Die boustene van ’n entrepreneuriese onderneming met Daniël Malherbe

Aan die einde van 2017 het daar in die hartjie van Stellenbosch ‘n digitale agentskap, Lumico, met Daniël Malherbe aan die stuur van sake ingetrek. Dié agentskap, wat nou reeds in sy vyfde bestaansjaar is, fokus op hoëgehalte-inhoudskepping wat deur die strategiese uitvoer van veldtogte op verskeie digitale platforms ondersteun word. Ons het ’n draai by hom gaan maak om meer van sy perspektief op entrepreneurskap uit te vind, asook die aard van die bedryf en raad wat hy moontlik aan entrepreneurs sal kan gee.

Die ontstaan

In 2014 het Daniël en ’n kollega besluit om Media 24 te verlaat en die korporatiewe wêreld vir die entrepreneuriese te verruil. “Ons het albei in Mei bedank en in Junie het ons Lumico begin. Ons het geen eksterne belegging gesoek nie en oor die afgelope paar jaar organies gegroei. Ons was gelukkig dat ons goeie kliënte gekry het met wie ons nou nog ’n pad stap. Dit het vir ons die nodige kapitaal gegee om die besigheid uit te bou tot waar dit nou is.”

Dit is ‘n alombekende feit dat 90% van entrepreneuriese ondernemings ten gronde gaan, maar te midde van hierdie statistiek presteer Daniël se onderneming uitstekend. Hy kyk wel krities terug op die begindae. “As ek nou terugkyk, sou ek aan die begin wou gaan soek het vir mense wat kenners in die veld is en hulle ingetrek het. Jou vermoë om te groei word eksponensieel meer as jy goeie mense om jou het.”

Hy merk ook op dat selfbefondsing sy voor- én nadele het. “Dit gee jou baie vryheid, maar retrospektief sou ek verkies het dat ons eers goeie befondsing van besighede kry wat in ons bedryf speel. Die rede hiervoor is dat ons baie goed moes leer wat ander mense reeds weet. Dit beteken jy groei baie stadiger en maak meer foute as wat nodig is.”

Dag-tot-dag-bestuur

Daniël is vandag drie-en-dertig jaar oud. Behalwe vir die Stellenbosch-kantoor, wat nou dertien werknemers het, is daar ook ’n Pretoria-kantoor met agt werknemers. Volgens hom het sy bestuurstyl sedert die korporatiewe dae baie verander. “My bestuurstyl het oor die afgelope dekade baie verander. Die groot rede hiervoor is nie oor waar ek nou is nie – korporatief of inskoponderneming – maar eerder wie ek is. Ek het baie geleer oor hoe belangrik dit is om die mens te wees wat jy glo reg is, en daardie persoon tenoor almal om jou te wees. Ek is baie strenger met die mense wat van my verwag om op ’n sekere manier op te tree, en ook meer regverdig teenoor die mense wat ek dieselfde meer doen.”

In dieselfde luim vertel hy dat die gewilde besigheidsadvies waarmee hy nie saamstem nie “die Steve Jobs-mentaliteit is, waar swak gedrag of houding geregverdig word omdat hulle glo dat hul werk so belangrik is. Mense maak besighede, en jy moet daardie mense met respek hanteer. Daarsonder boer jy agteruit.”

Talle jong mense kom tans voor ’n baie moeilike besluit te staan wanneer hulle moet kies om óf ’n loopbaan by ‘n korporatief voort te sit, óf om ’n geleentheid by ’n entrepreneuriese onderneming te aanvaar.

Daniël sit gereeld aan die onderhoudvoerder se kant van die tafel. Volgens hom maak kandidate gereeld dieselfde foute. “Die grootste fout wat mense maak is dat hulle dink dat hulle in die onderhoud is om te pitch; hulle wil verkoop, en dit maak hulle onbewus van die kamer. Hulle luister nie om te hoor nie; hulle is daar om hul storie te vertel en goed te lyk. Dit beteken dat hulle nie antwoord wat die onderhoudvoerder wil hoor nie, maar eerder wat hulle dink hulle moet sê.”

Wat hou die toekoms in?

Die vinnig veranderende aard van die mediabedryf veroorsaak gereeld dat agentskappe oor mekaar val om aan die voorpunt van die nuutste tendense te wees. Kreatiwiteit en innovasie is steeds aan die orde van die dag. Dit kan egter oorweldigend raak om in die huidige atmosfeer koers te hou.

Daniël filosofeer só oor die toekoms van media: “As ek na die tendens kyk, gaan ons aanhou om verskriklik baie mense te sien wat inhoud op platforms soos YouTube en Facebook skep. Die mense wat goed is, gaan groot gehore bou, wat beteken hulle word dan die nuwe meningsvormers. Die groep wat daar bo sit en die gesprek dryf, gaan altyd ’n uitgesoekte gehoor wees. Daar gaan net baie meer subgehore wees wat elk hul eie meningsvormers het. Ons beweeg na ’n wêreld waarin ons nie meer kan sê dat daar twee of drie groepe is soos in die verlede nie. Daar gaan nou duisende subkulture in ons samelewing wees, wat almal onafhanklik van mekaar dink en werk. Die tradisionele mediahuise sal vir sommige van hierdie subgroepe waardevol wees, maar daar gaan, en is reeds, baie wat glad nie by die inhoud of styl van die uitgewers aanklank vind nie – en hulle bied ’n groot geleentheid!”

Ondernemings is nie van konstante groei verseker nie en Lumico is geen uitsondering nie. Toe ons Daniël vra hoe hy verseker dat sy onderneming relevant bly, antwoord hy: “Die entrepreneur wil goed in ’n struktuur kry en meer ritmies werk, soos ’n groot besigheid. En die groot besighede wil almal meer soos entrepreneurs voel en werk, maar met gesonde kontantvloei. Wat belangrik is, is wat jy wil bereik. Ek werk om ’n besigheid te bou wat oop genoeg is vir verandering sodat dit altyd soos ’n inskoponderneming voel, maar die onderliggende boustene van ’n gesonde groot besigheid in plek het sodat almal wat daar werk, veilig voel.”