Doelwitte: Stel jou besigheid se visier reg in

Doen jy wat 80% van entrepreneurs nie doen nie?

Volgens Forbes erken meer as 80% van klein besigheidseienaars dat hulle nie hul maatskappy  se doelwitte meet nie. Die statistiek is kommerwekkend aangesien meeste van ons sal instem dat doelgerigtheid noodsaaklik is vir sukses. Volgens die doelwit-bestuursplatform Workbook verloor entrepreneurs 30% van hulle kapasiteit en potensiaal om te presteer as hulle nie op hulle doelwitte fokus nie. Maar hoe kan jy meer doelgerig wees? Stel die visier vir jou besigheid weer in met dié paar stappe:

1. Stel konkrete doelwitte

Dit mag vanselfsprekend klink, maar dit is belangrik om te benadruk dat ’n doelwit nie ’n visie of missie is nie. As jy ’n visie het om die mees gesogde gastehuis in Pretoria te wees, moet jou doelwitte ’n maatstaf wees wat wys wanneer jy dit bereik het. Wat moet gebeur vir jou visie om waar te word? Vir ’n gastehuis sal jy byvoorbeeld besluit dat die aantal verwysings van kliënte en jou aantal sterre op TripAdvisor die bepalende faktore is wat jou visie sal verwesenlik. ’n Konkrete doelwit sal dan wees om jou aantal kliënte wat deur verwysings verkry word met 20% te vermeerder oor die volgende ses maande. Of dat jy jou e-pos lys met 200 adresse wil vergroot sodat jy 25 bykomende kommentare op TripAdvisor kan kry in die volgende drie maande.

’n Doelwit moet maklik verstaanbaar wees, jy moet presies wees hoe jy dit sal meet en jy moet seker wees dat, indien jy dit bereik, dit die uitkoms gaan gee wat jy soek.

2. Stel drywers vir jou doelwitte op

Doelwitte is net effektief as daar drywers is wat dit aanmoedig. Mense se gedrag word deur positiewe en negatiewe drywers beheer. As jou werknemers jou voorraad steel, beteken dit dat die omgewing en mede-werknemers hulle nie dryf om die maatskappy bo hulle eie behoeftes te plaas nie. Sekuriteitskameras kan die omgewing verander op so wyse dat jou werknemers die pyn sal wil vermy om gevang te word. Of as hulle werklik glo in die visie van die maatskappy sal hulle eerder gedryf wees deur die plesier om deel te wees van iets groter as hulself. Mense word gedryf deur of pyn of plesier. Die geheim is om te identifiseer watter drywers jy nodig het om die gewenste gedrag te kry vir die uitkoms wat jy soek. Nie net vir jou werknemers nie, maar ook vir jou.

As jy ’n doelwit het om 5kg te verloor binne die volgende 2 maande, gaan jy ’n drywer nodig hê om jou aanspreeklik te maak. ’n Voorbeeld hiervan sou wees om ’n vriendin in te span wat reeds daagliks oefen, om saam jou te oefen. Nog ’n drywer kan wees om vir jouself ’n oefen DVD aan te skaf omdat jy weet dat gimnasium toe ry jou maklik ontmoedig. Watter drywers sal jou aanspreeklik maak vir jou besluite, die uitvoer daarvan vergemaklik of die gewenste gedrag beloon?

In jou besigheid mag jy dalk ’n doelwit vir jou werknemers hê dat hulle geld moet spaar en spaarsamig met voorraad moet werk. Maar die vraag is wat dryf hulle tans om dit nie te doen nie? Mense doen dit wat die maklikste is. Is daar ’n nadeel as hulle dit nie doen nie of ’n voordeel as hulle dit wel doen? Drywers bepaal die gedrag en gedrag bepaal resultate.

3. Fokus op die 20%

Vilfredo Pareto was ’n bekende Italiaanse ekonoom en filosoof in die 1800’s en het die beginsel van 80/20 bekend gemaak. Die 80/20 reël, of die Pareto-beginsel, meen dat net 20% van faktore dikwels verantwoordelik is vir 80% van resultate. Die Pareto-beginsel is goeie nuus vir entrepreneurs, dit beteken dat ons nie op meer data en meer take moet fokus nie – maar juis  op minder.

Daar is ’n goeie kans dat 20% van jou kliënte verantwoordelik is vir 80% van jou inkomste. Of dalk is 20% van jou bemarkingsinisiatiewe verantwoordelik vir 80% van die navrae wat jy ontvang. Dieselfde is ook waar vir doelgerigtheid, daar is tien teen een net 20% van goed waarop jy moet fokus om jou besigheid te groei. As jy jouself besig hou met die 80% van goed wat nie ’n langtermyn effek op jou besigheid gaan hê nie, is jy besig om soos baie ander entrepreneurs van jou potensiaal by die venster uit te gooi.

Begin dadelik en identifiseer vir jouself die enkele take en maatstawwe wat werklik jou verkope beïnvloed en delegeer, verwyder of kontrakteer die res uit.

4. Leef daagliks ’n doelgerigte lewe

Spreuke 4:26 lui: “Baken jou koers, dan sal jy seker wees van elke tree.” Om doelgerig te leef is om daagliks jou visier in te stel op die enkele doelwitte wat ’n verskil gaan maak. Baken af wat belangrik is, dan sal elke tree wat jy gee in die regte rigting wees.