Boekbespreking: The 4-hour workweek deur Tim Ferriss

The 4-hour workweek: Escape 95, live anywhere, and join the new rich i(2007) deur die entrepreneur Tim Ferriss het groot opslae onder lesers gemaak. Dié boek was vir vier jaar op die New York Times se besteverkoperlys, is in 40 tale vertaal en het wêreldwyd meer as 2,1 miljoen kopieë verkoop. Die vraag is: Waarom is die boek so suksesvol en sê soveel lesers dat dit ’n beduidende invloed op hul lewe gehad het? Die antwoord is dat Ferriss se boek verduidelik hoe elke persoon hul lewe kan inrig om nie deel van die tradisionele werkstruktuur te vorm nie. Pleks daarvan om elke dag ure lank te werk, geld vir ’n vakansie nou en dan te spaar en bloot net na aftrede uit te sien, stel Ferriss voor dat lesers eerder hul lewens anders ontwerp. Tyd is die nuwe eenheid van waarde en nie meer geld nie.

Ferriss het die konsep vir sy boek ontwikkel toe hy self 14 uur per dag aan sy onderneming BrainQUICKEN bestee het. Hy was oorwerk en het besluit om op ’n drie week lange vakansie te gaan – en dit was dié vakansie wat sy uitkyk op sy werkswyse verander het. Die drie kernbeginsels van Ferriss se boek kan jou ook help om meer produktief in minder tyd te wees sodat jy eerder jou energie kan bestee aan dit wat werklik vir jou saak maak.

Beginsel 1: Wees doeltreffender

Tim Ferriss se boek is grootliks op die 80/20-Pareto-beginsel geskoei. Vilfredo Pareto was ’n Italiaanse ekonoom wat in 1895 bepaal het dat sowat 80% van Italië se grond aan 20% van die bevolking behoort. Hierna hy ander lande ook bestudeer en dieselfde verskynsel opgemerk. Op grond hiervan en verdere studies het Pareto ’n beginsel gepostuleer dat 80%-uitset van slegs 20%-inset kom. Die probleem is dat die meeste mense produktiwiteit meet aan die hoeveelheid tyd wat hulle aan ’n taak bestee. Dié maatstaf is egter onakkuraat – produktiwiteit moet eerder aan uitset gemeet word. Ferriss se voorstel is dat ons onsself moet herprogrammeer om ons tyd doeltreffender te gebruik. Ons moet eerder 20% van ons tyd bestee aan dit wat 80% van die resultate lewer, en nie andersom nie.

Beginsel 2: Toets altyd jou sake-idees

Ferriss is self ’n suksesvolle entrepreneur en verstaan die moeite en tyd wat dit verg om ’n suksesvolle sakeonderneming op te bou. Daarom stel hy voor dat alle sake-idees eers getoets behoort te word om seker te maak dat daar wel ’n mark vir die produk of diens bestaan.

’n Maklike wyse om jou idee te toets, is om ’n enkelbladwebtuiste te skep waarop jy jou produk of diens bemark en te kyk of daar enige positiewe terugvoer is – nog voordat jy dié produk of diens ontwikkel. Dit is uiters belangrik dat jy terugvoer op jou idees kan kry. Laat mense hul e-posadresse invul om boaan die lys te wees sodra jy loods. Stel dan ’n bemarkingsnetwerk op en verseker dat daar werklik belangstelling in jou idee is. Enkelbladwebtuistes is ook nie moeilik of duur om te skep nie; programme soos ClickFunnels en UnBounce vergemaklik die proses aansienlik en verskaf selfs vooraf ontwerpte templette gratis of teen ’n klein bedrag. Uiteindelik is dit meer sinvol om ’n bietjie geld aan ’n enkelbladwebtuiste te bestee as aan tydrowende, duur produkontwikkeling wat nie ’n opbrengs op jou belegging kan waarborg nie.

Die tweede stap is om jou webtuiste te bemark deur Google Ads te gebruik. Indien jy nie mense na jou blad kan lok nie, gaan jy nie kan bepaal of jou sake-idee werk nie. Google verwerk 3,5 miljard soektogte per dag, wat die waarskynlikheid verhoog dat iemand jou webtuiste sal vind indien hul na jou produk of diens opsoek is. Die kuns is om te verseker dat jou sleutelsoekwoorde inderdaad op jou sake-idee van toepassing is.

Stap drie is om te bepaal hoe jou gehoor op jou idee reageer. Stel hul werklik belang? Vul hulle hul inligting in? Bepaal of die belangstelling verdere werk aan die idee regverdig. Indien baie mense belangstel, is dit ten minste ’n beter aanduiding van die moontlike sukses van jou idee; indien jy egter min of geen terugvoer kry nie, is dit dalk nodig om jou idee te laat vaar of ten minste aan te pas. Deur jou idees voor die tyd te toets, kan jy baie geld, tyd en energie bespaar en eerder fokus op iets nuuts wat dalk ’n treffer gaan wees.

Beginsel 3: Vra ’n premie

Sodra jy vasgestel het dat jou sake-idee wel gaan werk, is die volgende stap om jou prys te bepaal. Wil jy die goedkoopste in die mark wees, of ’n premie vir jou diens of produk vra? Volgens Ferriss is die antwoord dat jy altyd die onderneming moet wees wat ’n premie vra, want jy wil ook die onderneming wees wat ’n hoëgehalteproduk of -diens lewer. Gestel jou doelwit is om R10 000 per maand deur jou onderneming te maak. Indien jou produk R100 kos, beteken dit dat jy 100 produkte sal moet verkoop. Indien jou produk egter R200 kos, hoef jy slegs 50 produkte te verkoop. Die moeilikste deel van enige sakeonderneming is om mense te oorreed om vir jou produk of diens te betaal. Maak seker jy vra ’n premie vir jou produk of diens – dit maak dit makliker om jou ideale omset te bereik en verminder jou administrasie omdat jy met minder kliënte hoef te werk.

Ander lesse uit Tim Ferriss se boek:

  • Dit is makliker om iets ongeloofliks te skep as om bloot iets goeds te skep.
  • Hoe om meer onafhanklikheid by jou werk te geniet as jy ’n werknemer is
  • Hoe om jou tyd doeltreffender te bestee
  • Hoe om jou dag vir sukses te begin
  • Hoe om professioneel in die werksplek op te tree