Versekering: Voertuigdiefstal

Deur Marna Roets

Net soos ons dink ons voertuig is nou behoorlik teen diefstal beskerm – ons het immers die beste opsporingstelsel beskikbaar geïnstalleer – dan slaan die skelms toe met ’n nuwe slenter.

Die volgende modus operandi word gebruik:

Die eienaar sal ’n oproep ontvang van ’n sogenaamde “werknemer” van die motorvervaardiger of -handelaar (ons verwys na die “skelmoproeper”) wat die eienaar inlig dat die spesifieke model voertuig herroep is en dat dit glad nie veilig is om die voertuig enigsins verder te bestuur nie. Die voordoener is meestal wel gesproke en heeltemal oortuigend en kan dan uiteraard ook die inligting ten opsigte van die eienaar bevestig soos byvoorbeeld waar en wanneer hierdie voertuig aangekoop is.

Volgens die oproeper aanvaar die vervaardiger of handelaar geen verantwoordelikheid indien die voertuig defektief sou raak as die eienaar die voertuig wel verder bestuur nie.

Die voertuigeienaar word dan verder in kennis gestel dat ’n insleepdiens gestuur sal word om die voertuig af te haal en selfs die naam van dié diens word voorsien. Gewoonlik is daar ook ’n ooreenkoms om die voertuig binne 24 uur weer aan die eienaar terug te besorg.

Die booswig sal dan sonder versuim ’n insleepdiens reël om die voertuig te kom haal en sodra hulle in besit daarvan is, stel hulle die voertuigeienaar in kennis dat dit nou effens langer as die verwagte tyd sal neem om die herstelwerk af te handel. Op hierdie stadium sal hulle uitvis of die voertuig met ’n opsporingstelsel toegerus is en indien wel sal hulle die eienaar beleefd in kennis stel dat dit tydens die herstelproses nodig is om die stelsel te deaktiveer en dat daar geen rede tot kommer is nie.

Dan, gedurende die tyd wat die eienaar geen kommunikasie van die opsporingstelsel kan ontvang nie, word die voertuig geskuif (meestal oor die grens) en dit is hopeloos te laat vir die eienaar om te besef dat sy voertuig gesteel is.

Talle mense het ongelukkig reeds vir hierdie slenter geval. Wees dus baie versigtig en meld enige agterdogtige gedrag by jou naaste polisiestasie aan. Onthou, as dit klink of dit te goed is om waar te wees, is dit heel moontlik ’n bogspul.

* Marna Roets is die besturende direkteur van Inscorp Versekeringsmakelaars en het meer as 20 jaar ondervinding in die korttermynversekeringsbedryf. Sy werk nie net met gewone kommersiële versekering nie, maar spesialiseer veral in onkonvensionele dekking op motorvlote. Marna is ook ondervoorsitter van die Centurion Sakekamer.

In haar vrye tyd is sy lief om te verf, maar het ook ’n groot passie vir diere; daarom haar betrokkenheid by die International Primate Rescue Centre.

Inscorp Insurance Brokers (Pty) Ltd FSP 43796

E-pos: marna@inscorp.co.za

Tel: 012 661 3007

Sel: 074 311 7693