Blitsgids: Bou jou handelsmerk só

Apple, Google en Microsoft is deur Forbes aangewys as die top drie handelsmerke ter wêreld. Ook onder die top tien is handelsmerke soos Samsung, Amazon, Disney en Toyota. Dié besighede het die bemarkingsguru Seth Godin se woorde ter harte geneem. Seth se opinie is soos volg: “moenie anders wees net om anders te wees nie, maar wees anders om beter te wees.” Die sterkste handelsmerke is dié wat kies waarin hulle die beste kan wees – en dan daardie waarde bemark eerder as die produk. Volvo is veiligheid, Coca Cola is verfrissing en Toyota is betroubaarheid – maar waarmee assosieer mense jóú besigheid?

’n Sterk handelsmerk doen drie dinge:

  • Dit maak die koop-besluit vir ’n kliënt maklik
  • Dit maak mense deel van ’n gemeenskap
  • Dit bou lojaliteit

Wat kan jy vandag doen om die BMW, Gillete of Intel vir jou teikenmark te wees? Die geheim is om die onderbewustelike assosiasie wat mense met jou handelsmerk maak, doelbewus te beïnvloed.

Identifiseer jou “hoekom”

Om die invloed van bemarking te verstaan, moet jy jou teikenmark se denkproses verstaan. Die menslike brein is hoofsaaklik verdeel in drie dele, naamlik die reptiel brein, die limbiese brein en die neokorteks. Ons besluitnemingsvermoeë lê in die limbiese brein aangesien dit ook is waar ons emosies, oortuigings en beginsels geleë is. Die limbiese brein (spesifiek die amigdala) word deur die neokorteks beïnvloed – die gedeelte waar abstrakte gedagtes en persepsies geleë is. Waarom is dit belangrik om te weet? Want dit beteken dat mense se gedrag op die ou end deur abstrakte idees beïnvloed word en nie deur logika nie. Mense maak ’n besluit om ’n handelsmerk te vertrou op grond van die “hoekom hulle doen wat hulle doen” eerder as die “wat hulle verkoop”. As mense weet hoekom jy doen wat jy doen, waarvoor jou handelsmerk staan en wat die betekenis daarvan is – dan sal hulle jou produk koop.

Ontwikkel jou hoekom sodat jy met alles wat jou handelsmerk verteenwoordig, ’n enkele boodskap kan kommunikeer. Elke advertensie veldtog, die kleurskemas, die skrif, die assosiasies en selfs die akteurs wat in ’n Volvo advertensie gebruik word is daarop gefokus om “veiligheid” te kommunikeer. Apple verkoop nie rekenaars nie, hulle verkoop innovasie. Jy moet daarom ’n lens bou waar deur mense na jou handelsmerk kan kyk. Om dit te doen moet jy presies weet wat jou hoekom is. Identifiseer jou hoekom in dié drie stappe:

Stap 1: Maak ’n woordelys

 

Om die hoekom, die waarde van jou besigheid, te kan omskryf moet jy dit in enkele woorde kan verwoord. Begin daarom deur minstens 40 woorde neer te skryf wat jy dink jou handelsmerk verteenwoordig. Hier is ’n paar vrae wat jy jouself kan vra om te help met die proses:

  • Wat belowe jy jou kliënte?
  • Wat moet mense dink wanneer hulle jou handelsmerk sien?
  • Watter ideale verteenwoordig jou handelsmerk?
  • Watter leefstyl of beginsels wil jy deur die bestaan van jou besigheid bevorder?

Stap 2: Kies jou gunsteling

 

Gaan nou deur jou lys en omkring al die woorde wat vir jou uitstaan. Probeer minstens helfte van die woorde wat jy neergeskryf het, uitskakel. Om woorde uit te skakel beteken nie dit is nie belangrik nie, dit beteken net dat dit nie die eerste woord gaan wees waarmee mense jou besigheid assosieer nie. Vermy gelaaide woorde soos “integriteit” of “goeie gehalte”. Sekere woorde word so algemeen gebruik dat dit naderhand unieke betekenis verloor of dit moeilik sal maak dat hulle net jou besigheid met daardie woorde sal assosieer.

Stap 3: Kies net 3

 

Verkort nou jou lys na net drie of vier woorde. Hierdie paar woorde is waarmee mense jou besigheid moet assosieer, en niks anders nie. Elke blog-inskrywing, ad word of video veldtog, webblad, foto, sosiale media blad, ontwerp of kommunikasie moet aangepas word op grond van dié woorde. Hierdie woorde is jou handelsmerk en alles moet daarby pas. Dit is die woorde wat by jou kliënte moet opkom as jy hulle sou vra waarvoor jy staan.

Alhoewel die oefening eenvoudig is, is die resultate verrykend. Jou kliënte word daagliks oorlaai met bemarkingsboodskappe uit alle oorde. Maar as jy jou hoekom verkoop in plaas van jou wat, sal jy deur die geraas ’n deurbraak maak. Bou jou handelsmerk deur ’n eenvoudige boodskap konsekwent te kommunikeer. As jy in drie woorde kan verduidelik wat jou primêre waardetoevoeging is, is jy reeds myle voor die massas.