Beëindiging van ’n dienskontrak

Voor die uitbreek van die COVID-19-pandemie het verskeie werkgewers dienskontrakte met nuwe werknemers gesluit. Die pandemie het baie werkgewers egter genoodsaak om hulle deure te sluit. Noudat die meeste besighede weer hul werksaamhede hervat het, is daar werkgewers wat nie genoeg fondse om die nuwe werknemer te betaal nie.

Dit lei tot die vraag of ’n werkgewer ’n geldige dienskontrak kan beëindig indien die werknemer nog nie daar begin werk het nie.

Artikel 186 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 66 van 1995 (die WAV) bepaal dat ’n werknemer die reg het om nie onbillik ontslaan te word nie. Hierdie beskerming is egter slegs op werknemers van toepassing. Dit is daarom belangrik om te weet wanneer iemand as ’n werknemer beskou word.

Artikel 213 van die WAV definieer ’n werknemer soos volg:

(a)   iemand, behalwe ’n onafhanklike kontrakteur, wat vir iemand anders of die Staat werk en wat besoldiging ontvang of geregtig is om besoldiging te ontvang; en

(b)   iemand anders wat op enige wyse help om die besigheid van ’n werkgewer voort te sit of te bedryf.

In die saak van Wyeth SA (Pty) Ltd v Mangele and Others [2005] 6 BLLR 523 LAC is die hof met die bogenoemde vraag gekonfronteer. In die saak is die werknemer ’n pos as ’n verkoopsverteenwoordiger aangebied. Die partye het ’n geldige dienskontrak gesluit, maar voordat die werknemer met sy diens kon begin het die werkgewer bevestig dat hy nie meer van sy dienste gebruik wil maak nie.

Die werknemer het die dispuut na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie verwys, waar die Kommissaris bevestig het dat die werknemer onbillik ontslaan is.

Die werkgewer het die besluit op hersiening na die Arbeidshof geneem. Die Arbeidshof het by aanhoor van die aansoek bevestig dat mnr. Mangele ’n party tot ’n geldige dienskontrak was en derhalwe as ’n werknemer beskou word vir doeleindes van die WAV.

Die werkgewer het die saak toe verder na die Appèlhof verwys. Die hof het bevind dat mnr. Mangele ’n werknemer geword het die oomblik toe ’n geldige dienskontrak gesluit is.

’n Werkgewer is derhalwe nie geregtig om ’n werknemer se diens op dié manier te beëindig nie, al het die werknemer nog nie fisies by die werkgewer begin werk nie. Indien die werkgewer so ’n dienskontrak wil beëindig sal hy/sy dit volgens Artikel 189 van die WAV moet doen.