Vrouemaand: Magies vol liefde

AfriForum Sakenetwerk fokus hierdie maand op vroue-entrepreneurs.

Marita Bezuidenhout is die eienaar van Magies vol Liefde en deel bietjie meer oor haarself en haar besigheid.

Marita is ‘n trotse mamma van drie besige lyfies, en ’n vrou vir ’n ongelooflike man. Sy het reeds in 2014 in haar eie kombuis met haar eie babakosreeks afgeskop en vandag het hulle ’n lekker fabriek waar hulle hul reeks vervaardig.

“Dis regtig ’n passie wat in my hart gegroei het soos wat ek vir my eie kinders babakos gemaak het. Die fondasie van goeie, gesonde eetgewoontes begin alreeds by daardie eerste happie en ek wil waarlik mammas help wat nie tyd het om hulle eie babakos te maak nie.”

Sy beskryf haar produk en diens soos volg:

  • Dis om daardie onseker mamma te help met baba se eerste ervaring van vaste kos.
  • Dis om ’n mamma te troos wat dalk moedeloos is.
  • Dit is hul passie om ’n verskil te maak in mammas se lewens.

Die manier waarop entrepreneurs mekaar in moeilike tye kan bystaan is vir Marita baie motiverend. “Dit is so lekker om te weet dat ander kleinsake-eienaars jou onderneming ook koester en dat baie van ons deur dieselfde uitdagings gaan,” sê Marita.

“Ek dink entrepreneurs het in die laaste paar maande baie moeilike situasies deurstaan en die eienaars van klein ondernemings sal veg vir mekaar. Dit motiveer my om deel te vorm van so netwerk.”

Magies vol liefde het met babatreetjies gegroei en die Here tydens elke tree vertrou. Tans voel dit of hulle al ’n 100m-naelloop in die Olimpiese Spele hardloop, sê Marita. Magies vol liefde se doelwit is om vertroue op die Here te plaas in elke faset van die besigheid. Hul doelwit bly om ’n verskil te maak in elke mamma en baba se lewe.

Marita beskryf die grootste les wat sy geleer het: “Daar kom baie storms oor jou lewenspad en jou pad as entrepreneur. Ek het geleer om op te staan vir wat reg is, al is dit hoe moeilik, al voel dit of jy alleen staan. Op die einde van die dag ken die Here ons harte en Hy sal altyd alles ten goede laat meewerk.”