|

Entrepreneursfokus: Hommelbytjies

Hommelbytjies is ’n eksklusiewe reeks babaklere. 

Die naam het sy oorsprong gekry van die eienaar se eerste kleinkind wat ’n woelige babatjie is.

“Ons babaklere is vir mammas wat hulle babas wil uitrus vir ’n spesiale geleentheid of in ’n uitrusting wat effens anders is as die tradisionele klere wat mens in die winkels kry.

Ons reeks is hoofsaaklik aardse kleure en word gemaak van duursame linne, kaasdoek en katoen. Die kleertjies is vir babas van 0–3 jaar.”

AfriForum Sakenetwerk fokus daarop om ’n netwerk te bou met Afrikaanse entrepreneurs van regoor Suid-Afrika. Ons het ’n onderhoud gevoer met Lida Oosthuizen, eienaar van Hommelbytjies. Lees hierdie artikel en vind meer uit oor die hart en siel agter Hommelbytjies.

Wie is die gesig agter die onderneming?

Lida Oosthuizen, ’n trotse ouma, is die gesig agter Hommelbytjies. Ek het twee van my dogters gehelp om klere-ondernemings op die been te bring, so ervaring opgedoen en ook baie mense in die klerebedryf leer ken. Met die geboorte van my eerste kleinkind het ek die geleentheid raakgesien om die trotse eienaar van Hommelbytjies te word.

Wat is die geskiedenis van die onderneming?

Toe my dogter en haar man noem dat hul met ’n gesin wil begin, het dit my laat dink. Ek het net daar besluit om solank met ’n reeks klere vir haar baba te begin. Eerstens het ek besluit om dit baie professioneel te doen en moes ek eers op ’n naam besluit. Hommelbytjies het by my opgekom en ek het aan die werk gespring met die beplanning van die klere. Dit is hoe Hommelbytjies ontstaan het. Die kleertjies wat my kleinkind dra is ’n baie goeie advertensie vir Hommelbytjies.

Is meeste van jul verkope aanlyn of in ’n fisiese winkel?

Deesdae met die internet is dit so maklik om produkte ten toon te stel en te verkoop. My onderneming het besluit om dit aanlyn te doen op Instagram waar die meeste besoekers vir babaklere is. Dit maak net die kommunikasie tussen die kliënt en die vervaardiger soveel makliker, veral as hul navrae het oor die groottes en die kwaliteit van die materiaal.

Wat is uniek aan jou onderneming?

Ons verskaf eksklusiewe babakleertjies. Alhoewel die kettingwinkels ook baie mooi babakleertjies verkoop, is dit nie noodwendig hul fokuspunt nie. Ons probeer juis die aanlyn winkel wees waar jy verseker kan wees dat jy die perfekte pakkie vir jou kleintjie kan kry en ons fokus is net op babas vanaf 1–3 jaar gerig.

Wat het jy die meeste geniet toe jy met jou onderneming begin het?

Ek het nog altyd ’n passie vir naaldwerk gehad, maar het nog nooit my aandag op babaklere gevestig nie. Dit was vir my ongelooflik lekker om patrone vir babaklere op te spoor wat bietjie anders is as die gewone babaklere wat in die kettingwinkels beskikbaar is. My grootste uitdaging was dan om die geskikste materiaal te kry vir dié spesifieke patrone. Deesdae is my lekkerste uitstappie om in my vrye tyd in materiaalwinkels losgelaat te word en te kyk watter materiaal beskikbaar is vir my babaklere en dan die eindproduk te sien ná die kleertjies klaar gemaak is.

Die grootste struikelblok en hoe ons dit oorkom het.

Die grootste struikelblok in my onderneming is om seker te maak dat die patrone wat ons bestel wel ooreenstem met die groottes van die kettingwinkels. Meeste van die patrone wat ons gebruik kom van Europa af en stem glad nie ooreen met Suid-Afrika se groottekaart nie. Ons het dit oorkom deur ’n paar kledingstukke van mammas met babas te leen en ons patrone daarop te pas. Dit was vir ons ’n groot uitdaging om ons patrone aan te pas, maar het dié struikelblok oorkom.

Dink jy dis moontlik om op enige ouderdom die skuif te maak van voltydse werknemer na entrepreneur?

Ek het op 60 ouma geword van my eerste kleinkind wat sommer ook model speel vir my onderneming. Ek is baie bly ek het die skuif gemaak om ’n entrepreneur te word. Dit hou jou jonk en op jou tone. Dit is net weereens ’n bewys dat jy op enige ouderdom iets nuuts kan aanpak.

Watter drie woorde beskryf die emosie wat jy voel vir jou onderneming?

Die drie woorde is “lief vir mense”. Ek is ’n mensemens en is altyd bereid om mense te help en hier en daar ietsie verniet weg te gee of afslag op my kleertjies te gee. Met die onderneming het ek ook baie dierbare mense ontmoet met wie ek nog ’n lang pad gaan stap. Hommelbytjies skep ook werk vir mense wat ’n ekstra geldjie nodig het na Covid-19.

Gaan loer gerus na Hommelbytjies se klerereeks op Instagram onder die naam Hommelbytjies.