Die Vierde Nywerheidsrewolusie – wat klein besighede in gedagte moet hou

Deur Alana Bailey

Een van die gonsterme van ons tyd (buiten “COVID-19”, “koronavirus” en “die nuwe normaal” wat die laaste paar maande gesprekke begin oorheers het), is die Vierde Nywerheidsrewolusie. Daar is selfs in vanjaar se staatsrede en begrotingsrede daarna verwys. Ekonome maak allerlei bewerings oor beroepe wat gaan verdwyn en verskyn, en hoe dit ons lewe gaan raak. Waaroor gaan die bohaai?

Wat het die eerste drie rewolusies behels?

Die Eerste Nywerheidsrewolusie het in die agtiende eeu plaasgevind. Dit het in 1769 ’n aanvang geneem toe uitvinders soos Richard Arkwright en James Watt meganisasie moontlik gemaak het deur water en stoom in te span.

Die Tweede Nywerheidsrewolusie het in die negentiende eeu begin. In die 1870’s het Thomas Edison met sy pionierswerk op die terrein van elektrisiteit verklaar dat dit die wêreld gaan verander. Deur gas, olie en elektrisiteit aan te wend om energie op te wek, het dit inderdaad gebeur!

Die Derde Nywerheidsrewolusie het in die twintigste eeu plaasgevind met die ontdekking en aanwending van elektronika en inligtingstegnologie – iets waarmee ons feitlik almal daagliks werk.

Waaroor gaan die vierde rewolusie dan?

Die Vierde Nywerheidsrewolusie verwys na dit wat tans gebeur, naamlik waar lyne tussen die fisiese, biologiese en digitale wêrelde begin vervaag met die gevolg dat tegnologie en kunsmatige intelligensie letterlik nuwe lewenswyses begin moontlik maak. So is daar reeds “slim” huise wat sonder die inwoners se inmenging lig en temperatuur beheer, yskaste wat inkopielysies saamstel en kruideniersware bestel, asook motors wat hulleself bestuur. Die tegnologie wat dit vir blinde mense moontlik maak om gesigte te herken, is selfs wonderliker. Hommeltuie wat gesigte herken en dan ingespan word om sluipmoorde te pleeg, is selfs meer skrikwekkend.

Wat moet klein besighede doen om nie agter te raak nie?

Indien jy wil vra wat ’n besigheidseienaar en sy personeel nou te doen staan, oorweeg gerus die volgende maklike planne wat reeds vandag al in werking gestel kan word:

  • Lees oor nuwe ontwikkelinge – daar is baie betroubare gewilde artikels waaruit jy meer kan leer. Fokus veral op dié wat jou werksveld raak.
  • Aanvaar dat ons in ‘n tyd leef wat vereis dat ons nooit gaan ophou leer nie – soos om nuwe selfoonmodelle baas te raak, nuwe rekenaarprogramme te gebruik, of selfs aanlyn te koop en verkoop (wat baie mense se behoud was tydens die Vlak 5-grendeltyd).
  • Met soveel tegnologie en moontlikhede om ons, gaan die ferm optrede van mense met gesonde waardes en etiek noodsaakliker word. Ons sal leiding moet neem om die misbruik van tegnologie teen te staan. Gemeenskapsorganisasies gaan noodsaaklike insette moet lewer hieroor in die volgende paar maande en jare. Ons moet betrokke raak om te verseker dat wat ontwikkel en gebruik word, in ons gemeenskap se belang is.
  • Tegnologie wat menslike kontak uitskakel, van aanlyn handel tot onbemande winkels (wat reeds in Europa baie algemeen voorkom), het ook tot gevolg dat minder persoonlike kontak plaasvind. Mense gaan dus makliker vereensaam. Dít is waar die klein besigheid wat uitnemende diens lewer, maar ook goeie verhoudings met sy kliëntebasis handhaaf, die voorsprong gaan hê. Maak seker dat kontak met die kliënt iets besonders is!
  • Verbruikers se behoeftes gaan saam met tegnologie verander. Besighede sal gedy as hulle hulle mark verstaan en aan dié verwagtinge kan voldoen.
  • Diegene wat produkte vervaardig of verkoop, moet ook verstaan hoe hul produkte deurentyd verbeter kan word om byvoorbeeld mee te ding met produkte wat op aanvraag met 3D-drukkers gedruk kan word.

Soos alle nuwe ontwikkelinge, het die ontdekkings wat in die Vierde Nywerheidsrewolusie die lig sien, die potensiaal om beide goed en kwaad te doen. Eerder as om daarvan te probeer wegskram, moet klein besigheidseienaars op hoogte van ontwikkelings bly en kyk hoe dit tot hulle én hulle gemeenskap se voordeel aangewend kan word. Met so ’n ingesteldheid kan die Vierde Nywerheidsrewolusie ’n nuwe bloeityd vir sakelui beteken.