Slegte gewoontes om te vermy in ‘n professionele omgewing

Deur Carina Bester

Wanneer jy jou eie kantoor het, is jy nie noodwendig so bewus van jou kollegas se gewoontes nie, maar indien jy in ’n oopplankantoor sit, dryf dit jou heel moontlik teen die mure uit. En jy doen waarskynlik onbewustelik iets wat die persoon langs jou die piep gee.

Hier is ’n lys met gewoontes wat heelwat mense in die werkplek onstel:

  • Respekteer tog persoonlike spasie.

Baie mense hou nie daarvan as mense te naby aan hulle staan nie of voel ongemaklik. So wanneer jy volgende keer iets op jou kollega se rekenaar moet lees moenie van agter af oor hul skouer loer of te naby aan hulle staan nie, tree terug en respekteer hul persoonlike spasie.

  • Persoonlike higiëne is uiters belangrik

Hierdie kan nie meer beklemtoon word nie. Dit is ongelooflik sleg om langs iemand te sit wat sleg ruik — hetsy in die kantoor of tydens ’n vergadering. Sorg dat jy altyd vars en skoon ruik, maar moet dit nie oordoen met die reukwater nie.

  • Skerp kosreuke hoort in die kombuis.

Kos met skerp reuke is nie iets wat in die oopplan geëet moet word nie — skerp kosreuke is nie almal se smaak nie; eet jou kos liefs in die kombuis. Gekookte eiers en tuna moet beslis ook in die kombuis geëet word! Moet ook nie jou kos vir dae in die yskas los nie.

  • Moenie jou kollegas onderbreek met geselsies wat nie verband hou met werk nie.

Jy het dalk iets baie interessant of persoonlik om vir jou kollega te vertel, maar as hulle baie besig is, is dit die laaste ding wat hulle wil hoor. Los hierdie praatjies eerder vir ná werk of tydens middagete. Moet ook nie heeltyd van jou kollegas skinder en sleg praat nie. Êrens gaan dit jou inhaal en niemand hou van die persoon wat heeltyd sleg praat en negatief is nie. As jy heeltyd van almal sleg praat, gaan niemand jou vertrou nie.

  • Jou selfoon en rekenaar se klank is dalk te hard.

Moenie jou selfoon se klank op sy hardste sit wanneer jy in ’n oopplan sit nie. Sorg dat jou selfoon nie jou kollegas steur nie, veral as jy dit op jou lessenaar los en iewers heen gaan. ’n Onbeantwoorde telefoon laat almal se bloeddruk styg. Sit eerder die klank sag voordat jy jou lessenaar verlaat. Moet ook nie kliphard video’s kyk of musiek luister en saam neurie nie. Dit pla en irriteer almal.

  • Moenie jou e-posse hardop lees of bygeluide maak nie.

Niks is so steurend wanneer jy druk besig is en hard konsentreer soos iemand wat al hul e-posse hardop lees nie. Jou gedurige gesug of snuif, kreun- en steungeluide en geneurie is steurend vir die res om jou en dra glad nie by tot jou gewildheid in die kantoor nie.

Die belangrikste om te onthou, is om jou kollegas in ag te neem. Oorweeg altyd hoe jou optrede in die kantoor jou kollegas beïnvloed en probeer om op ’n mooi manier te sê wanneer hul optrede jou pla.