Skryf nou in vir die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie

AfriVriendelik vat hierdie jaar hande met Akademia om die entrepreneur van die jaar aan te wys. Akademia het vir vier jaar (2013 tot 2016) die bekende Sakeplan kompetisie aangebied en AfriVriendelik bied sedert 2017 die Entrepreneurskompetisie aan. Saam kan ons soveel meer vir entrepreneurs bied.

Sedertdien het meer as 200 entrepreneurs aan dié kompetisie deelgeneem en het meer as 3 000 lede van die publiek vir hul gunstelinge gestem. Louis Loubser het in 2017 met sy Tree Hog gewen, en in 2018 het die dames van Oh-Lief met die louere weggestap.

Ons het die vereistes vir vanjaar se kompetisie ’n bietjie uitgebrei en die kriteria waaraan die wenner nou moet voldoen, is:

  1. die entrepreneur moet al vir tussen een en tien jaar handeldryf;
  2. die produk of diens moet ook in Afrikaans aangebied word (en nie net in Engels nie);
  3. die produk of diens moet mededingend wees;
  4. daar moet maklike toegang tot die produk of diens wees;
  5. die produk of diens moet volhoubaar wees;
  6. dit moet die potensiaal hê om uit te brei;
  7. die entrepreneur moet geloofwaardig wees;
  8. die entrepreneur moet van tegnologie soos sosiale media gebruik maak;
  9. daar moet finansiële beplanning wees; en
  10. die entrepreneur moet goed kan bemark.

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriVriendelik en AfriForum Netwerk, is baie opgewonde oor die derde jaar wat hierdie kompetisie aan die gang is. “Daar is groot pryse op die spel, maar wat hierdie kompetisie veral uniek maak, is die platform wat dit vir die wenner bied. Die wenner se produk of diens word wyd versprei op verskillende sosiale media platforms, nuuskanale soos Maroela Media en Pretoria FM asook Forum Nuus en Forum Tydskrif,” sê van der Walt.

Sy brei verder uit deur te sê: “Ons wil entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hulle harde werk raak en harde werk is wat dit vat om in Suid-Afrika suksesvol te wees. Ons hoop dat die pryse die wenner en selfs die top 10 ’n hupstoot sal gee met dit waarmee hulle besig is.”

Paul Vogel, operasionele bestuurder by Akademia, vertel dat dié instansie ʼn trotse vennoot is van hierdie Afrikaanse entrepreneurskompetisie wat elke jaar nóg groter en beter raak. “Hierdie kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ʼn publisiteithupstoot nodig het en uitstekende advies van kundiges op die gebied wil ontvang,” sê hy.

Inskrywings open op 15 Augustus en sluit 9 September. Die publiek kan tussen 11 en 22 September 2019 vir die top-10-ondernemings stem. ’n Uitgesoekte paneel beoordeel die top-10 en gee terugvoer tydens sessies. Die wenner word einde Oktober aangekondig. Die kompetisie word tydens middagetes by die Menlyn Boutique Hotel in Pretoria en die Cavalli-landgoed in Somerset-Wes bekend gestel.

Klik hiér om in te skryf.