7 maklike begrotingswenke wanneer jy vir jouself werk

  1. Noem “begroting” iets anders – Hou jy niks van die woord “begroting” nie? Dink dan eerder aan ’n ander benaming vir dié sensitiewe onderwerp. Dalk “voordelige verdeling van vooruitgang” of iets wat dit maklik vir jou gaan maak om jou geldsake te beplan. ’n Begroting is nie daar om jou te beperk of jou lewe sleg te maak nie, dit is eerder daar om eerlik te kyk na wat aangaan en die beste besluite te maak met die geld wat jy tot jou beskikking het. Jy is besig om ’n sisteem te ontwikkel om die slegte en goeie dae van ’n wisselende inkomste te balanseer wanneer jy vir jouself werk, en sodoende verseker jy vir jouself finansiële stabiliteit ten spyte van ’n onstabiele inkomste.
  2. Moenie elke sent nagaan tot in lengte van dae nie – Doen dit slegs aan die begin, sodat jy weet waarheen jou geld gaan of weet waarop jy die meeste geld bestee. Hou ’n finansiële joernaal, skryf neer wat, wanneer, waar en waarom jy iets koop. Dit gaan help om probleemareas te identifiseer en gaan ook help dat wanneer jy iets vir jouself koop, jy nie ná die tyd skuldig voel nie.
  3. Doen ’n kosteberaming van jou maandelikse en jaarlikse uitgawes – Met die bou van ’n eerste onderneming kan dit ’n groot uitdaging wees, maar dit is ook motiverend om ’n bedrag op papier te sien. Wanneer jy ’n verwagting het, weet jy min of meer of jy geld op die regte manier bestee. Hou jou uitgawes en inkomstes dop en tref ’n vergelyking om te sien of jy binne die beraming bly.
  4. Onthou om te begroot vir belasting – ’n Veilige persentasie om by te hou, is 30% van jou inkomste. Vir riglyne hieroor, gaan kyk op www.sarsefiling.co.za na die vereistes vir iemand wat op vryskutbasis werk.
  5. Dink aan spaargeld as ’n vaste uitgawe – Onthou daar is geen vakansiedae, siekdae of enige ander tipe vakansiedag wanneer jy vir jouself werk nie. Jou noodfonds moet ook heelwat groter wees as dié van iemand wat ’n gewone salaristrekker is. Begin met R1 000 tot jy sodoende ’n gemiddelde salaris gespaar het wat tot drie maande kan hou, slegs vir noodgevalle. Onthou ook om te spaar vir jou aftrede – bespreek hierdie bedrag met ’n finansiële beplanner wat jy vertrou.
  6. Bederf jouself wanneer jy doelwitte bereik met jou spaarfonds – Wanneer ’n kliënt jou ’n groot bedrag betaal, verdeel alles nes jy beplan het en dit wat oorbly plaas jy na jou spaarrekening. Die moeilikste deel is om by jou doelwitte te hou. Dit is veel makliker om vinnig van die geld te vat en bietjie vakansie te gaan hou as om te dink dat jy eerder moet spaar vir ’n kind se studies wat nog so ver voel. Om dus ’n gesonde balans te handhaaf, moet jy jouself ook in die hede bietjie bederf! Wanneer jy jou teikenbedrag bereik, gaan winkel toe en koop ’n paar mooi goedjies vir jouself of jou huis, of gaan spa toe. Beloon jouself en doen waarvan jy hou.
  7. Wees spaarsamig en georganiseerd – Dit is maklik om ’n kursus by te woon omdat jy voel dat jy die kennis nodig het en voel dat kennis immers ’n belegging in jou onderneming se toekoms is. Maak eers seker of jy dalk dieselfde inligting gratis op die internet kan kry. Beplan wat regtig nodig is en waarop jy moet geld uitgee, en waar jy eerder gratis kan wegkom.
  • Oorspronklike artikel deur Sabrina Rojas Weiss vir GoGirl Finances, aangepas vir AfriForum Sakenetwerk