AfriForum beteken hofstukke oor Toerismedepartement se rassediskriminasie met COVID-19-hulp

AfriForum het vandag hofstukke beteken vir ’n hersieningsaansoek om die Minister en die Departement van Toerisme te dwing om te verseker dat aansoekers se ras geen rol moet speel in die bystand wat die Departement se COVID-19-hulpfonds aan klein, mikro- en mediumgrootte-ondernemings (KMMO’s) verleen nie. Dié Departement dui tans aan dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en ekonomiese transformasie as kriterium vir bystand gebruik sal word.

Dít volg nadat AfriForum op 7 April 2020 vir Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die Minister van Toerisme, asook die Departement op terme geplaas het oor SEB- en ander vereistes. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die Minister en Departement nie op AfriForum se skrywe gereageer nie en het AfriForum nou geen ander keuse as om die howe te nader nie.

In die hofstukke versoek AfriForum dat die aansoek op ’n dringende basis hanteer word en reeds op 21 April 2020 aangehoor word aangesien daar nou reeds weekliks deur die Departement besluit sal word watter toerisme-ondernemings gehelp sal word. Dié fonds bevat tans R200 miljoen. AfriForum het ook verskeie gevallestudies by die hofstukke ingesluit van sakeondernemings wat deur hierdie arbitrêre vereistes benadeel word.

Volgens Kriel is dit skandalig dat die regering in ’n tyd waar almal in die land saam behoort te staan teen COVID-19 as gemeenskaplike vyand, besluit het om selfs hulpverlening aan sukkelende ondernemings te misbruik om ’n rassistiese-agenda te bevorder. Kriel het daarop gewys dat die Departement se rassevereistes op onbillike diskriminasie neerkom en daarom ongrondwetlik is. “Die uitgesproke doel van die Departement se fonds is om bystand aan toerisme-ondernemings te gee wat nadelig deur COVID-19 geraak word. Aangesien almal, ongeag hulle ras, nadelig deur COVID-19 geraak word, kan die Departement nie Artikel 9(2) van die Grondwet, wat regstelling van diskriminasie uit die verlede regverdig, as regverdiging gebruik vir diskriminerende hulpverlening teen die gevolge van COVID-19 nie.”

AfriForum moedig alle toerisme-ondernemings aan om steeds by www.tourism.gov.za/Pages/COVID19TOURISMRELIEFFUND.aspx om verligting aansoek te doen. SMS ook jou onderneming se naam na 45113 (R1) sodat AfriForum jou onderneming se besonderhede het en ons namens jou hofaksie kan instel as jou onderneming se aansoek op grond van SEB-vereistes afgekeur word. Jy kan ook ’n e-pos met jou onderneming se besonderhede na afriforum@afriforum.co.za stuur.