Verwerping is deel van entrepreneur wees – hier is hoe jy dit hanteer

Jy is ’n entrepreneur en het ’n briljante idee. Dit voel reg, jy glo in die idee en uiteindelik kry jy die geleentheid om dit met ’n kliënt, ’n potensiële vennoot of ’n belegger te deel. Somtyds verstaan hul nie die idee nie of glo hul nie dat dit sal geldmaak nie. Soms stel hul net nie in die idee belang nie. Hierdie verwerping is partykeer pynlik. Meeste entrepreneurs verstaan dat hul op een of ander stadium in hul besigheid verwerping sal ervaar. Die skaal van verwerping wissel dalk van ’n kliënt wat nie belangstel om jou produk te koop nie tot ’n groot besigheidstransaksie wat deur die mat val. Die werklikheid is dat wanneer jy aksie neem en nuwe uitdagings aanpak dit natuurlik is dat jy êrens verwerping sal ervaar. Die eenvoudige antwoord is dat indien jy nie verwerping ervaar nie, jy dalk nie genoeg risiko’s in die besigheid neem nie.

Wat doen jy wanneer jy verwerping ervaar? Hier is vyf wenke wat kan help:

1. Neem jou tyd om te treur of kwaad te wees

Almal is menslik en dit is nodig om die emosies wat jy ervaar, te verwerk. Indien jy nie jou tyd neem om jou ervaring te verwerk nie, kan dit moontlik later negatief manifesteer. Dit help soms selfs om hardop met jouself deur ’n ervaring te praat om dit te verwerk, of indien dit vreemd voel, bespreek dit met ’n kollega of jou huweliksmaat. Jy kan ook net ’n ruskans vat of jou emosies in ’n joernaal neerpen.

2. Evalueer die “hoekom” agter die verwerping

Ons wil outomaties verwerping in ’n negatiewe lig sien, maar dit is nie altyd die geval nie. Daar is ’n les te leer uit elke ervaring en verwerping is soms ’n goeie manier om te evalueer of dit waaraan jy werk werklik die moeite werd is. Evalueer waarom die idee verwerp is. Was dit werklik iets wat jy wou hê? Indien wel, benodig jy meer kennis of ervaring om dit suksesvol deur te voer? Indien jy doen, kry die nodige kennis en probeer weer. Nadat jy deur jou gevoelens gewerk het, kan jy meer klinies na ’n situasie kyk en volgende keer meer toegerus wees wanneer jy so ’n taak aanpak. Onthou, jou idee of produk val nie noodwendig in almal se smaak nie. Almal hoef nie in te koop daarin nie en jy moet aanvaar dat nie almal daarvan gaan hou nie.

3. Onthou, blitssukses is raar

Die sakewêreld is vol oornagsuksesstories, maar dit is raar. In werklikheid word die meeste suksesvolle entrepreneurs oor jare gekweek en neem dit heelwat verwerping om uiteindelik sukses te behaal. Beskou entrepreneuriese sukses as ’n ysberg – die punt wat bo die water uitsteek, is bloot ’n klein deeltjie van die totale struktuur. Jare se sweet en harde werk lê onder die oppervlak.

4. Onthou jy is groter as jou besigheid

Entrepreneurs se besigheid voel amper soos ’n deel van hul en verwerping van ’n deel daarvan kan hul menswees aantas. Dit is belangrik vir entrepreneurs om ’n persoonlike lewe te hê, om vriende te hê en stokperdjies te beoefen wat niks met werk te doen het nie. Dit help om ’n gesonde onderskeid tussen werk- en jou persoonlike lewe te tref.

5. Bepaal jou volgende stap

Beplan jou volgende tree strategies. Dit is belangrik om met ’n plan vir die toekoms vorendag te kom. Neem ’n paar dae om te bepaal wat jou volgende te doen staan en wees spesifiek oor wat jou volgende stap gaan wees. Kyk wat ander in soortgelyke situasies gedoen het om te herstel en wend dit ook in jou eie lewe aan.

Dit verg baie inspanning en moeite om ’n besigheid te bou en jy gaan in die proses definitief ’n paar maal voel asof jy wil opgee. Verwerping moet dus eerder in ’n ander lig gesien word. Dit kan ’n rigtingwyser wees vir wat jy in die toekoms moet aanpak.