Blogplasings

Deur Danielle van Heerden

Artikel 188 van die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 (die WAV) bepaal dat daar twee basiese vereistes is waaraan werkgewers moet voldoen voordat enige ontslag as billik beskou kan word, naamlik:

  • Prosedurele billikheid; en
  • Substantiewe billikheid.

Dit is twee onafhanklike vereistes waaraan die billikheid van ontslag beoordeel moet word.

In hierdie artikel gaan ons fokus op die vereiste vir prosedurele billikheid.

Prosedurele billikheid verwys na die stappe wat die werkgewer gedoen het om tot ’n bepaalde besluit oor ’n werknemer te kom. Die beginsel is eenvoudig, maar die praktyk toon dat die toepassing ingewikkelder is.

John Grogan, ’n bekende Arbeidsregskrywer, bevestig: “It is difficult, if not impossible, to set out a complete list of requirements of a fair procedure, and it may be dangerous to assume that fairness can be attained simply by following a prescribed checklist.”

In Bylae 8: Item 4 van die WAV is daar riglyne vir ’n billike prosedure vir ’n dissiplinêre verhoor. Dit is belangrik om kennis te neem dat die kode ’n algemene kode is en slegs as riglyn dien. Werkgewers wat dissiplinêre kodes ingestel het, verbind hulle tot die prosedurele vereistes in hul kode of beleid en sal dan dienooreenkomstig beoordeel word.

Item 4 van Bylae 8 behels onder meer dat die werkgewer ’n redelike ondersoek moet instel om vas te stel of daar wel gronde vir dissiplinêre stappe is, en dat werknemers ’n geleentheid moet kry om hul kant van die saak binne ’n redelike tydperk met die nodige bystand te stel. Die werkgewer moet die werknemer daarna skriftelik van sy besluit inlig.

Die minimum vereistes vir ’n billike dissiplinêre verhoor word vervat in die saak van Avril Elizabeth Home for the Mentally Handicapped v CCMA & others [2006] JOL 17623 (LC), waar daar onder meer beslis is dat werknemers ʼn billike kans gegun moet word om voor te berei vir die verhoor met die hulp van ʼn medewerker of ʼn vakbondverteenwoordiger. Werknemers moet volledig in kennis gestel word van die aanklagtes teen hulle in ʼn taal wat hulle verstaan, sodat hulle behoorlik vir die verhoor kan voorberei. Die aanklagtes moet billik en op die verhoor van toepassing wees. Daarna moet die werknemers ʼn billike geleentheid gegun word om hul saak te stel in antwoord op die aanklagtes teen hulle, met ander woorde die audi alteram partem-reël.

In bogenoemde saak het regter Van Niekerk hom sterk uitgelaat teen die kommissaris se formalistiese en strafregtelike benadering tot prosedurele billikheid. Die hof het dit duidelik gestel dat daar nie van werkgewers verwag word om regskenners te wees of om ingewikkelde prosedures in te stel nie.

Kommissarisse se toepassing van prosedurele billikheid is dikwels inkonsekwent, en ons sal jou derhalwe aanraai om met ’n arbeidskenner in verbinding te tree voordat jy ’n werknemer ontslaan.

Kontak ons gerus indien jy groter duidelikheid oor prosedurele billikheid verlang.

Deel die artikel