Arbeidswetgewing: Die 9 wette wat jy moet ken

Arbeidswetgewing in Suid-Afrika boer gedurig op koerantvoorblaaie, kwessies soos die nasionale minimum loon, werkloosheidsversekering en regstellende aksie word deur almal dopgehou. Maar daar is enkele kern bepalings wat klein besigheidseienaars van bewus móét wees. Dit is belangrik om te verstaan deur watter arbeidswetgewing Suid-Afrika gereguleer word. Die belangrikste wette vir ’n klein besigheidseienaar om dop te hou is die Wet op Arbeidsverhoudinge en die Wet op Basiese Diensvoorwaardes. Behalwe vir dié twee wette bestaan die arbeidswetgewing ook uit Sektorale Vasstellings, bedingingsraadooreenkomste, Wet op Billike Werkgeleenthede, Vaardigheidsontwikkeling, Vergoeding vir Beroepsbeserings en siektes, Beroepsgesondheid en veiligheid en die Werkloosheidsversekeringsfonds. Elke van die wette sal kortliks bespreek word:

  • Wet op Arbeidsverhoudinge

Die Wet op Arbeidsverhoudinge is seker een van die belangrikste wette, dit reguleer kollektiewe regte, beskerming teen arbeidswanpraktyke en ook die rol van vakbonde.

  • Wet op Basiese Diensvoorwardes

Die Wet op Basiese Diensvoorwaardes is die minimum vereistes wat ’n werkgewer met sy werknemers moet ooreenkom.

  • Sektorale Vasstellings (indien van toepassing op jou industrie)

Sektorale Vasstellings reguleer die indiensnemingsvoorwaardes van spesifieke bedryfsektore. Dit kan spesifieke bepalings wees vir byvoorbeeld die gasvryheid, sekuriteit en bosbedryf, of die groot en kleinhandel sektor en plaaswerkers.

  • Bedingingsraadooreenkomste (indien van toepassing op jou industrie)

Bedingingsrade word deur vakbonde en werkgewersorganisasies gevorm en hanteer kollektiewe ooreenkomste, arbeidsgeskille en maak voorstelle oor arbeidswette.

  • Wet op Billike Werkgeleenthede

Die Wet op Billike Werkgeleenthede (“Employment Equity”) is meestal op toepassing van werkgewers met 50 of meer werknemers, of vir besighede met minder werknemers maar R6 miljoen en meer omset per jaar het, afhangende van sektor.

  • Wet op Vaardigheidsontwikkeling

Die Wet op Vaardigheidsontwikkeling het ten doel om die kennis en vaardighede van die arbeidsmag uit te brei en het te doen met die beplanning vir opleiding en leerprogramme om dienslewering te verbeter. Die belangrikste aspek hier is dat werkgewers maandeliks ’n vaardigheidsontwikkelingsfooi (SDL) moet betaal as hulle verwag om meer as R500 000 in die volgende 12 maande aan salarisse te spandeer. Die fooi is 1% van die totale bedrag wat aan salarisse betaal word.

  • Werkloosheidsversekeringsfonds

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) bied verligting aan werknemers wanneer hulle werkloos raak, of nie instaat is om te werk nie as gevolg van kraamverlof of siekte. Dit bied ook verligting aan die bydraers se afhanklikes na sy/haar afsterwe. Volgens die werkgewersorganisasie LWO moet beide die werkgewer en die werknemer ‘n bedrag gelykstaande aan 1% van die werknemer se salaris by te dra tot die fonds.

LWO meen dat dit steeds die werkgewer se verantwoordelikheid is om te registreer by die fonds, asook hierdie bydraes (2% van die werknemer se salaris) aan die fonds oor te betaal. Die volgende werknemers moet geregistreer word: Werknemers wat minder as 24uur per maand vir ‘n werkgewer werk; Leerders; Openbare dienste; Werknemers wat ‘n maandelikse staatspensioen (vir ouderdom) verdien; Werknemers wat slegs kommissie verdien.

  • Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en siektes

Dié Wet behels werknemers se regte ten opsigte mediese en kompensasiefondse en behandeling van siektes. Vir meer inligting besoek: http://www.coidlink.co.za/Downloads/Tariffs/2009/Orthotic%20and%20Prosthetic%20services%2001%20April%202009.pdf

  • Wet op Beroepsgesondheid en veiligheid

Hierdie Wet is daarop gefokus om werknemers veilig te hou van gevare in die werkplek. Vir meer inligting, besoek: http://www.labour.gov.za/DOL/downloads/legislation/acts/occupational-health-and-safety/amendments/Amended%20Act%20-%20Occupational%20Health%20and%20Safety.pdf

Die arbeidsomgewing in Suid-Afrika is kompleks en werkgewers is nie altyd bewus van al die regulasies waaraan hulle moet voldoen nie. Die verantwoordelikheid berus by jou om jouself oor die onderskeie wette in te lig. Maak ’n punt daarvan om met jou rekenmeester te gesels oor die WVF en die belastingvoordele wat die Wet op Vaardigheidsontwikkeling toelaat indien jy werkers nuwe vaardighede leer. Lees die bepalings in die Wet op Basiese Diensvoorwaardes deur voordat jy ’n aanstelling maak en gebruik dit as riglyn om jou dienskontrakte op te stel. Jou werknemers is immers die ruggraat van jou besigheid, en die tyd wat jy spandeer om te verseker dat jy jou verantwoordelikhede teenoor hulle nakom, is tyd wat jou in die langtermyn gaan bevoordeel. Vir gereelde vrae en artikels oor arbeidswette, besoek gerus https://regsdienste.solidariteit.co.za/