Bou ’n reserwefonds op vir tye van onverwagse nood en/of krisisse

2020 was verseker vir die meeste Suid-Afrikaanse ondernemings en verbruikers ’n uitdagende jaar vanweë die impak van die onverwagse COVID-19-pandemie wat gepaardgegaan het met die regering se noodgedwonge implementering van inperkings en ander streng maatreëls op verskeie ekonomiese aktiwiteite tydens die grendeltydperk.

Volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank se kwartaallikse bulletin wat in September 2020 gepubliseer is, het die bruto binnelandse produk (BBP) van die Suid-Afrikaanse ekonomie gekrimp teen ’n jaar-tot-jaar-koers van 51% tydens die tweede kwartaal en teen 16,4% op ’n kwartaal-tot-kwartaal-basis op daardie stadium. Volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank is dit die grootste inkrimping van ekonomiese groei op ’n jaar-tot-jaar-basis sedert rekords in 1960 op ‘n kwartaallikse basis aangeteken is.

Inkrimping van ’n ekonomie dui in kort daarop dat ekonomiese groei nie meer plaasvind nie as gevolg van onder meer verbruikers wat nie meer geld spandeer nie en ondernemings wat nie meer geld investeer nie en/of nie meer uitbrei nie, en dit lei weer daartoe dat mense moontlik in die lang termyn hul werk kan verloor.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se publikasie van die kwartaallikse arbeidsmarkopname van kwartaal 3 (Quarterly Labour Force Survey, oftewel QLFS: Quarter 3) in November 2020 het die werkloosheidskoers met 7,5 persentasiepunte gestyg, wat die werkloosheidskoers op 30,8% te staan gebring het. Dit is die hoogste werkloosheidskoers sedert die kwartaallikse arbeidsmarkopname in 2008 van stapel gestuur is. Die opname dui ook verder aan dat die totale indiensname in die arbeidsmark met 1,7 miljoen mense verminder het in vergelyking met ’n jaar gelede.

Huishoudings is ook tans onder groot druk. Volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank se kwartaallikse bulletin het besteebare inkomste van huishoudings ook tydens die tweede kwartaal van 2020 gekrimp soos wat vergoeding van werknemers verminder is weens afleggings en verminderde salarisse wat tydens die grendeltydperk betaal is.

Dit word verder ondersteun met beskikbare inligting dat die nasionale spaarkoers merkwaardig met 5,1 persentasiepunte gedaal het van 15,8% in die eerste kwartaal tot 10,7% in die tweede kwartaal van 2020.

Positiewe nuus is egter dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank se monetêre beleidskomitee in November 2020 aangedui het dat soos wat die regering grendelbeperkings begin lig het, ekonomiese groei wel gestimuleer is en ekonomiese aktiwiteite wel in Augustus en September 2020 begin kop optel het.

Die vooruitskatting volgens die Suid-Afrikaanse Reserwebank is dat die Suid-Afrikaanse ekonomiese groei op ’n jaar-tot-jaar-basis vir die volle jaar van 2020 -8,0% sal wees teenoor die inkrimping van -8,2% wat in September 2020 aangedui is. Die verwagting is dat die BBP met 3,5% in 2021 en met 2,4% in 2022 sal groei.

Die positiewe is dat daar in die lang termyn lig aan die einde van die tonnel is, maar dat dit wel tyd gaan neem om weer op dieselfde vlakke te wees as vóór die COVID-19-pandemie. Die virus gaan ook steeds by tye kom en gaan, wat beteken dat inperkings ook ooreenkomstig ingestel sal word.

Ondernemings en verbruikers moet egter nie moed verloor ná die gebeure van die COVID-19-pandemie nie en die feit dat dit steeds nie uitgewoed is nie. Die geskiedenis het ons geleer dat daar wel krisisse ontstaan, soos byvoorbeeld die 2008/2009 finansiële krisis, maar dat alle siklusse wat afwaarts beweeg ook weer opwaarts beweeg. Dit is gewoonlik ’n tydperk van groot onsekerheid, maar ook ’n tydperk vir geleenthede.

Dié tydperk het mense hopelik weer laat besef dat dit nie altyd net goed gaan nie, maar dat krisisse enige tyd kan kop uitsteek en dat ’n mens gevolglik nie bokant jou skuldvlakke moet leef nie. Dit het ook die belangrikheid van ’n noodfonds beklemtoon; selfs al spaar jy slegs R100 ’n maand en skep sodoende vir jouself ’n reserwe- of noodfonds wat vir jou ’n buffer van ten minste drie maande kan opbou. Elke bietjie wat gespaar word help uiteindelik.

Verbruikers moet nooit dink dat skuld die oplossing is nie. Die geld wat geleen word moet op die ou einde terugbetaal word, maar soms raak die skuldvlakke onuithoudbaar en verloor mense alles. Hoewel die toekoms rooskleurig is, moet ’n mens besef dat besluite wat jy neem ’n impak op jou toekoms het, hetsy negatief of positief.

Bronne:

South African Reserve Bank

  • Quarterly Bulletins
  • Monetary Policy Committee – Media Statement, 19 November 2020

Statistics South Africa

  • StatsSA Quarterly Labour Force Survey, Q 3, November 2020