Entrepreneursfokus: danie rossouw

Aanvanklik uit die Helderberg-omgewing, bevind ek myself nou terug op tuisveld as die trotse stigter en eienaar van The Butcher & Son. Ek stap hierdie onverwagte reis saam met my pragtige vrou, Leana, en ons seun Daniel. Daniel vorm nie net deel van The Butcher & Son se identiteit nie, maar is ook een van die hoofredes waarom ons die besluit geneem het om hierdie geloofsprong te neem.

Die slaghuis is nie net vir my ’n onderneming nie, maar ’n passie en groeiende nalatenskap vir my familie. Regtig gesels met die plaaslike gemeenskap van Somerset-Wes en omliggende gebiede. The Butcher & Son maak grootliks voorsiening vir die Afrikaanse gemeenskap, aangesien ek self Afrikaans is. Dit is vir my belangrik om my erfenis te handhaaf en te verseker dat Afrikaanse tradisies steeds gevier word. Met dit gesê, enigiemand is welkom by The Butcher & Son. So volgende keer as jy kom, kom sê hallo en bring die hele gesin!

Entrepreneurskap is van kleins af by my ingeskerp. My pa is ’n enkelouer, maar het nooit versuim om vir my en my broer die beste te gee nie, maar ons moes self sakgeld verdien. Van my laerskooldae af het ek in die vakansies kreef uitgeduik en dit aan die Pretorianers in Kleinmond se karavaanpark verkoop. Daar het ek ook besef dat ek maklik met mense kan gesels en so het die verkoopgogga my ook gebyt. Ek is baie lief vir die natuur en spandeer ook graag my vrye tyd daar. Ek is mal oor sport soos lyfplankry saam met “die seun” van The Butcher & Son. Ek probeer om vir Daniël die basiese beginsels waarmee ek grootgeword het te leer en dat niks in die lewe gratis is nie – jy werk daarvoor.

Aangesien die onderneming nog jonk is, is dit een van my grootste prioriteite. Dit is belangrik om die meeste (soms al) van my tyd aan The Butcher & Son te wy. Hierdie eerste paar jaar is deurslaggewend vir die bou van ’n sterk fondament en uiteindelik langtermynsukses. Alhoewel my gesin ’n konstante prioriteit bly, het my sport en sosiale lewe ongetwyfeld ’n agterste sitplek ingeneem – vir nou ten minste.

Behalwe om ’n sterk fondament te bou, probeer ons innoverend bly. Dit beteken om die mark te verstaan en nuwe idees bekend te stel wat ons sal help om bo die res uit te staan. Dit verg voortdurende navorsing, om op hoogte te bly van neigings, asook om by meer moderne metodes en prosedures binne die vleisbedryf aan te pas. Ek persoonlik hou daarvan om met unieke resepte en interessante snitte vorendag te kom, byvoorbeeld ons Thor Hammer! As jy meer wil sien, volg ons asseblief op sosiale media (@thebutcherandson_cpt). Ons het alles wat jy moet weet geredelik beskikbaar, insluitend ’n paar voorskoue van wat vir The Butcher & Son oor die volgende paar jaar voorlê!

Die anker wat my voete stewig op die grond hou, is die liefde vir my gesin. My familie, veral my pa, het my geleer dat jy eers jouself moet liefhê voordat jy ander werklik kan liefhê en dien. Hieruit vloei lojaliteit jeens my medemens en die vleisbedryf voort.

Dit is ook die groot rede hoekom ek my slaghuis in Somerset-Wes gevestig het, want ek is lojaal aan my tuisdorp en sy mense. Dit is immers hierdie gemeenskap wat my menswees help vorm het. Harde werk en deursettingsvermoë gaan hand aan hand. As jy sukses in jou onderneming wil behaal, moet jy bereid wees om hard te werk en sodoende sal die produkte en diens wat jy lewer asemrowend wees. My deursettingsvermoë is vanselfsprekend in my slaghuis en selfs sport (roetehardloop, CrossFit, lyfplankry), want as ek eers my kop op ’n blok sit, is dit baie moeilik om my anders te oorreed.

Dit alles vereis natuurlik deurlopende ondersteuning en kundigheid. Die beste besluit wat ek van die begin af gemaak het, was om met die regte span te begin. Stel mense aan wat nie net in lyn is met jou handelsmerk nie, maar ook jou waardes. Laat individue met sekere vaardighede toe om die gapings te vul. Vir my was bemarking een van die min goed wat nie-onderhandelbaar is nie. Aangesien dit my gehelp het om baie vinniger ’n kliëntebasis te bou, en ook om met ’n baie wyer gehoor te kommunikeer. Ek sou sê my grootste “fout” (of les) was om te vroeg te veel skuld op te bou. Ek moes ’n kapitaallening aangaan met die opening van die slaghuis, alhoewel dit my geweldig gehelp het, het dit ook baie druk bygevoeg tydens ’n reeds stresvolle proses.

Ek is regtig lief vir dit wat ek doen en ek geniet dit. Alhoewel uiters uitdagend, is The Butcher & Son net so lonend. As ek hierdie skuif op die ouderdom van 39 kon maak, glo ek werklik enigiemand kan hul entrepreneursdroom bereik deur die regte doel, beplanning en ondersteuning. Laastens, my stukkie raad vir enige entrepreneur wat ’n manier soek om te ontspan … BRAAI! 😉