Vrouemaand: Miekeraai

VROULIKE ENTREPRENEUR

Mia Botha is ’n jong vroulike entrepreneur en fokus daarop om die nuutste modebykomstighede na elke vrou te bring deur dit landwyd aanlyn beskikbaar te maak.

VRYE TYD

In haar vrye tyd bring sy graag baie tyd met haar familie en vriende deur. Sy is lief daarvoor om saam met haar ma ’n koppie koffie by haar gunstelingkoffiewinkel te gaan drink. Mia lees gereeld die nuutste mode- en bruidstydskrifte om op hoogte te bly van die nuutste modeneigings, aangesien haar besigheid ook haar stokperdjie is. Haar liefde vir fotografie kom handig te pas as stokperdjie en in haar besigheid.

GOEIE ENTREPRENEUR

“Ek glo dat ’n goeie entrepreneur iemand is wat groot droom en ’n visie het van wat hulle in die toekoms wil bereik.

Die tyd wat jy aan jou besigheid bestee het ’n groot invloed op jou sukses, daarom is dit belangrik om jou tyd oordeelkundig aan te wend. Prioritiseer en maak gebruik van kundiges om die fasette van jou besigheid te ondersteun waarby jy nie uitkom nie.

Die heel belangrikste is dat ’n goeie entrepreneur nooit haar besigheid se ‘hoekom’ moet vergeet nie en haarself daagliks daaraan herinner.”

MIEKERAAI SE HOEKOM

“Miekeraai daag die wêreld se modenorms uit. Ons hervorm die persepsie dat dit duur is om in die mode te wees, deur die nuutse modebykomstighede teen ’n bekostigbare prys na jou toe te bring. Ons wil almal inspireer om ook modemal te wees. Ons produkte is van uitstekende gehalte en genoeg om enigiemand se kop te laat draai. Oorbelle, haarknippe, serpe en alles tussenin kan by Miekeraai gevind word.”

INSPIRASIE

“My vroegste herinneringe as ’n klein dogtertjie is van my met ’n oormaat juwele, grimering en hoëhakskoene uit my ma se kas. Dit was dus ’n natuurlike gevolg om iets soos juwele, waaroor ek mal is, te begin verkoop. Ek het vinnig agtergekom dat daar ’n groot aanvraag is na modieuse en bekostigbare bykomstighede, veral onder studente. Ek wou graag produkte lewer van uitstekende kwaliteit, teen ’n goeie prys. My daaglikse inspirasie vind ek in die nuutste modeneiging wat ek volg en aan vroue, jonk en oud, beskikbaar kan stel. Die tevredenheid en opgewondenheid wat die Miekeraai-bykomstighede aan my kliënte verskaf is vir my van onskatbare waarde. Ek is bevoorreg om my liefde vir modes elke dag te kan uitleef deur Miekeraai.”