Entrepreneursfokus: Trudie Kasselman – Ruah

Trudie Kasselman van Kasselhof-landgoed het nog altyd daarvan gedroom om ’n veld vol laventel en roosmaryn voor haar plaashuis te sien. Na ’n besoek aan Frankryk het hierdie droom ’n werklikheid geword en so ook die droom om haarself as entrepreneur te vestig. Die droom is verwesenlik in die vorm van ’n eg Suid-Afrikaanse onderneming, Ruah. Ruah verskaf ’n reeks produkte wat verryk is met Ruah se essensiële olie van roosmaryn en laventel, wat hulle self verbou en distilleer op die landgoed.

Januarie 2007 was ’n mylpaal vir die onderneming, want die eerste laventel en roosmaryn was gereed vir oes. Die plantmateriaal is geoes en daarna is die eerste essensiële olie daaruit gedistilleer – net so was die koeël deur die kerk.

Ruah het hande gevat met ’n laboratorium in Johannesburg om die lyfsorgreeks te ontwikkel wat hoofsaaklik verryk is met organiese, landelik gedistilleerde essensiële olies. Tesame met die lyfsorgreeks verskaf Ruah ook verskeie ander kruieprodukte vir die kombuis, soos kruie-olies en asynsoorte, kruiesakkies en kerse.

“Ruah is geskoei op ’n groot liefde vir die Afrikaanse digkuns, kruie in hulle natuurlike vorm en die idee om vrouwees te koester.”

So beskryf Kasselman die trots, eg Suid-Afrikaanse produkreeks wat diep spore trap in al die bogenoemde kategorieë.

Die weduwee se kruik vol Ruah-geure het nie leeg geloop nie en die onderneming moes reeds in April 2008 ’n fabriek en vertoonkamer oopstel.

Die betrokkenheid van mense vanuit die direkte gemeenskap is die punt waarom die besigheid se hart draai. Die bekwame Ruah-span het alles by die fabriek kom leer en al die nodige vaardighede is noukeurig oorgedra vanaf Kasselman en haar man na die res van die span.

Wanneer dit kom by bemarking van die produkte, word dit gou duidelik dat mens eers moet kruip voordat mens kan loop. Toe Ruah nog net kon kruip, het Kasselman en haar ma, Rina, van die een uitstalling na die volgende gegaan en die produkte verkoop en bemark. Noudat Ruah kan loop, gebruik hul sosiale media, ’n aanlyn winkel en hul eie ambassadeurs om die produk te bemark en te verkoop.

“Ruah is soos om asem te haal, om te leef, om te ruik. Essensiële olies stimuleer hierdie kragtige sintuig. Dit is bekend dat die geure wat ons ruik of ervaar ’n groot invloed het op hoe ons voel.”

Vir Kasselman is dit belangrik om deel van die reukervaring te wees deur essensiële olies van hoë gehalte te lewer wat die gedeelte van die brein wat emosies, gevoelens en herinneringe oplewer, met groot trefkrag raak.

Wanneer die gemoed soms laag is by die Ruah-span, word hul daagliks gemotiveer deur die gedagte dat Ruah deel van hul menswees is en dat om met geure te boer werklik ’n voorreg is.

Vir enige iemand wat graag hul entrepreneurskoene wil aantrek, sê Kasselman dat mens moet toelaat dat jou besigheid saam met jou groei, nie te vinnig nie en ook nie te veel op een slag nie. Doeltreffende beplanning is ook die veters wat jou entrepreneurskoene styf aan jou voete sal hou.

Die geur van Ruah gaan selfs wyer trek, met ’n herbekendstelling van die handelsnaam in 2020 waarna ons kan uitsien. Trudie Kasselman is ’n dromer op pad na ’n groter toekoms. As jy droom van lekker geure, kruie van hoë gehalte of net iets waarmee jy jou vrouwees kan koester, dan is Ruah jou volgende werklikheid.