Entrepreneur van die Jaar-kompetisie 2023: Hiér is die wenners

AfriForum Sakenetwerk het op 10 en 11 Oktober die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie aangebied in samewerking met Akademia, Steyn IP, Kwikstert, Acctiva Accounting, WoLK en Senbel. Danie Rossouw, die eienaar van The Butcher & Son, is op hierdie geleentheid gekroon as Entrepreneur van die Jaar vir 2023.

The Butcher & Son se fondament is gebou op die volgende kernwaardes: konsekwentheid, kwaliteit, kommunikasie, diens en familie. “Ons produk is vir almal, maar ons teikengehoor is beslis meer Afrikaans. Ons ploeg terug in die gemeenskap – my mense van die Helderberg-area – en ons speel ook ’n rol by ouetehuise, Afrikaanse laerskole en vele meer. Ons doen moeite om ’n buitengewone produk te lewer en kyk veral na spesiale beesrasse vir ons vleissnitte,” sê Rossouw.

Juanita Smit, eienaar van Brandefyn in Potchefstroom is deur die beoordelaars en ander finaliste as Netwerker van Formaat aangewys. “Brandefyn is ’n trots Suid-Afrikaanse produk wat ontwikkel is met die doel om die persepsie rondom vrouens en brandewyn radikaal te verander, omdat die geliefkoosde Afrikaner drankie ook vir die fyner geslag bedoel is – net in styl!” sê Smit.

Die finaliste moes elkeen ’n voorlegging voorberei om aan die uitgesoekte paneel voor te lê. Die beoordelaars by vanjaar se kompetisie was Lizette Volkwyn (meesterlewensafrigter, skrywer, internasionale spreker, meester- NLP-praktisyn en -afrigter), Amorie Blignaut (’n eksterne kontrakteur by die Universiteit van Suid-Afrika), Tienie Ehlers (’n bestuurskonsultant wat spesialiseer in strategie, leierskap en menslike hulpbronne), Lizel van der Westhuizen (eienaar van Full Circle Image), en Francois de Wet (stigter van Wamly).

“Hoewel daar groot pryse op die spel is, is die kompetisie ook uniek danksy die platform wat dit aan die wenner bied. Die wenner se produk of diens word wyd op verskillende sosialemediaplatforms versprei, asook op nuusplatforms soos Maroela Media en in die Forum Tydskrif. Ons wil deur dié kompetisie plaaslike entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hulle harde werk raak en harde werk is noodsaaklik om in Suid-Afrika suksesvol te wees. Die finaliste in vanjaar se kompetisie het weereens bewys dat Suid-Afrikaanse en veral Afrikaanse entrepreneurs geen einde aan kreatiewe vermoëns het nie,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

“Akademia is ’n trotse vennoot van dié Afrikaanse entrepreneurskompetisie wat elke jaar net nóg groter en beter word. Die kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ’n publisiteitshupstoot nodig het en uitstekende advies van kundiges in die gebied wil ontvang. Ons sien uit om die kompetisie volgende jaar verder uit te bou en kennis met nóg entrepreneurs te maak wat ’n verskil in hulle gemeenskappe maak,” sê Mareli Swanepoel, projekbestuurder by Akademia.