Entrepreneursfokus: Joshuan en Desiré Hattingh – Staalwol Baardolie

Staalwol Baardolie is nie sommer net enige baardolie nie. Hul maak baardolie vir geharde staalwolbaarde – vir mans wat hul baarde goedversorg en welig verkies. Volgens die eienaars, Joshuan en Desiré Hattingh, is ’n man se baard immers die “toeriste-attraksie van sy gesig”. Staalwol Baardolie maak gebruik van die beste bestanddele om seker te maak hul kliënte se baarde is altyd in topkondisie.

Verder is die handelsmerk ook daarop gefokus om die gemeenskap te ondersteun. Met elke aankoop van hul produk maak hul ook ’n skenking aan AfriForum se Slagoffer Ondersteuningsfonds. Dié inisiatief het begin omdat Joshuan en Desiré al meer en meer bewus geword het van die effek van plaasmoorde en plaasaanvalle in Suid-Afrika. Joshuan se gesin is ook plaasmense en hul ken menigte slagoffers van plaasaanvalle. Dit het swaar op hul harte gedruk dat hul ook op een of ander manier ’n bydrae moet lewer, en so, saam met hul baardolie, het die plan gestalte geneem.

Vir Joshuan en Desiré was dit ’n groot uitdaging om hul eie onderneming te begin – veral in ’n mark met ander groot handelsname. Beide glo dat die enigste sleutel tot sukses is om nie terug te staan vir die uitdaging nie. Hul filosofie is dat “geldmaak” nie jou onderneming se eerste prioriteit moet wees nie. Dit is eerder belangrik om ’n gemeenskap te bou wat uiteindelik jou onderneming sal ondersteun en dan goeie kwaliteitdiens en -produkte te lewer. Indien mens dit doen, sal die onderneming na gelang van tyd ’n sukses wees. Desiré haal die aanhaling van Richard Branson aan: “If somebody offers you an amazing opportunity but you are not sure you can do it, say yes – then learn how to do it later!” Selfs al is dit moeilik om jou eie onderneming te begin, is dit belangrik dat entrepreneurs die geleentheid aangryp en in die proses leer.

Met Staalwol Baardolie wat van krag tot krag gaan, is hul volgende uitdaging om ’n groter verskeidenheid produkte in die mark te bekend te stel. Tans het hul slegs een geur beskikbaar, Die Merino, waarvan die fondse aan AfriForum se Slagofferondersteuningsfonds geskenk word. Die oogmerk is om uiteindelik elke geur aan ’n ander AfriForum-fonds op te dra – dus kan die kliënt as ’t ware kies aan watter fonds hul geld geskenk moet word. Verder beplan hul om ook ’n klerereeks onder die handelsmerk te begin en daar is ook beloftes van iets vir die dames in die toekoms.

 

 Joshuan en Desiré, die eienaars van Staalwol Baardolie