Stel doelwitte vir 2021

Die begin van ’n nuwe jaar is die ideale tyd om doelwitte te stel. Ná ’n vakansie voel ’n mens vars en reg vir die uitdagings wat die volgende 12 maande oor jou pad gaan kom. Stel daarom sommer dadelik jou persoonlike besigheidsdoelwitte op om te verseker dat die volgende jaar een van die bestes nóg gaan wees. Daar is ’n rede waarom Bill Copeland gesê het: “Die probleem van nie doelwitte hê nie is dat jy jou lewe kan spandeer deur op en af op die veld te hardloop sonder om ooit ’n punt aan te teken.” Gelukkig is dit maklik om doelwitte te stel wanneer jy weet hoe. Die SMART-akroniem is ’n maklike manier om seker te maak dat jy dit reg doen. Die akroniem is die eerste keer in 1981 in ’n uitgawe van Management Review gebruik en is sedertdien uitgebrei deur verskeie bydraers. Dit staan vir:

Spesifiek (Specific)

Meetbaar (Measurable)

Bereikbaar (Achievable)

Relevant (Relevant)

Tydsgebonde (Time bound)

Hoe om SMART-doelstellings te gebruik

1) Spesifiek

Dit is belangrik dat jou doelstelling baie spesifiek is, anders gaan jy nie jou energie kan fokus nie. Wanneer jy jou doelstelling opstel, probeer die volgende vrae beantwoord:

  • Wat wil ek bereik?
  • Waarom is die doelstelling belangrik?
  • Wie is betrokke?
  • Watter hulpbronne gaan ek inspan of benodig?

Voorbeeld: My onderneming moet teen 31 Desember 2021 ’n omset van R1 000 000 toon en ’n winsgrens van 30% hê.

2) Meetbaar

Om seker te maak jy kan die doelstelling bereik is dit belangrik dat dit meetbaar is. Sodoende verseker jy dat jy jou vordering dophou en gemotiveerd bly. ’n Meetbare doelstelling moet vrae soos die volgende aanspreek:

  • Hoeveel?
  • Hoe gaan ek weet of die doelstelling bereik is?
  • Wanneer gaan ek voel die doelstelling is bereik?

Voorbeeld: Ek sal die doelstelling bereik wanneer my onderneming se omset R1 000 000 bereik.

3) Bereikbaar

Dit help nie om onrealistiese doelstellings te stel nie. Indien jy dan nie die doelstelling bereik nie kan dit demotiverend wees – wat jou moontlik in die toekoms kan verhoed om doelstellings te stel. ’n Bereikbare doelwit sal vrae stel soos:

  • Hoe kan ek die doelwit bereik?
  • Hoe realisties is die doelwit?
  • Watter faktore kan verhoed dat ek die doelwit bereik, byvoorbeeld finansiële beperkinge?

Voorbeeld: Indien jy ’n omset van R1 000 000 in die komende jaar wil bereik maar nie ’n bestaande produk of diens het wat jy aan die mark kan begin lewer nie, is die doelwit uiteraard onrealisties. Stel eerder dan ’n doelwit om ’n produk of diens te ontwikkel wat jou in staat sal stel om in die lang termyn ’n suksesvolle onderneming te bou.

4) Relevant

Maak seker die doelstellings wat jy maak is werklik relevant vir jou onderneming. Indien jy ’n doelwit sou stel wat nie relevant is nie, is die kans dat jy dit gaan deurvoer ook skraal. Maak ook seker dat al die doelstellings wat jy stel belyn is. ’n Relevante doelstelling antwoord “Ja” op die volgende vrae:

  • Voel die doelwit die moeite werd?
  • Is die tyd reg vir die deurvoer van die doelwit?
  • Stem die doelwit ooreen met ons ander doelwitte vir die jaar?
  • Is ek die regte persoon om die doelwit na te streef?

Voorbeeld: Indien jy jou doelwit van R1 000 000 se omset met ’n 30%-winsmarge wil bereik, maar ’n 30%-winsmarge is nie lewensvatbaar nie, is die doelstelling irrelevant. Werk dan eerder aan ’n meegaande doelstelling wat dit moontlik maak om ’n 30%-winsmarge te behaal wat dan belyn met jou aanvanklike doelwit.

5) Tydsgebonde

Elke doelwit moet aan ’n tyd gekoppel wees – daarom is dit belangrik om ’n spesifieke datum in jou doelstelling te vervat. Sodoende het jy ’n sperdatum waarnatoe jy werk en word jy nie net in die dag-tot-dag vasgevang nie, maar werk jy na ’n spesifieke mylpaal toe. Dit is nodig om die volgende te kan antwoord:

  • Wanneer gaan ek my doelwit voltooi?
  • Wat moet ek in die volgende week, maand of ses maande doen om my doelwit te bereik?

Voorbeeld: Indien jy teen 31 Desember 2021 ’n omset van R1 000 000 vir jou onderneming wil bereik, is daar ’n paar dinge wat jy vandag al kan begin doen. Kyk byvoorbeeld na bemarkingsidees wat jy vroeër eerder as later kan begin implementeer. Dit is belangrik om seker te maak dat jy vandag al begin werk aan die produk wat jy oor 12 maande wil sien.

Dit is nóú die ideale tyd om jou doelstellings vir die komende jaar te stel. Wanneer jy spesifieke doelwitte op skrif stel is dit makliker om jou resultate te meet. Maak 2021 ’n treffer van ’n jaar – beplan dit sommer nou al vooruit!