Wanneer is die regte tyd om ’n grafiese ontwerper aan te stel?

Ontwerp jy tot dusver al jou onderneming se logo’s, sosialemediaplasings en enige ander grafiese ontwerpe? Dit het moontlik in die verlede gewerk, maar met ’n groeiende digitale mark en ’n hoër standaard wat gestel word aan hoe iets vertoon, kan jou ontwerpvermoëns dalk nie meer genoegsaam wees nie. Die vraag is natuurlik: Wanneer is dit die regte tyd om ’n grafiese ontwerper aan te stel? Hier is vyf tekens dat die tyd aangebreek het.

1. Jy het nie tyd nie

Ontwerpprojekte word uitgestel of gebeur net nooit nie en dit voel asof jy nie by alles uitkom nie. Eienaars van klein sakeondernemings moet verskeie hoede dra; van finansies tot operasioneel is jy kern tot die funksionering van jou onderneming en somtyds is daar net nie tyd vir alles nie. Indien jy nie die tyd het om self te ontwerp nie, is dit ’n aanduiding dat dit dalk tyd is om dié funksie uit te kontrakteer.

2. Jy is onervare

Daar is ongelooflik baie webtuistes aanlyn wat basiese ontwerpfunksies vergemaklik, maar hulle funksies bly altyd beperk. Daarteenoor is grafiese ontwerpers opgelei om ’n wye reeks ontwerpe te doen – en baie vinniger as wat jy dit self sal kan leer doen.

3. Jou ontwerpe is net “goed genoeg”

Goeie ontwerp is meer as net woorde en prentjies bymekaarsit. Ontwerp is veronderstel om ’n boodskap of gevoel aan die kyker oor te dra. Goeie ontwerp kan jou onderneming se waardes en doelwit aan die kyker kommunikeer. Indien jou ontwerpe dit nie doen nie, kan dit ’n negatiewe uitwerking op jou onderneming hê en kan jou kliënte vertroue in die produk of diens verloor. Maak seker jou ontwerpe is nie net “goed genoeg” nie, maar kommunikeer werklik die regte boodskap aan jou volgelinge.

4. Als lyk anders

Elke onderneming het ’n korporatiewe identiteit – of is veronderstel om een te hê. Dit is belangrik dat al die ontwerpelemente in jou onderneming mekaar komplimenteer – van kleurskema tot die lettertipe in jou logo. Wanneer jy dit nie in ag neem nie kan elke ontwerp anders lyk en sukkel jy om jou onderneming se handelsmerk te vestig. Indien jou brosjures, pamflette en besigheidskaartjies almal lyk asof dit aan verskillende ondernemings behoort, is dit dalk nodig om jou ontwerpe te hersien.

Voor jy ’n ontwerper aanstel:

  • Identifiseer jou onderneming se behoeftes: Is dit ’n langtermynaanstelling of kan jy met ’n vryskutontwerper oor die weg kom? ’n Vryskutontwerper is veral geskik vir ’n klein onderneming wat nie permanent van ’n ontwerper gebruik gaan maak nie.
  • Bepaal die projek: Wat is jou behoeftes? Is dit logo-ontwerp of ’n hele nuwe korporatiewe identiteit wat jy wil vestig? Maak seker die ontwerper wat jy wil aanstel spesialiseer in jou behoeftes. Sommige ontwerpers is uitstekend met bladuitleg maar kan nie met die vrye hand skets nie. Bepaal wat jou onderneming nodig het en maak seker jy stel iemand aan wat oor daardie vaardighede beskik.
  • Stel ’n begroting op: Die koste verbonde aan ’n projek gaan gewoonlik gepaard met hoe ervare die grafiese ontwerper is. Bepaal vooraf wat jy aan ’n projek kan bestee en probeer die beste ontwerper binne jou begroting kry.
  • Kyk na die ontwerper se portefeulje: Aangesien grafiese ontwerp visueel is, is dit moontlik om die kwaliteit van ’n ontwerper se werk voor die tyd te bepaal. Kyk of die styl van die ontwerp by jou behoeftes pas. Indien wel, pas die ontwerper dalk goed by jou onderneming.