AFRIFORUM SAKENETWERK SE EERSTE WELSTANDSDAG TOON HOE BELANGRIK GEBALANSEERDE LEWE IS

AfriForum Sakenetwerk het vandag hul eerste welstandsdag vir entrepreneurs by Revival Fitness Center in Centurion aangebied om vir entrepreneurs te wys hoe belangrik dit is om na hulle gesondheid en emosionele welstand om te sien. Die entrepreneurs het ook tydens die geleentheid drie oefensessies kafgedraf wat Revival Fitness se instrukteurs aangebied het.

René Naudé, menslikehulpbronbeampte by AfriForum, het met die entrepreneurs gesels oor hulle emosionele welstand en waarom dit belangrik is om grense te stel.

“Grense is duidelike riglyne wat vir jou sê wat jy gaan toelaat en wat nie. Dit is baie dikwels moeilik om nee te sê, maar jy moet grense stel sodat jy kan prioritiseer en jou tyd reg aanwend.”

Volgens Naudé moet ’n mens na jou emosionele kapasiteit kyk en besluit wat gee vir jou energie en wat tap jou energie. “Die oomblik wat jy vir iemand of iets ja sê, sê jy indirek nee vir iets anders en dis ’n fyn balans wat entrepreneurs moet handhaaf sodat hulle nie te veel tyd aan hul onderneming afstaan en te min aan hulle gesin nie en andersom. Alhoewel tegnologie ’n bate is, kan dit ook ’n groot las wees omdat ’n mens maklik beskikbaar is. Dit is nog ’n rede waarom dit belangrik is om grense te stel.”

Michelle Britz van Michelle se kombuis wat al die pad van Ficksburg in die Vrystaat gekom het om die dag by te woon, het aan Forum Nuus gesê Naudé se praatjie was baie insiggewend en sy het die geleentheid terdeë geniet. “Dit het my geleer om te prioritiseer en om te besluit wat is belangrik in die lewe en waarvoor ’n mens moet nee sê.

“Die oefensessie was taai. Alhoewel ek op skool en daarna aan sport deelgeneem het, het ek namate ek my onderneming opgebou het, nie tyd gemaak vir oefen nie. Hierdie geleentheid het my so geïnspireer om weer te begin oefen.”

Britz meen as jy fisies gesond is, gaan jy geestelik ook gesond wees en as entrepreneur gaan dit jou soveel help om beter te beplan en ’n gebalanseerde lewe te lei. “Ek gaan beslis meer tyd maak om na my fisiese welstand om te sien en meer te oefen.”

Michelle se Kombuis maak en verkoop heerlike tuisgemaakte gevriesde etes en dié onderneming het tydens ’n droogtetydperk ontstaan omdat hulle as boervroue hul mans finansieel wou ondersteun. Hierdie dinamiese onderneming was vanjaar ’n finalis in AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie en hulle het ook al ’n Tinteltong Toekenning ingepalm.

“Ons wil ’n gesonde omgewing vir entrepreneurs skep of dit fisies of emosioneel is. Om welstandsdae aan entrepreneurs te bied beklemtoon die belangrikheid van welstand en hoe maklik ’n mens kan uitbrand indien jy nie die nodige aandag aan jou welstand gee nie. Welstand help met die hantering van stres en algehele gesondheid wat weer tot verhoogde produktiwiteit lei. Ons bring entrepreneurs bymekaar en dit is vir ons belangrik om ook na hulle welstand om te sien,” sê Nikkie Kriel, projekassistent vir AfriForum Sakenetwerk.