Wenresep vir geluk en sukses in die werksplek

Deur Alana Bailey

Werk is vir baie mense ’n straf. Hulle leef van naweek tot naweek, of verloftyd tot verloftyd, en jaag teikens fanaties na. Noudat COVID-19-inperkings heeltyd die doelpale verskuif, word hulle spanningsvlakke al hoër en hulle frustrasies al meer.

Wat kan ’n werkgewer doen om te voorkom dat sy maatskappy hierdeur lamgelê word?

Personeelwelstand

Werkgewers moet nou, meer as ooit tevore, aandag aan die welstand van hulle werknemers gee.

Richard Branson is waarskynlik een van die mees suksesvolle entrepreneurs van ons tyd. Hy het verklaar dat sy kliënte tweede kom en sy werknemers eerste. Hy het besef waarom personeelwelstand belangrik is en pluk duidelik die vrugte daarvan.

Die term “personeelwelstand” verwys na dienste, voordele (nie net finansieel nie) en fasiliteite wat werkgewers aan werknemers bied. Waar personeel ervaar dat werkgewers empatie met hulle het, word ’n gesonde maatskappykultuur gevestig waar mense gemotiveerd voel om altyd hulle beste te gee. Gelukkige werknemers is ook geestelik en fisies gesonder en neem minder siekverlof. Dit is ’n wen-wen-situasie ‒ hoe gelukkiger die werknemers is, hoe hoër is hul produktiwiteit, hoe laer is die personeelomset en hoe sterker groei die maatskappy.

Fokus op prosesse in plaas van uitkomste

Personeel se welstand word direk deur die fokus van die werkgewer beïnvloed. Ongelukkig is uitkomste by die meeste maatskappye die vernaamste fokus, wat spanning skep en mense demotiveer. Werkgewers besef dus toenemend dat die sleutel tot ’n gesonde werksmag (en bankbalans!) is om die fokus van uitkomste na prosesse te verskuif.

Mense wat op die proses fokus en nie net heeltyd die verlangde resultaat voor oë hou nie, leer oor die algemeen vinniger en is meer suksesvol. Hulle leef ook meer vir hulle medemens – ’n gesonde Christelike benadering ‒ in plaas daarvan om op kollegas te trap in ’n poging om eerste die wenstreep te haal.

In die artikel, Why people who focus more on processes than outcomes gain more in their life, verduidelik Casey Imafidon dat mense wat op die proses fokus, makliker foute te bowe kom. Hulle besef dat foute ’n natuurlike deel van enige proses is en dat ’n mens daaruit leer. Hulle is dus minder bang om te innoveer, en sal daarom dikwels groter welslae behaal as die werker wat eenvoudig die proses probeer afjaag om die resultaat te behaal. Werkers wat veral op resultate konsentreer, kan gevaarlike risiko’s skep omdat hulle kortpaaie vat, terwyl die werker wat op prosesse fokus vir noodsaaklike vernuwing sorg in die strewe daarna om beter insette te gee. Laasgenoemdes is die mense wat vernuwend dink en voorkom dat ’n maatskappy stagneer.

Op pad na resultate is daar gebeure buite jou beheer wat jou mag teruggehou, byvoorbeeld jou gesondheid, tydsdruk, ekonomiese en politieke gebeure, kollegas se rol, toegewysde hulpbronne, … ja, selfs pandemies. Die voortdurende stryd teen dié gebeure, kan jou frustreer en selfs na depressie dryf. Wanneer jy egter op die proses fokus, het jy ’n interne lokus van beheer. Jy vind betekenis in die oomblik in plaas daarvan om deurentyd te hunker na eendag in die toekoms wanneer jy (dalk) die gestelde teiken gaan bereik. ’n Uitkoms wat nie behaal word nie, is dan nie ’n mislukking nie, maar deel van ’n leerkurwe in die strewe om heeltyd beter te vaar.

In die artikel, Ordinary people focus on the outcome. Extraordinary people focus on the process, vertel die skrywer hoe die akteur Bryan Cranston diep gefrustreerd was deur sy loopbaan. Hy het van oudisie na oudisie geskarrel, genoeg verdien om die pot aan die kook te hou, maar geen vreugde uit sy bestaan geput nie. Toe begin hy op die proses fokus: in plaas van dink daaraan dat hy gaan om ’n rol te probeer kry, het hy oudisies begin benader as ’n geleentheid om ’n wonderlike vertolking vir ’n spesifieke gehoor aan te bied, ongeag wat die uitkoms gaan wees. “Once I made the switch, I had power in any room I walked into, … which meant I could relax. I was free,” het Cranston vertel. Sy fokus het na gee deur, en genot put uit die proses verskuif. Vandag is hy $40-miljoen sterk, met talle toekennings op sy kerfstok. Hy het geleer dat hy nie die oudisie se uitkoms kan beheer nie, maar hy kan verseker dat hy sy beste daartydens gee.

Nog ’n voorbeeld van dié benadering, is die beroemde Britse skrywer, Somerset Maugham. Hy het gesê: “Ek skryf net wanneer inspirasie my tref. Gelukkig tref dit my elke oggend stiptelik om nege”. Sy fokus was nie hoeveel boeke hy gaan verkoop of literêre pryse hy gaan inoes nie, ook nie wat ander skrywers in vergelyking met hom bereik nie, maar eenvoudig om gedissiplineerd te doen wat hy die beste kan doen, naamlik skryf. Sodoende kon hy onbelemmerd groei én presteer.

Ons eie gholfkampioen, Gary Player, het hierdie standpunt geëggo toe hy verduidelik het “Hoe meer ek oefen, hoe gelukkiger raak ek”.

Wenners word gemaak deur daaglikse prosesse, nie deur die uitkomste wat hulle bereik nie.

Die herhaling van ’n bepaalde proses mag vervelig lyk, maar deur te fokus daarop dat jy wat jy doen, elke dag ’n bietjie beter doen, kan jy vervulling en vreugde daarin vind. Hieroor het die skrywer Ernest Hemingway gesê: “Daar is niks edel daarin om beter as jou medemens te wees nie. Ware edelheid is daarin te vinde om beter as jou voormalige self te wees”.

Die atleet wat heeltyd oor sy skouer na sy mededingers loer of net na die wenpaal kyk, gaan stokflou raak of selfs struikel. Die een wat egter sy beste gee, terwyl hy elke sekonde op die baan direk voor hom en sy eie wedloopplan fokus, nie daardie risiko’s loop nie.

Slotsom

Die boodskap aan werknemers is dus: word ’n meester van die prosesse in jou lewe. Doen dit deur diensbaar te wees. Put vreugde uit elke oomblik daarvan – tyd is ’n gawe. Resultate sál volg en jy gaan ’n sinvolle, gelukkig lewe hê.

Vir die werkgewer: gee erkenning aan jou werknemers vir hulle insette in die proses, eerder as om heeltyd op uitkomste te fokus. Dié benadering sal meer tot hulle welstand bydra as peperduur bonusse of die nasorg om uitgebrande personeel weer energie te probeer gee. Nie alleen gaan hulle persoonlik groei nie, maar die maatskappy beslis ook.

Dankie aan die skrywers van die volgende artikels:

https://www.lifehack.org/338162/why-people-that-focus-more-process-than-outcomes-get-better-results

https://medium.com/the-ascent/ordinary-people-focus-on-the-outcome-extraordinary-people-focus-on-the-process-6d9a0888df01

https://nextbigideaclub.com/magazine/4-reasons-stop-setting-goals-focus-process-instead/17791/

https://www.entrepreneur.com/article/315095