Wenke vir verpakking van jou aanlyn verkope

Om die pakkies van jou aanlyn verkope te verpak, kan dalk heel eenvoudig klink. Jy kry bloot alles bymekaar, plaas dit in ’n boks of koeriersak en versend dit, nie waar nie? Indien jy dit só eenvoudig doen, is jy dalk besig om jou besigheid in die lang termyn skade aan te doen. Hier is ’n paar wenke oor hoe jy jou aanlyn verkope na die volgende vlak kan neem.

Wat het jy nodig?

Daar is ’n paar items wat jy nodig het wanneer jy aanlyn verkope versend. Die belangrikste hiervan is ’n skaal en ’n maatband vir items wat nie in die normale koeriersak pas nie. Omdat koeriermaatskappye op gewig en volumetriese grootte werk, beïnvloed jou verpakking die versendingskoste van jou pakkie drasties. Maak seker jy het die regte dimensies en gewig wanneer jy ’n koerierversending doen om sodoende te verseker dat jy jouself nie dalk in die voet skiet met koerierkostes nie. Daarbenewens is dit noodsaaklik dat jy al die nodige verpakkingsmateriaal het wat jy gaan nodig hê. Indien jy breekbare items versend, benodig jy items soos borrelverpakking of polistireenballetjies om die items wat jy versend te beskerm. Niks sal ’n kliënt so ontstel soos om ‘n gebreekte of beskadigde item te ontvang nie – veral nie as hul haastig is vir die produk nie.

Maak jou verpakking persoonlik

Maatskappye soos Yuppiechef verstaan hoe belangrik dit is om hul pakkies persoonlik te maak. Yuppiechef sluit by elke pakkie wat hulle versend ‘n handgeskrewe nota in. Die taktiek werk uitstekend vir aanlyn verkope wat soms onpersoonlik kan voel. Maak jou verpakking persoonlik, sluit oulike kaartjies of papier in wat pas by jou handelsmerk of produk wat jy verkoop. Sit ’n nota in die pakkie, ’n klein geskenkie of selfs ‘n afslagkoepon vir toekomstige aankope op jou webtuiste. Jy verseker groter lojaliteit deur ‘n persoonlike verhouding met jou kliënte te bou en jy stof jou mededingers in die mark uit.

Beïndruk jou kliënte

In die algemeen belê luukse handelsmerke baie in hul verpakking. Indien jy byvoorbeeld juweliersware verkoop, is dit ’n goeie idee om op te let na jou verpakking. Dink byvoorbeeld aan fluweelboksies wat jy vir jou ringe en oorbelle kan gebruik. Omdat jy ’n handelsmerk wil vestig, is dit ook ’n goeie idee om seker te maak dat jou naam of logo op al jou verpakking verskyn. Selfs al gooi jou kliënt jou verpakking weg, gaan hul assosiasie met jou handelsmerk baie anders wees as hul dit in ’n fluweelboksie ontvang teenoor ‘n sellofaansakkie. Dink byvoorbeeld aan die internasionale juweliers, Pandora. Hul verpakking is deftig met ‘n leerboksie, lint en mooi geskenksakkies wat die waarde-assosiasie van hul produkte verhoog.

Voordele van goeie verpakking:

  • Mense koop nie net ’n produk nie, hul wil ’n ervaring koop. Verpak jou pakkies soos ’n geskenk wat jy vir jou kliënte stuur. Goeie verpakking verbeter die verkoopservaring en motiveer toekomstige aankope.
  • Video’s van mense wat oulike pakkies oopmaak is baie gewild op webtuistes soos YouTube. Indien jou produk se verpakking goed genoeg is, kan dit dalk ’n goeie bemarkingsoefening wees wat meer blootstelling aan jou besigheid gee.
  • Motiveer kliënte om jou produk as ’n geskenk vir iemand anders te stuur. Indien jou verpakking werklik van topgehalte is, voel kliënte gemaklik om die produk net so vir hul geliefdes en vriende te gee. Dit skep by hul ‘n waarde-assosiasie en vertroue in jou produk.