
Van twyfel tot vertroue: Hoe ’n natuurlike-olieonderneming begin het
Sê nou jou pad na entrepreneurskap begin by ’n klein botteltjie olie – nie om te verkoop nie, maar net om jouself gesond te hou? Dis presies hoe hierdie inspirerende storie van Janet Mathewson begin het. Aanvanklik was dit bloot ’n persoonlike gesondheidsreis. Die resultate was egter so merkwaardig dat sy nie anders kon as om dit met ander te deel nie. “The proof was in the pudding,” sê sy laggend, en dis toe dat die saadjie vir ’n onderneming geplant is. Een wat mense sou help om hulle gesondheid natuurlik te benader.
Soos met enige nuwe onderneming was daar struikelblokke. Skeptisisme was een van die grootstes. Mense vertrou eerder op chemiese middels met newe-effekte as op natuurlike oplossings. Maar met elke suksesverhaal het haar vertroue gegroei en daarmee saam ook haar vasberadenheid. “Ek probeer nie simptome stilmaak nie,” verduidelik sy, “ek soek die oorsaak en werk van daar af.” Haar winkel en ervaringsentrum is vandag ’n ruimte waar kliënte self kan ontdek hoe kragtig natuurlike produkte kan wees.
Om die winkel oop te maak, was een van haar grootste uitdagings tot dusver, maar deur vas te byt en op kliëntediens te fokus, het sy daarin geslaag om ’n lojale kliëntebasis op te bou. Elke dag is steeds ’n uitdaging, maar haar geloof en ’n diep passie vir mense hou haar op koers. “Ek is nie hier net om geld te maak nie. Ek wil ’n verskil maak,” sê sy.
Vir haar gaan leierskap oor integriteit, voorbeeld en voortdurende opleiding. Sy bou aan ’n span mense wat doelgerig en leerbaar is en hanteer selfs moeilike situasies met gebed, kalmte en wysheid. Haar langtermynvisie is duidelik: om landswyd uit te brei en om met sosiale media en selfontwikkeling op die voorpunt van innovasie te bly.
In haar persoonlike lewe steun sy op haar man wat haar deur dik en dun ondersteun. “Ek het geleer: Ek kán!” sê sy vol vertroue. Haar raad aan ander is eenvoudig maar kragtig: “As jy glo jy kan, dan kan jy.”
Haar nalatenskap? ’n Hart wat omgee, ’n lewe wat voluit geleef is en ’n pad wat ander wys hoe om van ’n chemiese wêreld na ’n natuurliker, gesonder leefwyse oor te skuif. Want vir haar gaan dit nie net oor olies nie; dit gaan oor mense en die verskil wat een mens se geloof, passie en toewyding kan maak.

