Ses goeie sake-idees vir 2021

Droom jy nog altyd van jou eie boekwinkel of boetiek? Of wil jy nog altyd jou eie blommewinkel besit? Miskien is ’n kleinsakeonderneming jou ideale werk. Met ’n sake-landskap wat konstant verander en aanlyn handel wat groei, kan ’n kleinsakeonderneming dalk ’n uitdaging wees. Die beste kleinsakeondernemings is dié wat minimale kapitaal vereis, maar ’n aktiewe mark het vir jou produk of diens. Om te verseker dat jou onderneming ’n goeie kans op sukses het, is daar ’n paar bedrywe wat jy kan oorweeg.

Troeteldierdienste

Die troeteldierbedryf is massief en mense spandeer verskriklik baie geld op hul dierevriende. Volgens kenners het besteding in dié bedryf met meer as 7% per jaar gegroei oor die afgelope vyf jaar. Die versorging en huisvesting van kliënte se wollerige maatjies is ’n relatief goedkoop en maklike onderneming om te begin. Daarmee saam kan jy ook goedere te koop aanbied soos troeteldierspeelgoed, -kos en ander items.

Kunsbenodighede

Kunswinkels kan ’n hoë winsmarge hê en bedien gewoonlik ’n nismark wat werklik in die produk ingekoop is. Die tipe kleinsakeonderneming is perfek vir iemand wat self ’n kunssinnige kant het en kennis het oor die produkte en die mark. Daarbenewens is daar ook ander geleenthede om inkomste te verbeter, soos byvoorbeeld die aanbied van werkswinkels en klasse. Sommige kunswinkels bied ook etes saam met hul klasse aan of ander hou kunsuitstallings in die winkel om addisionele inkomste te genereer.

Motorherstelwerk

Is jy ’n motorwerktuigkundige? Volgens kenners is dié bedryf een van die bedrywe met die beste marges. Juis vir dié rede is dit dalk ’n goeie idee om jou eie onderneming te begin. Beter nog, oorweeg dit om ’n mobiele diens te begin wat motors by die kliënt se huis diens. Dit verminder die kliënt se moeite wat nou nie nodig het om ’n geleentheid te soek om terug by die huis of werk te kom nie en maak jou aanbieding dus uniek.

Lapdoeke

Meer en meer ouers is omgewingsbewus en probeer die hoeveelheid weggooibare doeke wat hul gebruik verminder. Juis vir dié rede is daar ’n groot toename in die gebruik van lapdoeke onder jong ouers. Indien jy dink dié produk sal aanklank vind in jou omgewing kan jy selfs ’n afleweringsdiens begin wat vuil doeke optel en skoon doeke aflewer aan kliënte. Indien dit werk, kan jy jou produkaanbod verder uitbrei om ander babaprodukte op dieselfde basis te lewer.

Spesialiteitskoswinkel

Daar is altyd ’n mark vir ietsie unieks om aan te smul. ’n Klein koswinkel of deli wat unieke eetgoed verkoop of ingevoerde produkte op hul rakke het, is ’n goeie kleinsakeonderneming. Dié tipe onderneming is perfek vir iemand wat lief is vir kos en die kennis het om die regte produkte te kies. Oorweeg om byvoorbeeld unieke wyne en kase saam met items met ’n lang rakleeftyd aan te hou. Of hou produkte aan vir kliënte met spesifieke kosallergieë, soos byvoorbeeld gluten-allergieë. Jy kan ook spyseniering doen om ’n addisionele inkomstestroom te vestig.

Tweedehandse winkel

Die dae van neus optrek vir tweedehandse klere is amptelik verby. Deesdae word baie van dié klere juis as modieus beskou en val nou in die kategorie van “vintage”. Indien jy ’n duurder mark in die oog het, oorweeg dit om slegs tweedehandse ontwerpersklere aan te hou of begin ’n tweedehandse spesialiswinkel vir aandrokke. Indien klere nie vir jou is nie, kan jy altyd tweedehandse meubels koop, dit opkikker en in die mark sit.