Vrouemaand: Fitbury en Stitchbury Clothing

Helè Anantè Wansbury is ’n vroulike entrepreneur wat daarop fokus om hulp te verleen met die stigting van nuwe ondernemings veral in die modewêreld. Dit is hier by Stitchbury waar ek die geleentheid kry om ander se drome waar te maak. Tesame daarmee vervaardig ons ook klere vir talle groot handelsmerke en aanlyn winkels.

“By Fitbury ontwerp ek die klere. Ek is die brein agter elke styl wat ontwerp word. Dit is lekker om weer vir plaaslike kunstenaars die geleentheid te gee om hulle kuns op die klere te kan tentoonstel.“

Sy is die eienaar van twee ondernemings naamlik Fitbury Clothing en Stitchbury Clothing. Om twee ondernemings te bestuur, is uitdagend maar die moeite werd. Sy bestuur haar tyd so:

Sy is nie ’n oggendmens nie en werk veel eerder dwarsdeur die nag. “Ek probeer om myself nie teveel te druk om vroeg op te staan nie, want as die ander in die aande hul oë toemaak, is ek nog lank nie klaar gewerk nie.” Sy fokus baie op ’n balans tussen werk en vrye tyd. Iemand het haar eens beskryf as ’n werkslaaf maar haar persoonlike assistent het haar onlangs as ‘doelgerig’ beskryf wat haar die beste opsom.

“Ek sal nie ophou tot ek my volgende doelwit bereik het nie. Ek hou nie daarvan om ander teleur te stel, en nog minder om myself teleur te stel nie. Ek het ook met tyd geleer dat dit baie belangrik is om kapitaal te spandeer op goeie personeel. Ek sien dit as ’n belegging, want op die ou einde gaan jy met hul hulp baie hoër hoogtes bereik.”

“Ek beskryf myself as ’n entrepreneur. Besigheid is nie besigheid as dit nie albei partye bevoordeel nie. Dit is my motto as entrepreneur en ek glo as meer mense so kan besigheid doen, kan dit dinge vir ons almal baie makliker maak. Ek sien myself as ’n entrepreneur want ek hou van wat ek doen, en werp my hele hart en siel in wat ek doen. Ek is bereid om my naam aan my onderneming te koppel want dit is hoeveel ek geloof ek het in wat ek lewer. Ek sien myself as ’n entrepreneur want ek is streng as dit nodig is, maar my werkers weet ook dat my deur altyd oopstaan as hul hulp benodig. Die belangrikste van alles is dat ek myself nie hoër ag as enige werker in my fabriek nie. Ek kan nie self hulle masjiene hanteer nie en hulle kan nie die onderneming bestuur nie, maar ons moet mekaar respekteer. Ek is beslis ’n entrepreneur, want ek het nie gewag vir ’n geleentheid om hom voor te doen of na my kant toe te kom nie, ek het self ’n geleentheid geskep.

Fitbury: “Claim your power, change the world.”

Stitchbury: “We bring your apparel ideas to life!”