Wenke om jou tyd beter te bestuur

Sommige besighede het beperkte besigheidsure en ’n kleiner werksmag as gevolg van die Covid-19-pandemie, en dit is nou die tyd om beter doelwitte te stel. Sekerlik die belangrikste hiervan is om hoëkwaliteitwerk in minder tyd te kan finaliseer. Hier is ’n paar wenke om jou te help om jou tyd beter aan te wend en só meer tyd te maak vir die dinge wat werklik saak maak.

1. Sit jou foon se kennisgewings af

Dit klink dalk eenvoudig, maar kennisgewings op jou foon lei jou aandag af – veral wanneer jy besig is met werk. Kennisgewings van boodskappe op onbenullige groepe en sosiale media breek konsentrasie en neem jou fokus van jou werk af. Hoewel jy dalk dink dat dit jou meer produktief maak om op verskeie plekke gelyk te kan fokus, het dit juis die teenoorgestelde effek. Navorsing wat in Amerika gedoen is, het bevind dat dit tot 23 minute kan neem om terug te keer na jou werk nadat jy ’n kennisgewing op jou foon ontvang het, veral in ag genome die feit dat die gemiddelde persoon 46 kennisgewings per dag kry.

2. Kyk net ’n paar maal per dag na jou e-pos

Die meeste mense wat deurentyd op hulle rekenaars werk, se e-posstelsel is heeldag aan en ontvang dwarsdeur die dag kennisgewings van inkomende e-posse. Die gevolg is dat jou aandag afgelei word deur werk wat eerder kon wag. Indien iets werklik ’n krisis is, sal dit nie per e-pos gekommunikeer word nie. Stel vir jouself ’n doelwit om net drie maal per dag jou e-posse na te gaan: een maal in die oggend, een maal in die middag en een maal laatmiddag.

3. Blok jou tyd uit

Stel ’n skedule vir elke dag op en blok tyd uit vir belangrike projekte waartydens jy geen ander afsprake maak of oproepe ontvang nie. Dit sal jou geleentheid gee om deeglike werk te kan doen sonder onderbrekings en sal verhoed dat jy onbenullige vergaderings of geselsies het in belangrike werktyd.

4. Stel ’n agenda vir elke vergadering op

’n Vergadering sonder ’n agenda kan tydrowend wees, veral wanneer allerhande sosiale geselsies tussendeur aangeknoop word. Dit kan maklik oorkom word deur ’n kort agenda vir elke vergadering op te stel. Dit hoef nie formeel te wees nie, bloot ’n paar kernpunte van bespreking wat hanteer moet word. Jy kan ook ’n reëling maak dat die tweeminuut-reël gevolg word, waarvolgens elke persoon twee minute het om die belangrikste punte wat hulle wil bydra, uit te lig.

5. Vat ’n blaaskans

Studies het bevind dat mense na 90 minute begin fokus verloor op ’n aktiwiteit. Om uitputting te voorkom, is dit daarom belangrik dat jy gereeld ’n blaaskans neem, verkieslik elke 90 minute, om te verseker dat jou denke vars bly. Navorsers stel voor dat jy sowat 15 minute rus na elke 90 minute se intensiewe werk.

6. Leer om “Nee” te sê

Wees eerlik met jouself wanneer jy nie werklik iets wil doen nie en leer om dan “nee” te sê. Hoewel dit aanvanklik moeilik kan wees, gaan dit jou die energie gee om meer tyd aan die take te bestee wat jy werklik wil en kan doen. Navorsing deur die Universiteit van Kalifornië het bevind dat daar ’n direkte korrelasie is tussen hoe moeilik dit vir iemand is om “nee” te sê en hulle stresvlakke, wat kan lei tot uitbranding en selfs depressie.

Deur klein veranderinge aan jou dag aan te bring, kan jy seker maak jy kry die meeste uit die ure wat jy by die werk deurbring. Alle mense het slegs 1 440 minute per dag, en dit is jou verantwoordelikheid om seker te maak dat jy dit ten beste aanwend.