en daarna rente teen die prima koers dra. Dit word deur Business Partners bestuur.

Meer inligting hieroor is beskikbaar op Business Partners se webtuiste:

https://www.businesspartners.co.za/en-za/media-centre/media-releases/south-africa/business-partners-limited-statement

Oppenheimerfonds (South African Future Trust (‘SAFT’))

Kleinsake ondernemings met ‘n omset van onder R25 miljoen kan ook by die SAFT aansoek doen vir lenings om besighede in bedryf te hou. Die lenings word direk aan die werknemers betaal, is rentevry en is terugbetaalbaar deur die onderneming binne 5 jaar. Die aansoek proses word deur groot finansiële instellings bestuur (ABSA, Eerste Nationale Bank, Nedbank en Standard Bank), en sal waarskynlik uitgebrei word na ander banke ook. Aansoeke is oop vanaf 3 April 2020. Kontak jou eie finansiële instelling vir aansoeke.

Meer inligting is beskikbaar by die volgende skakel: https://opp-gen.com/saft/

Kostebesparingsmaatreëls

Besighede gaan nie net op befondsing kan staat maak nie. Ernstige oorweging moet gegee word aan kostebesparings maatreëls:

  • Gaan kyk na die wesenlike oorhoofse vaste koste items en oorweeg waar tydelike besparings gemaak kan word bv. onderhandel vir tydelike huur verligting met die verhuurder.
  • Onderhandelings met personeel moet oorweeg word vir bv. betaling van net gedeeltelike salarisse. Die Departement van Arbeid het sekere maatreëls bekend gemaak om werkgewers by te staan vanuit die Werkloosheidsversekeringsfonds (‘WVF’).

Meer inligting beskikbaar by http://www.labour.gov.za/uif-to-process-covid-19-ters-benefit-to-assist-employers-and-workers-during-coronavirus-(covid-19)-lockdown

asook by

http://www.labour.gov.za/update-on-employment-and-labour-issues-arising-from-the-lockdowns?platform=hootsuite

Kredietversekering

In baie gevalle word kredietversekering aangebied saam met kredietverlening. Kontak jou finansiële instelling om uit te vind of jou besigheid of jou persoonlike lenings nie dalk gedek word deur krediet versekering nie.

Met elke uitdaging, is daar geleenthede. Geleenthede om jouself, familie, besigheid en besigheids vennote te verbeter en te versterk. Geleentheid om sake op nuwe innoverende maniere te bedryf, nuwe vaardighede aan te leer en sekerlik geleentheid om uit te reik en mekaar se hande sterker te maak. Onthou dat elke ekonomiese resessie gewoonlik gevolg word deur baie sterk ekonomiese groei – fokus op die toekoms, die hede is ‘n gegewe.

Hierdie artikel is beskikbaar gestel deur Logista