Eensydige wysigings van diensvoorwaardes 

Hoewel die meerderheid werkgewers die skuif na vlak 3 van die inperkingsregulasies verwelkom, ervaar baie ondernemings reusedalings in hul ekonomiese omset. Werkgewers wat reeds hulle bedrywighede in vlak 4 kon hervat, het aangedui dat inkomste die afgelope maand moeiliker was om te bekom as wat die geval was voordat die beperkings ingestel is. Verskeie werkgewers het ons meegedeel dat dit hulle meer geld kos om hulle besighede onder die streng vereistes en swak ekonomie oop te maak as wanneer hulle gesluit bly.

Dit het tot gevolg dat werkgewers steeds nie kan bekostig om hulle werknemers te vergoed nie. Werkgewers word gewaarsku teen oorhaastige besluite, sonder die nodige inagneming van hulle werknemers se regte. Indien ’n werkgewer se bedrywighede toegelaat word om in vlak 3 te hervat is hy/sy nie geregtig om eenvoudig net ’n werknemer se salaris te verminder nie. In die geval waar werknemers hul dienste lewer, is hulle geregtig op hul volledige besoldiging.

Diensvoorwaardes wat in ’n dienskontrak vervat word, is afdwingbaar. Die gemeenregtelike reël dat ’n kontrak nie eensydig gewysig kan word nie, is ook op ’n dienskontrak van toepassing.

Indien werkgewers nie kan bekostig om hulle werknemers se volle salarisse te betaal nie, sal ’n werkgewer genoodsaak wees om daaroor te onderhandel en toestemming te verkry.

As die werknemer weier om sy/haar toestemming te gee, sal die werkgewer moet kan bewys dat: die wysigings deur operasionele vereistes genoodsaak word; daar op ’n billike en regverdige wyse met die werknemers oor die wysiging (verminderde salaris) gekonsulteer is en dat werknemers die geleentheid gegun was om ander alternatiewe te stel en besware te maak.

Werkgewers moet verder kennis neem dat Artikel 187(1)(c) van die Wet op Arbeidsverhoudinge bepaal: “ontslag is outomaties onbillik indien die rede vir ontslag is om die werknemer te verplig om ’n eis ten opsigte van enige aangeleentheid van onderlinge belang tussen die werkgewer en die werknemer te aanvaar”.

Alhoewel die Wet op Arbeidsverhoudinge die eensydige wysiging van diensvoorwaardes en die ontslag van werknemers weens hulle weiering om die wysiging van die diensvoorwaardes te aanvaar verbied, erken ons howe dat werknemers wat weier om wysigings te aanvaar se diens wel beëindig kan word onderhewig daaraan dat daar substantiewe operasionele gronde teenwoordig is en dat daar ’n regverdige proses (soos vervat in Artikel 189 van die WAV) gevolg word. Ons regstelsel vereis derhalwe dat daar aan billikheid gehoor gegee moet word.

Indien werkgewers enige bystand verlang kan hulle ons kontak vir verdere inligting.