7 produkte wat jy kan maak om aanlyn te verkoop

Is jy op soek na ekstra inkomste of ’n manier om iets kreatief te doen? Jy kan begin om jou eie produkte te maak en dit aanlyn te verkoop! Dit is natuurlik nie só eenvoudig nie, maar om te begin, het jy ’n idee nodig. Die beste idee is ’n kombinasie van iets waarin jy goed is of waarvoor jy ’n passie het, en wat redelik skaars in die mark is. Met ander woorde, as jy die kennis of aanleg het om keramiekbakke te maak en daar is boonop nie bestaande aanlyn winkels wat jou tipe ontwerpe verkoop nie, dan is jy op die regte spoor. As jy dit bloot beskou as ’n manier om geld te maak maar nie ’n passie daarvoor het nie, gaan die eerste struikelblok jou laat moed opgee. Jy gaan boonop nooit al jou kreatiwiteit en energie in iets stort waarvoor jy nie self ook ’n passie het nie.

So wat is jou moontlikhede? Hier is ’n lys van produkte wat jy kan maak om aanlyn te verkoop:

Badsoute

Badsoute is deesdae omtrent populêr, en hoe vreemder die vorm en meer uniek die reuk is, hoe beter. Verpakking is ook belangrik en mense moet kan assosieer met jou logo. Wees uniek en maak badsoute wat soos vrugte ruik, gebruik humor in jou verpakking of maak dit ’n maandelikse subskripsiediens.

Waarom badsout? Dit is maklik om self te maak, die kostes is laag en dit is ’n klein genoeg om by jou huis te stoor. Daar is ’n opwaartse kurwe in die hoeveelheid mense wat elke jaar hierna soek op Google.

Juwele

Die mark vir juwele is groot en mededingend. As jy dus juwele wil maak, moet jy kreatief wees en juwele maak wat werklik uniek is. Jy moet dalk net op kinders fokus of op ’n spesifieke tema. Dit is belangrik om jou produkte by soveel as moontlik mense te toets, en nie net familielede nie, maar potensiële kliënte.

Wenk: Wanneer jy juwele aanlyn wil verkoop is die foto’s belangrik. Gebruik ’n goeie fotograaf wat foto’s neem van ’n model wat die juwele dra.

Kerse

Dié mark raak nou vinnig versadig maar daar is nog geleentheid as jy op ’n nismark fokus. Jy kan byvoorbeeld kerse maak vir spesiale geleenthede, soos Christelike vakansiedae of verjaarsdae. Verdere moontlikhede sluit in die verkoop van doen-dit-self-stelle, aanbied van aanlyn klasse of doelgemaakte kerse spesifiek vir ’n individu.

Wenk: Unieke verpakking sal jou van jou kompetisie onderskei. 

Lekkernye

Sjokolades, gebak, konfyt of selfs versnaperinge vir honde! Jy kan geskenkpakke opmaak vir spesiale geleenthede, ’n nuwe inslag kry met tradisionele lekkernye of net fokus op unieke lekkernye vir kinderpartytjies. Om lekkers te maak kan pret wees maar maak net seker jy kan dit wel aanlyn verkoop!

Wenk: Dra kennis van die rakleeftyd van jou produk en maak seker dat jy jou eetbare produkte kan koerier.

Kuns

Jy kan kuns skep deur saam met ’n professionele fotograaf te werk of self unieke prente in kunswerke verander. Het jy ’n sekere styl waarvan ander sal hou? Jy kan werklik unieke prente, plakkate, skryfbehoeftes of kunswerke skep, of jy nou ’n grafiese ontwerper is of nie.

Digitale produkte

Watter soort digitale produkte kan jy skep? Is daar opleiding wat jy kan gee deur middel van ’n webinaar? Beskik jy oor kennis van ’n spesifieke industrie of area waaroor jy ’n e-boek kan skryf? Kan jy grafiese ontwerp doen en template skep vir verjaarsdagkaartjies? Dink watter vaardighede jy het en of daar iets is wat jy kan skep wat digitaal is. Die voordeel is natuurlik dat jy geen voorraad hoef aan te hou nie en dat jy een produk oor en oor kan verkoop.

Troeteldierbenodigdhede

Jy kan speelgoed of bykomstighede vir troeteldiere maak. Mense soek al hoe meer na unieke
geskenke vir hul troeteldiere. Jy kan klere, naamplaatjies of halsbande vir honde maak, fotosessies met eienaars en hulle troeteldiere verkoop of hondebeddens maak. Dié mark groei steeds en jy kan dit maklik maak vir eienaars om hul geliefde diere elke maand te bederf!

Shopify bied ’n gratis webklas aan oor hoe om jou idee te kies, te toets en jou eerste produk te verkoop. Klik hier om daarvoor te registreer.