Bou ’n winsgewende besigheid: Hanteer verliese só (Deel 2)  

In die eerste van die reeks artikels oor hoe jy ’n winsgewende besigheid moet bou, is daar gekyk na hoe jy ’n realistiese begroting moet saamstel. ’n Begroting help jou nie net om jou spandering binne perke te hou nie, maar is ’n belangrike aanduier of jy genoeg inkomste kan genereer om jou kostes te dek. Dit gee jou ook ’n blik op jou kontantvloei benodighede indien jou inkomste of uitgawes seisoenaal is. Of dit mag nodig wees om befondsing te kry vir maande waar jou uitgawes hoër is as gewoonlik. Maar wat as jou begroting nie klop nie, jou uitgawes met jou weghardloop en jy besig is om ’n verlies te ly?

Hou jou rigtingwysers dop

Die belangrikste rigtingwysers in jou besigheid is die balansstaat en inkomstestaat. Maar wat is die verskil? Die balansstaat skets ’n prentjie van jou besigheid op ’n sekere tydstip. Dit dui aan wat die finansiële posisie van jou besigheid is in terme van bates, laste en ekwiteit. Waar die balansstaat vir jou sê wat jou bates en laste is, sê die inkomstestaat weer hoe jy dit gebruik het. So waarna moet jy in jou inkomstestaat en balansstaat kyk jy na om jou probleme te identifiseer?

  1. Bates teenoor laste: Bepaal eerste of jou besigheid se bedryfslaste meer is as jou bedryfsbates. Formule: Bedryfsbates / Bedryfslaste. Oplossing: As die verhouding minder is as een, kyk of daar enige bates is wat jy kan likwideer, byvoorbeeld vaste bates soos eiendom of bedryfsbates soos voorraad, sodat jy beter kontantvloei het om jou laste te betaal. Verder moet jy kyk na watter laste jy kan verwyder, byvoorbeeld ’n motor verkoop of afslag by jou krediteure probeer beding. Banke verkies byvoorbeeld dat ’n besigheid se verhouding twee tot een is in terme van hulle bates en laste.
  2. Breek dit op in persentasies: ’n Goeie manier om te sien hoe jou besigheid verander het, is om die items op jou balansstaat as ’n persentasie van die totaal uit te druk. Jy kan dit dan met vorige state vergelyk en sal byvoorbeeld sien dat jou voorraad altyd 12% van al jou bates was, maar nou 20% is. As dit die geval is terwyl jou totale bates redelik konstant was, dan weet jy dat jy eintlik minder voorraad moet hou of so gou moontlik van jou voorraad moet likwideer. Jy kan ook dieselfde oefening met jou inkomstestaat doen om te sien hoe sekere uitgawes gegroei het.
  3. Netto wins marge: Nog ’n belangrike verhouding om dop te hou is jou netto wins marge. Dit dui die besigheid se vermoeë aan om omset in wins te kan omskep. As jy ’n verlies ly, kan dit wees dat jy steeds genoeg inkomste genereer maar dat jy nie genoeg wins daaruit maak nie. Formule: Netto wins / netto verkope. Oplossing: Indien jy ’n afname in dié syfer sien, verbeter die marges op jou produk of diens of bestudeer jou inkomstestaat om te sien waar jy kostes kan bespaar.

Vier redes vir verliese

As jy ’n klein besigheid het is dit maklik om te sien as jou verkope een maand geval het of as jou uitgawes skielik die hoogte in skiet. Maar soos jou besigheid groei raak dit al moeiliker om te weet waar al die geld heen gaan. Soms het jy te veel kontant in vaste bates of bates wat moeilik is om in kontant om te sit, ’n ander keer mag dit wees dat jy geleidelik meer sukkel om geld by jou debiteure in te vorder of jou koste van verkope styg terwyl jou verkoopsprys nie verander nie. Maar kenners is eens dat daar hoofsaaklik vier redes is waarom baie klein besighede sukkel om wins te maak:

Rede 1: Swak boekhouding

As jy jou eie besigheid bedryf het jy geen verskoning om ongeorganiseerde of ’n onakkurate state te hê nie. As jou transaksies teen ’n slakkepas verwerk word of jy probeer jou eie boekhoudingsisteem skep, beteken dit jy het nie ’n duidelike idee van wat in jou besigheid aangaan nie. Dit is bekostigbaar vir ’n klein besigheid om boekhouding uit te kontrakteer vir ’n vaste maandfooi. Jy kort minstens maandelikse finansiële state en kontantvloei state wanneer jy dit nodig het. Aanlynplatforms soos Xero en SageOne werk ook goed omdat jy enige tyd by jou profiel kan inskakel en verslae of state trek. Dit laat jou ook toe om jou boekhouding so ver moontlik te outomatiseer, soos byvoorbeeld om jou bankstate outomaties in te trek en gereelde transaksies te rekonsilieer.

Rede 2: Gekombineerde bankrekeninge

Maak ’n aparte rekening vir jou besigheid oop en moet onder geen omstandighede jou persoonlike uitgawes met die van jou besigheid meng nie. Besigheidseienaars is dikwels te afhanklik van hulle besigheid vir hulle persoonlike kontantvloei. Eienaars wat nie hulle besigheid se inkomste skei van hulle persoonlike inkomste nie, gaan nie akkurate state kan hê of beleggers kry nie.

Rede 3: Verkeerde prys

Entrepreneurs is geneig om met ’n goeie idee weg te spring maar hulle produkte of diens word dikwels aan die begin vir te duur of te goedkoop verkoop. Dit is ’n moeilike eksperiment om die perfekte balans te kry tussen hoeveel kliënte jy wil hê teenoor die kwaliteit van kliënt wat jy soek. Moenie die fout maak en net ’n prys stel wat jy bereid sou wees om te betaal nie, want jy is dalk nie die teikenmark van jou besigheid nie. Besighede ly verliese wanneer hulle kostes vermeerder maar hulle pryse bly dieselfde, moenie bang wees om jou prys aan te pas nie – maak net altyd seker jy gee genoeg waarde vir jou kliënt.

Rede 4: Geen beleggings

Elke besigheid bereik ’n punt waar hy stagneer indien hy nie ’n kapitaalinspuiting kry nie. As jy nie geld in jou besighede spaar om in nuwe geleenthede, produkte of kanale te belê nie, gaan jy sukkel om aan te hou wins wys. Dit mag ook nodig wees dat jy van jou persoonlike kapitaal gebruik om jou besigheid uit te brei, as jy nie self in jou besigheid belê nie, gaan jy ook nie ander kan oorreed om dit te doen nie.

As jou besigheid ’n verlies ly is dit nie die einde van die wêreld nie, dit is ’n goeie geleentheid om jou state met meer doelgerigtheid deur te gaan en die belastingvoordele te benut terwyl jy kan. Dit help nie jy probeer jou state aanpas om wins te wys wat daar nie is nie of jou state bloot net te laat opstel om so min as moontlik belasting te betaal nie. Jou finansiële state vertel die storie van jou besigheid, jou werk is om dit so akkuraat as moontlik te hou en betyds in te gryp as die rooi ligte begin flikker.