Verbruikersake: Maak so met jou skuld as jy jou werk verloor

Die meeste verbruikers lê snags wakker van bekommernis oor hul skuld. Baie van hulle het hul werk verloor en het geen spaargeld om hul skuld te betaal nie. Voor Covid-19 sy tande in ons lewens ingeslaan het, het Suid-Afrikaanse verbruikers al gebuk gegaan onder ’n groot skuldlas en spaar was nie een van hulle se prioriteit nie, hoewel begrotingsraad altyd insluit dat jou begroting voorsiening moet maak vir spaargeld wat jy kan gebruik as dit die dag regtig sleg gaan. Vir baie verbruikers is daar egter ’n tydelike oplossing. Ina Opperman verduidelik wat jy kan doen.

Baie verbruikers het nou slapelose nagte nadat hulle hul werk verloor het of nou moet klaarkom met verminderde salarisse. Terwyl verskeie instansies, soos die groot handelsbanke, maatreëls aangekondig het om verbruikers tegemoet te kom, is daar steeds verbruikers wie se skuld nie kan wag vir beter dae nie.

Maar daar is hoop, sê Nomsa Motshegare, hoof van die Nasionale Kredietreguleerder. Kredietverskaffers vereis gewoonlik van verbruikers om kredietlewensversekering uit te neem en volgens Motshegare kan verbruikers hierdie voordeel gebruik tydens hierdie moeilike tyd.

As jy kredietlewensversekering uitneem, word jou uitstaande skuld gedek indien jy permanent ongeskik raak om te werk, sterf, jou werk verloor, nie werk kan kry nie of nie meer die vermoë het om ’n inkomste te verdien nie. Kredietlewensversekering maak dit moontlik vir die kredietverskaffer om jou skuld te betaal vir tot twaalf maande, of die tydperk wat oor is, of totdat jy weer werk kry, wat ook al eerste gebeur.

“Baie verbruikers is nie bewus daarvan dat hulle kredietlewensversekering het waarvan die premie deel vorm van hul maandelikse betaling nie. Jy kan vasstel of jy kredietlewensversekering het deur die kredietverskaffer te kontak en dit te oorweeg om hierdie voordeel te gebruik,” is haar raad.

Afleggingsversekering

Dekking vir afdanking of aflegging kan uitgesluit word uit die kredietlewensversekering in die eerste drie maande van die kredietooreenkoms indien die ooreenkoms langer as ses maande duur. As jou skuld dus voor die einde van verlede jaar gemaak is, behoort jy te kwalifiseer.

Dekking kan ook beperk of uitgesluit word indien jy wetlik afgedank word weens wangedrag of pligsversuim, of wanneer jy aftree, bedank, deelneem aan ʼn onbeskermde staking, vrywillig ʼn pakket aanvaar of vrywillig van jou inkomste afstand doen. Weer eens val Covid-19 nie onder een van hierdie gevalle nie.

Regulasies oor kredietlewensversekering

Die regulasies oor kredietlewensversekering is in 2017 aangepas in terme van die Nasionale Kredietwet. Die regulasies skryf die minimum voordele voor wat verbruikers moet kry en die beperkings of uitsluitings wat van toepassing mag wees.

Die regulasies is gemaak om die koste van kredietlewensversekering te beperk, sodat jy nie meer as R4,50 per R1 000 betaal vir versekering van ’n bedrag vir kredietgeriewe, ongesekureerde lenings, ontwikkelingskrediet of ander soorte kredietooreenkomste nie. Vir huislenings mag jy nie meer as R2 per R1 000 van die versekerde bedrag betaal nie.

Die regulasies is daarop gerig om jou reg tot inligting te ondersteun en daarom moet die kredietverskaffer, net soos met die uitsluiting van bestaande toestande, jou behoorlik inlig oor enige ander uitsluitings en beperkings.

Van die regulasies lui dat kredietverskaffers die dekking wat kredietlewensversekering verskaf, mag beperk in gevalle van alkoholmisbruik, dwelmmisbruik, selfbesering, selfdood, aktiewe deelname aan oorlog of oorlogverwante operasies, burgeroorlog of burgerlike oproer, deelname aan misdadige optrede, deelname aan gevaarlike optrede soos rekspring en die gebruik van kern-, biologiese of chemiese wapens as oorsaak van dood of ongeskiktheid. Covid-19 val nie onder een van hierdie uitsluitings nie.

Statistiek het in die afgelope paar jaar gewys net 20 persent van eise teen kredietlewensversekering word uitbetaal, vergeleke met die aantal premies wat betaal word. Dit is daaraan toegeskryf dat die meeste mense dalk onbewus is daarvan dat hulle dit in die eerste plek het. Nou is dit dalk die regte tyd om vas te stel of jy hierdie versekering het en indien wel, dit te gebruik.

Waar om te kla

As jy wil kla oor kredietlewensversekering of enige ander kwessie wat met krediet verband hou, besoek die Nasionale Kredietreguleerder se webtuiste by www.ncr.org.za.

 

Hierdie artikel is beskikbaar gestel deur Maroela Media
Die skakel na die oorspronlike artikel: Verbruikersake: Maak so met jou skuld as jy jou werk verloor